Die sluitingsdatum vir hierdie vakature is verby en aansoeke word nie meer ingewag nie.
In volle afhanklikheid van die Here bied die kerkraad van NG Basileia-gemeente (dolerend) ’n voltydse onbepaalde medeleraarspos aan gelegitimeerdes met volle ampsbevoegdheid.
Posbeskrywing: Hierdie voltydse leraarspos bied die geleentheid aan ’n entoesiastiese leraar om ’n beduidende bydrae te lewer in die uitbou van God se koninkryk in ’n aktiewe, gasvrye, vernuwende en groeiende gemeente met ’n aktiewe kinder- en tienerbediening en sterk omgeebediening in die breër gemeenskap asook op ekumeniese gebied.
Gemeenteprofiel: Basileia-gemeente is ’n dolerende gemeente in die Oostelike Sinode van die NG Kerk en is geleë in Emalahleni (Witbank), Mpumalanga. Die gemeente bestaan uit 1 033 belydende en 323 dooplidmate en word deur twee voltydse leraars en verskeie bedienings bedien. Basileia-gemeente het ’n koninkryksvisie en die Groot Opdrag van Jesus om die Goeie Nuus met die wêreld te deel is ononderhandelbaar. Die jaarlikse begroting van die gemeente word deur lidmate se dankoffer voorsien en dit wat meer as genoeg is, word weggegee en bestee aan projekte soos die Heilige Gees ons lei. Vir Basileia-gemeente is die Bybel die enigste ware, onfeilbare en geïnspireerde Woord van God aan mense. Die gemeente het ’n vernuwende spiritualiteit en is nie eng tradisioneel nie. Ons visie “Ons leef Geesvervuld na Bo, Binne en Buite” is die maatstaf waaraan alles gemeet word. Die model van leierskap in die gemeente is dié van spanwerk, medeleraarskap en van ’n vaandeldraer.
Leraarspligte: Die algemene pligte van ’n voltydse leraar, soos omvat in Artikel 9 van die Kerkorde met spesifieke fokus op areas en bedienings soos deur die kerkraad verlang en ooreengekom word.
Leraarsprofiel: Basileia-gemeente het ’n behoefte aan ’n leraar (na gelang van die verandering in behoeftes van die gemeente, sal die aspekte van hierdie profiel ook kan verander):
- Wat ’n wedergebore kind van God is, ’n passie vir Jesus Christus as Here en Verlosser het en Geesvervuld onder die leiding van die Heilige Gees leef.
- Wat ’n gelegitimeerde leraar binne die NG kerk is met volle ampsbevoegdheid, ’n minimum van vyf jaar verwante ondervinding en wat ’n goeie verhouding en samewerking met ’n kollega hoog op die prys stel.
- Wat met ’n vernuwende spiritualiteit verbind is tot die opbou en uitbou van die gemeente en die koninkryk van God.
- Wat beskik oor leierseienskappe en bewese bestuursvaardighede op geestelike en maatskaplike gebied.
- Wat in staat is om leiding te neem by uitreike en pastorale berading binne en buite die gemeente.
- Wat beskik oor digitale, sosiale en ander kommunikasievaardighede om nie net bestaande eredienste en gemeente-aktiwiteite aan te vul nie, maar ook om uit te reik na nuwe soekende, kerklos en kerklose mense.
- Wat beskik oor die ondervinding om aan die hoof te staan of leiding te neem by die volgende projekte en bedieninge in die gemeente:
- Die geestelike begeleiding en geloofsvorming van kinders en tieners tot met die jaarlikse uitreik en belydenisaflegging.
- Betrokkenheid by kinderhuise in die gemeente.
- Bediening van die naskoolse jeug tot Millenniums.
- Geloofsvorming in gesinsverband.
- Volhoubare instelling en ontwikkeling van klein- en dissipelskapgroepe.
Voornemende aansoekers word verwys na Basileia-gemeente se werksaamhede en besonderhede op die webwerf: www.bgkerk.co.za
Vergoeding: Volgens sinodale riglyne en skaal. ’n Pastorie word voorsien.
Diensaanvaarding: Die aanvangsdatum van die pos is DV 1 Oktober 2024. Na gelang van ’n leraar se familieverpligtinge kan aanpassings aan die aanvangsdatum onderhandel word.
Aansoekprosedure:
- Aansoeke moet vergesel word van ’n vier bladsye (12 punt font, enkellynspasiëring) CV wat ’n motivering vir die aansoek insluit. ’n Aansoekvorm met ’n volledige advertensie en beskrywing van die pos sal dan voorsien word. ’n Kort video (5 min) waarin jy jouself, jou passies en bedieningservarings, jou siening van kerkwees, die Bybel en die pad wat die Here en die Heilige Gees op die oomblik met jou stap met ons deel. Name en kontakbesonderhede van drie onlangse verwysings en elektroniese Youtube-skakels na drie onlangse preke wat jy gelewer het.
- Die aansoek moet per e-pos aan me Martelize Bouwer gestuur word na: kerk@bgkerk.co.za en haar teen 31 Mei 2024 bereik. Vir telefoniese navrae kan die kerkkantoor weeksdae tussen 08:00 en 12:00 gekontak word by 013 697 4449.
- Kandidate op die kortlys moet op eie koste beskikbaar wees vir ’n onderhoud en/of erediensbeurt.
- Deur die indiening van die CV gee die kandidaat toestemming dat die inligting soos in die CV vervat onderworpe is aan die terme en voorwaardes van die POPI-wetgewing.
- Die Pre-advieskommissie en die kerkraad van Basileia gemeente behou die reg voor om nie te beroep of ‘n aanstelling uit die aansoeke te maak nie.
Kontakpersoon: Ds Marius Nel (082 327 7425).
Kantoornommer: Me Martelize Bouwer 013 697 4449 (Maandag tot Vrydag 08:00-12:00).
