Die sluitingsdatum vir hierdie vakature is verby en aansoeke word nie meer ingewag nie.
Vakature: Voltydse predikantspos
Sluitingsdatum: 30 September 2024.
Gemeenteprofiel:
Eros is ’n NG gemeente in die stad Windhoek geleë in die buurt Eros (vandaar die naam). Die gemeente is in 1957 gestig en is dus nou 67 jaar oud. Daar is ongeveer 1 000 belydende en 500 dooplidmate met ’n 30% aktiewe koers. Eros-gemeente is ’n stedelike gemeente wat die woongebied Eros, Erospark, Klein-Windhoek en Ludwigsdorf bedien, maar het ook soos die meeste stedelike gemeentes, lidmate buite die grense van die genoemde woonbuurte. Die gemeente is divers in ouderdom, talente, kultuur en vermoë. Daar tans sewe voltydse personeel en twee deeltydse personeel in diens.
Eros-gemeente staan gegrond op die Bybel as heilige en onfeilbare Woord van God. Ons weeklikse ontmoeting tussen God en gemeente op Sondae word beskou as die hoogtepunt van ons week. Suiwer Woordbediening kunstig vertaal vir ’n hedendaagse gehoor gepaardgaande met musiek en sang kenmerk ons eredienste.
Eros-gemeente het ’n sterk jeugbediening wat fokus om ons jong lidmate op hulle vlak te bedien en te leer om God, sy Woord en sy mense lief te hê. Daar is tans twee voltydse jeugwerkers wat onderskeidelik die junior en senior jeug bedien.
Eros-gemeente het ’n aktiewe barmhartigheidsdiens wat bestaan uit ’n onafhanklike organisasie wat liefdadigheidswerk koördineer en liefdadigheidsprojekte oor die hele land bestuur. Daar is tans ’n voltydse projekbestuurder wat die projekte koördineer en bestuur. Die kantoor is gesetel by Eros-gemeente.
Vanuit Eros-gemeente het daar ook twee onafhanklike evangelisasiebedienings ontstaan wat buite Windhoek gesetel is. Een van die twee funksioneer alreeds as ’n volwaardige gemeente met ’n eie gemeenteraad met ’n ondersteunende vertrouensverhouding met Eros-gemeente. Die ander bediening is ’n unieke evangelisasiebediening met spesifieke behoeftes wat Sondae informeel rondom die Woord van God vergader. Eros-gemeente speel ’n aktiewe rol by hierdie laasgenoemde evangelisasiebediening en lei grotendeels die byeenkomste.
Eros-gemeente het ook ’n aktiewe kerkraad (11 lede), Bybelstudiegroep, musiekbediening, vrouebediening, senior burgers en gasvryheidsbediening.
Deel van die visie van die kerkraad is om die gemeente toe te rus vir hulle taak as geroepenes in die wêreld.
Tans het die gemeente geen predikant in diens nie.
Leraarsprofiel:
Die geskikte kandidaat sal ’n besonderse passie en talent vir prediking en toerusting van lidmate hê. Hy of sy sal aan die volgende vereistes voldoen:
- ’n Lewende verhouding met die Here hê met ’n sterk geloofsbasis op die Woord van God.
- ’n Besonderse passie vir suiwer Woordverkondiging hê met genoegsame ervaring van kundige en kunstige Woorduitleg.
- Lidmate kreatief kan toerus as dissipels in ’n veranderende wêreld.
- ’n Sterk gawe vir verhoudingsbou hê en die instrumente van byvoorbeeld huisbesoek en pastorale begeleiding kundig benut, en die gemeente daarin bedien. Goeie menseverhoudings, aanpasbaarheid, toeganklikheid en bou van sterk verhoudings is vir ons baie belangrik.
- Sterk leierseienskappe hê, én goed in spanverband kan saamwerk.
- Betrokke wees in die kerklike en Namibiese gemeenskappe en die gemeente daarin lei en dien.
- Grondige bedieningsondervinding hê en referente kan toon.
Pligte: Soos omskrywe in Artikel 9 van die Kerkorde.
Vergoeding en voordele: Vergoeding volgens sinodale riglyne vir ’n voltydse predikant.
Aansoek:
Indien jy geroepe voel na Eros-gemeente in Windhoek, stuur asseblief die onderstaande aan kantoor@ngeros.org met die subjektitel van die e-pos: “NUWE PREDIKANT”.
- Drie volledige preke gepaardgaande met elkeen se volle liturgiese uitleg en die datum waarop dit gelewer is.
- Agtergrond oor jou huidige bedieningsarea (gemeente).
- ’n Dokument wat jou verhouding met God, jou Skrifverstaan en persoonlike getuienis en belydenis bevat.
- ’n Dokument wat jou gawes, talente, passie, opleiding en vorige werkservaring beskryf, asook jou gesinsopset en enige persoonlike inligting weergee.
- Volledige kontakbesonderhede van ten minste drie referente en jou verwantskap met elkeen kortliks aandui.
Kandidate wat die kortlys haal, moet vir onderhoude en prediking in Windhoek, Namibië beskikbaar wees.
Diensaanvaarding: So gou moontlik.
Navrae: Stuur aansoeke of navrae na kantoor@ngeros.org met “NUWE PREDIKANT” in die subjekveld.
Die kerkraad behou die reg voor om nie ’n aanstelling uit die aansoeke te maak nie.
