Heelwat van die NG Kerk in KZN se vennote in ander kerke het by die sinodevergadering wat van 4 tot 6 Junie in Pietermaritzburg plaasvind, kom inloer en groeteboodskappe oorgedra, berig Lambert Jacobs.
Twee van die Reformed Church in Africa (RCA) se leraars het aan die vergadering deelgeneem. Ds Akash Sirpal is leraar van die RCA Jeshurun en skriba van die RCA Sinode. Hy is reeds 14 jaar in die bediening en kom uit ’n Hindoe-agtergrond. Saam met hom was ds Wessel Cronje, vir 17 jaar al leraar van die RCA Emmanuel en tans assessor van die RCA Sinode.
Van die VGK in KZN het dr Nkosinathi Mbatha ’n groeteboodskap gebring aan die sinode. Hy het vertel hoe sy oupa al evangelis van die NGKA was, daarna sy pa ook as leraar van die NGKA en hy toe as derde geslag leraar van die NGKA geword het voordat die VGK gevorm is.
Mbatha het onlangs sy doktorsgraad in Praktiese Teologie verwerf aan die Universiteit van KwaZulu-Natal en is tans moderator van die VGK in KZN.
Pastor Petra Röhrs van die Evangelies-Lutherse Kerk het ’n spesiale boodskap aan die sinode gebring. KZN het talle Duitse gemeenskappe versprei oor die provinsie en daar is goeie samewerking tussen die kerke.
Die deurlopende boodskap was die feit dat die NG Kerk min in getal is en dat dit dringend noodsaaklik is om hande te vat met kollegas van ander kerke in die provinsie.