Dié advertensie verteenwoordig die standpunte van die adverteerder en nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
Vakature: Voltydse leraar
NG Waterberg is vir 164 jaar al op ’n geloofsreis in afhanklikheid van die Here se leiding, sorg en teenwoordigheid. Die ryk geskiedenis van die gemeente en die kerkgebou laat ons lidmate met ’n verantwoordelikheid om, met entoesiasme, op sy koninkrykswerk voort te bou en deur ons, sigbaar te hou. Ons is nie hier ter wille van onsself nie, maar om in die Here se diens te staan.
“Waar die stroom kom, sal alles lewe” (Eseg 47:9c). Ons wil met hierdie vaste wete, die genade en liefde wat ons nog elke dag ontvang, na ander weerkaats. Ons reik dus ook uit na ander.
Ten einde ons drome vir ons gemeente en gemeenskap te help verwesenlik, het ons tans ’n leraar nodig – iemand:
- wat sy afhanklikheid van die Here uitleef,
- wat leiding kan neem,
- wat die beplanning van nuwe moontlikhede vir groei in Christen- en gemeentewees kan doen en in staat is om mense hierin te laat saamloop,
- wat ’n aanvoeling vir senior lidmate en hulle besondere behoeftes het,
- wat die Woord Skrifgebonde verkondig,
- wat in spanverband kan werk en goeie menseverhoudings kan bou,
- wat huisbesoek as middel gebruik om gemeentelede te ondersteun, te motiveer en entoesiasme te kweek,
- wat rekenaargeletterd is en vaardig is in die gebruik van tegnologie in die erediens en
- wat nie op water hoef te loop nie, maar wat ’n aardse herder is om vir ons te lei tot dankbare verwondering.
NG Waterberg is:
- ’n Plattelandse gemeente met ’n eie, unieke samestelling. Inwoners van twee aftreeoorde in die dorp maak ’n groot deel van ons lidmaattal uit. Dit beteken dat ons sterk klem lê op seniorbegeleiding.
- ’n Gemeente met 675 lidmate en 35 dooplidmate saamgestel uit dorp- en plaaswyke.
- Deel van die Ring van Waterberg wat besig is om in kombinasie met ’n groep NG gemeentes te tree.
- Die eienaar van ’n ruim pastorie op die kerkterrein.
- Nog steeds op ’n geloofsreis. Ons vertrou die Here ten volle en maak staat op sy beloftes.
- Meelewend en ons betrokkenheid word deur verskillende diensrade uitgeleef.
- ’n Feesvierende gemeente. Deelname aan ons tradisionele Dankofferfees is een van die hoogtepunte waar ons blydskap en dankbaarheid uitgestal word.
Stuur aansoeke aan: ngwaterberg@nylstroom.co.za
Van aansoekers sal verwag word om ’n toepaslike vraelys te voltooi wat by die kerkkantoor aangevra kan word.
Aansoeke moet ook die volgende insluit:
- Motivering wat aandui waarom u vir die pos geskik is.
- Curriculum vitae met foto.
- Kontakbesonderhede van drie referente.
- ’n Skakel (link) tot, of opname van, enige van u vorige preke.
Onderhandeling vir totale pakket sal plaasvind met sinodale riglyne as basis. Aansoekers wat op ons kortlys geplaas word, sal genooi word vir ’n onderhoud in Modimolle.
Navrae:
Me Vivienne van der Merwe. Tel: 014 717 3897. Kantoorure: Ma-Vr: 07:15 – 12:30.
Ds Charl Bredell (waarnemende leraar) charl.bredell@gmail.com 082 469 2499.
Sluitingsdatum vir aansoeke: 11 Oktober 2024.
Diensaanvaarding: 1 Februarie 2025 (indien moontlik).
Die kerkraad behou die reg voor om nie ’n aanstelling uit die aansoeke te maak nie.