Die sluitingsdatum vir hierdie vakature is verby en aansoeke word nie meer ingewag nie.
Gemeenteprofiel
NG Vryburg-Wes is in die Noordwes-Provinsie. Ons gemeente bestaan uit 334 belydende en 83 dooplidmate met ruimte vir groei. Binne ons gemeentegrense is ’n aftree-oord (Rusoord) en dienssentrum (Martie du Plessis) vir bejaardes. Lidmate is versprei oor alle ouderdomsgroepe.
Vryburg-Wes is ’n gemeente wat glo dat die Bybel die onfeilbare Woord van God is. Ons glo vas in die Opgestane Here Jesus! Ons wil graag die voorbeeld van ’n heilige, gehoorsame en toegewyde lewe volg wat Christus vir ons daargestel het.
Leraarsprofiel
Vryburg-Wes sien reikhalsend daarna uit om ’n leraar te ontmoet wat dinamies en energiek is. ’n Kind van God in ’n diep afhanklike verhouding met Jesus. ’n Herder wat onder leiding van die Gees en sy/haar gawes uitstekende en gesonde menseverhoudings kan bou en koinonia bevorder. Ons sien ons leraar as iemand wat ’n gedissiplineerde en gesonde lewenstyl kan handhaaf en vaardig is om konflik te hanteer. Goeie kommunikasievaardighede sal ’n groot aanwins wees.
Die leraar wat beroep word na NG Vryburg-Wes moet liefde uitstraal. Ons gemeente het ’n moeilike pad geloop en beleef tans groot uitdagings. Ons wil graag met deernis en bewese bedieningservaring in die plattelandse konteks begelei word deur ’n leraar wat geestelik volwasse en ’n opgewasse sterk leier is.
Is u ’n ware gemeenteleier wat goeie skakeling tussen NG gemeentes in Vryburg kan bevorder, asook saam met die ander gemeentes op weg kan wees na moontlike toekomstige samewerking? Daarom verwag ons dat u nuut moet dink oor gemeente-wees op die platteland, maar ook respek toon vir ons gereformeerde karakter en die tradisie van ons gemeente. Ons visie: Jesus-liefde-in aksie.
Spesifieke pligte
Ons wil graag ’n leraar beroep wat erns maak met die pligte soos omskryf in Artikel 9 van die Kerkorde en ook getrou is aan sy/haar legitimasie-eed.
- Goeie aanbieding van eredienste vir oud en jonk, is van kernbelang. Die Skrif moet sentraal wees, die boodskap gebou op goeie hermeneutiek, wat relevante vraagstukke aanspreek. Skrifgetroue en Geesvervulde prediking wat oud en jonk inspireer en prakties leefbaar is.
- Ons verwag van u om die bediening van die gemeente te ontwikkel met ’n fokus op maandelikse Bybelstudie en/of selgroepbedienings.
- Die vestiging van kwartaallikse wyksbyeenkomste en/of bidure. Die doel is toerusting en geestelike groei.
- Pastorale versorging van ons lidmate is krities belangrik veral ten opsigte van huisbesoek en gereelde sieke/hospitaalbesoek. Die doelwit is verhoudingsbou en aanvoeling vir die lidmaat se unieke uitdagings in ons konteks.
- Leraar moet gemaklik wees om multimedia en ander sosiale platforms te kan benut.
Moenie moedeloos wees omdat u nie aan al die vereistes voldoen nie. Ons droom baie groot en glo en vertrou vas dat die Heilige Gees u sal roep om aansoek te doen vir hierdie pos met die moontlikheid om verleng te word.
Vergoeding
Die kerkraad het besluit om die strukturering van die pakket teen die agtergrond van Artikel 13/Bepaling 13/Reglement 17 van die Kerkorde (2022) met die suksesvolle kandidaat te onderhandel. Vir meer besonderhede kan u gerus navraag doen.
Aansoeke
Ons nooi alle gelegitimeerdes van die NG Kerk (veral leraars wat meer as vyf jaar en/of brugervaring het). Emeriti word ook hartlik uitgenooi veral as u ondervinding het met plattelandse bediening en aanvoeling het vir gemeentebou. Stuur asseblief vir ons ’n volledige CV (drie bladsye), wat u persoonlike profiel (Myers-Briggs) asook vorige bediening en werksgeskiedenis volledig uiteensit. Kan u asseblief in die dekbrief vir ons uiteensit waarom u belangstel in hierdie pos en watter gawes, talente en vaardighede u hier kan kom uitleef? Sluit asseblief ook ’n foto van uself en die volledige kontakbesonderhede van drie onlangse referente in. Verskaf ook asseblief u ABR-kode.
Kandidate op die kortlys moet beskikbaar wees vir ’n onderhoud en preekbeurt. Ons wil u graag aan die gemeente voorstel.
Stuur aansoeke aan die voorsitter van die kerkraad/pre-advies per e-pos: ngvryburgwes@gmail.com voor 31 Maart 2024. Aanstellingsdatum is 1 Junie 2024.
Navrae
Rudolph du Plooy (konsulent) 082 419 5441.
Freduan Smit (leierouderling) 082 406 9071.
Die kerkraad hou die reg voor om nie noodwendig ’n aanstelling uit die bogenoemde aansoeke wat ontvang word te maak nie.
