Die sluitingsdatum vir hierdie vakature is verby en aansoeke word nie meer ingewag nie.
NG Hottentots-Holland Familiekerk is aan die voet van Helderberg in die dorp Somerset-Wes, in die Helderberg-kom geleë. Ons gemeente bestaan uit ongeveer 1 000 lidmate, waarvan 15% jonger as 20 is, 35% tussen 20 en 60 jaar oud en 50% ouer as 60 is. Die dorp brei egter vinnig uit weens die toenemende instroming van nuwe en jonger gesinne met kinders.
Vir ons as Familiekerk is elke lidmaat kosbaar en belangrik. Ons streef daarna om as ledemate van die liggaam van Christus, mekaar, ons gemeente en ons gemeenskap in liefde voluit te dien. Twee voltydse leraars bedien tans ons gemeente. Weens die aftrede van een van ons leraars, sal ’n vakante onbepaalde termyn leraarspos vanaf 1 Januarie 2025 beskikbaar wees.
Die gemeente nooi predikante, wat onder leiding van die Heilige Gees deel wil word van ons Familiekerk, om vir hierdie pos aansoek te doen. In ooreenstemming met Algemene Sinode riglyne bied ons ’n vergoedingspakket aan, wat ’n behuisingstoelaag insluit.
Sleutelverantwoordelikhede van die pos
Aansluitend tot die vereistes van Artikel 9 van die Kerkorde, word die volgende sleutel-verantwoordelikhede beklemtoon:
- Om lidmate deur Woordgetroue, inspirerende en aktuele eredienste toe te rus.
- Om ’n lewenskragtige jeug- en familiebediening uit te bou.
- Om deur ’n toegewyde bejaardebediening, senior lidmate steeds volwaardig deel van ons gemeente te maak.
- Om die betrokkenheid van gemeentelede in ’n verskeidenheid van diensgroepe, met entoesiasme aan te moedig en te ondersteun.
- Om ons gemeente se betrokkenheid in die breër gemeenskap uit te bou.
’n Posbeskrywing vir hierdie pos, asook meer inligting oor ons Familiekerk, is beskikbaar op ons webtuiste by https://www.nghottentotsholland.co.za/.
Aansoek
- U is welkom om u aansoek, vergesel van u CV en verwysings, te stuur na admin@nghottentotsholland.co.za. Navrae kan ook aan hierdie adres gerig word.
- Die SLUITINGSDATUM vir aansoeke is 31 JULIE 2024.
- Sou dit versoek word, moet u beskikbaar wees vir ’n onderhoud by ons kerkperseel te Pleinstraat 20, Somerset-Wes, op ’n datum soos ooreengekom.
- Kandidate wie se name op die kortlys verskyn, mag versoek word om ’n psigometriese toets te ondergaan.
- Neem asb. kennis dat die gemeente die reg behou om nie ’n aanstelling te maak nie.