Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Daar is in die laaste twintig jaar ’n nuwe belangstelling in die bou en stap van labirinte sê ds Fay van Eeden wat ook in hierdie artikel vertel van nuwe moet-staplabirinte. Foto's: Verskaf

Labirinte – ’n uitnodiging om al wandelend te bid


Sedert my eerste ervaring met ’n labirint is ek op soek na nog om te stap. Jy sal verbaas wees hoe baie labirinte daar in Suid-Afrika is, vertel Fay van Eeden. Sy deel ook 12 plekke met moet-stap labirinte in Suid-Afrika.

 

In ’n tyd van verlies het ek my eerste labirint raakgeloop. Ek is op ’n drafstap met ’n klomp emosies die labirint binne. ‘Stap stadig en intensioneel. Een voet voor die ander. Konsentreer op jou asemhaling’, het die priester se woorde van vroeër die dag my gerem. Die paadjie is ongelyk. Soos ek stap vergeet ek van die mense en geraas rondom my. Ek stap stadig, maar voordat ek my kry is ek in die middel van die sirkel. Ek vertoef ’n rukkie in die middel en volg dieselfde paadjie uit, want anders as doolhowe, het labirinte ’n gedefineerde paadjie wat die stapper na die middel neem en weer uitlei.

Dit is moeilik om te beskryf presies wat op die kronkelpad gebeur het, maar ’n halfuur later groet ek die labirint anders as wat ek dit binnegegaan het.

Labirinte word al vir duisende jare deur verskillende kulture gebruik. Uitbeeldings van labirinte dateer sover as 4 000 jaar terug. In Europa en Noord-Afrika is tekeninge van labirinte op rotsgravure en skilderye gevind. Daar is ook verskeie inskripsies wat na labirinte verwys op teëls en munte gevind. Ook in Asië, die Amerikas en Suider-Afrika pryk rotse en geweefde mandjies met soortgelyke uitbeeldings.

Hoewel labirinte al vir honderde jare deur gelowiges gebruik is, is daar in die laaste twintig jaar ’n nuwe belangstelling in die bou en stap van labirinte. Die meeste van hierdie hedendaagse labirinte se ontwerpe word op een van twee klassieke vorms gebaseer. Die sewebaan Kretaanse labirint dateer meer as 3 000 jaar terug en is vernoem na die Mediterreense eiland waar dit na bewering in die Griekse mitologie ontstaan het.

Die tweede is die bekende elfbaan Chartres Labirint wat vroeg in die 13de eeu op die klipvloer van die Chartres-katedraal in Frankryk aangebring is. Daar word vertel dat Middeleeuse Christene hierdie labirint bewandel het om hulleself geestelik te verbind aan familielede wat op die kruistogte was. Vir ander het die stap van hierdie labirint gedien as ’n plaasvervanger vir ’n pelgrimstog na die Heilige Land.

Vandag verstaan en gebruik baie gelowiges labirinte as ’n kontemplatiewe gebed wat al wandelend gedoen word. Dit is simbolies van ’n pelgrimstog en skep vir baie gelowiges die geleentheid en ruimte om van God se teenwoordigheid bewus te word.

Benewens hierdie diep historiese wortels, kan hierdie geloofsgewoonte steeds vir moderne mense van groot waarde wees. Baie gebruik die stap van labirinte vir stresverligting en die bevordering van selfbewustheid, maar labirinte se betekenis lê baie dieper as hulpmiddels tot fisiese of emosionele gesondheid. “Baie mense, soos ek, het ‘misluk’ in sittende meditasie,” sê dr Lauren Artress, die stigter van die nie-winsgewende organisasie Veriditas wat die bou van labirinte bevorder. Volgens Artress “vereis stapmeditasie dieselfde innerlike bewustheid as die sittende soort.” Vandag verstaan en gebruik baie gelowiges labirinte as ’n kontemplatiewe gebed wat al wandelend gedoen word. Dit is simbolies van ’n pelgrimstog en skep vir baie gelowiges die geleentheid en ruimte om van God se teenwoordigheid bewus te word.

Sedert my eerste ervaring met ’n labirint is ek op soek na nog om te stap. Jy sal verbaas wees hoe baie labirinte daar in Suid-Afrika is. The Labyrinth Society se World-wide labyrinth locator is ’n oulike manier om labirinte op te spoor. Dit lys tans ongeveer 6 400 labirinte in meer as 90 lande.

12 moet-stap labirinte in Suid-Afrika

Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit (Wellington)

Jan Marais Natuurreservaat (Stellenbosch)

Green Point Urban Park (naby Groenpunt-vuurtoring)

Siyahamba Labirint (St George’s katedraal)

Nieu-Bethesda Labyrinth (The Gregg Price Art Gallery in Nieu-Bethesda)

The Edge (Hogsback)

The Crystal labyrinth (Barrydale)

Origins Retreat sentrum (Kromdraai, Gauteng)

The Grange (Benoni)

NG Gemeente Stellastraat (Pretoria)

Ha Phororo Youth Retreat Centre (Hartebeespoort)

Sediba Retreat Centre (Hartebeespoort).

Belangrik om te onthou is dat nie al hierdie labirinte openbare ruimtes is nie. Kontak en reël met die instansies voordat jy gaan stap.

Vir dié wat nie kan, of wil, reis nie is daar ook die sogenaamde “vingerlabirinte”. Vingerlabirinte kan van die internet afgelaai word en nooi ’n mens uit om biddend met jou wysvinger na die hart van die patroon te reis. Die interessantste voorbeeld van vingerlabirinte is te vinde op die uitgestrekte moltreinnetwerk in Londen. Tans spog 272 stasies met vingerlabirintplakkate teen die mure en elke stasie se labirint is uniek.

Hoe om ’n labirint te stap

Om ’n labirint te stap is ’n persoonlike saak. Dit verskil van persoon tot persoon. Daar is nie ’n regte of verkeerde manier om ’n labirint te stap nie. Hier is ’n paar voorstelle.

–   Stap rustig terwyl jy fokus op jou asemhaling. Gebruik jou asemhaling om van God se teenwoordigheid bewus te word. Wanneer daar gedagtes by jou opkom laat hulle sagkens gaan.

–   Bid die Onse Vader, ’n psalm of ander heilige teks terwyl jy stap.

–   Oorweeg om met die instap vir jouself te bid en op pad uit vir ander.

–   Jy kan ook oorweeg om te fokus op ’n vraag waarmee jy lankal worstel.

–   Stap met ’n mantra – herhaal die woord, frase of gebed soos jy stap.


Ds Fay van Eeden is predikant van die NG Gemeente Suid-Oos Pretoria.

Hierdie berig is ná publikasie aangepas. – Red. 

No data was found

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.