Tydens die buitengewone sinodesitting van die NG Kerk Vrystaat op 3 Oktober was een van die nuuswaardige uitkomste die besluit om in verband met die Algemene Sinode te bly. Chris de Vries het ’n paar ander vrae aan van die afgevaardigdes gevra. Hy wou hoor …
Kerkbode: Waar het jy Jesus vandag gehoor/ervaar?
Stephan Swart, leraar by Bethlehem-Efrata: Ek het vir Jesus ervaar toe ons as kerkleiers saam gesing en gebid het. Ek het ook Jesus se teenwoordigheid ervaar in die ruimte en geleenthede wat ons vir mekaar geskep het om ons standpunte te lig.
Lunette Basson, leraar by Theunissen-Wes: Die wonder van byeenkomste van gelowiges, en veral predikante, is dat die Here in sy Gees by elkeen teenwoordig is. Ons moet wel die fyn onderskeidingsvermoë hê om te weet wanneer dit my oortuiging is wat ek hoor, en wanneer dit die Gees se stem is. Ek het vir Jesus konstant as teenwoordig by my ervaar. Ek is seker Hy was ook só by elkeen wat in die vergadering nederig na Hom wou luister.
Tys Bruwer, ouderling by Hugenoot-gemeente, Bloemfontein: Tydens die opening. Dit was lekker om as mans en dames so hartlik saam te sing.
Louisa Jansen van Vuuren, ouderling by NG Gemeente Luckhoff: Ekself was deurentyd baie bewus van Jesus en het sy teenwoordigheid ervaar deur die liedere wat ons gesing het – dit was baie spesiaal.
Kerkbode: Wat is vir jou duidelik ná vandag?
Stephan Swart: Dit is vir my duidelik dat daar wel verskille is binne ons sinode, maar ten spyte daarvan is dit duidelik dat die meerderheid van kerkleiers een wil wees en bly.
Lunette Basson: Ons Vader het sy kinders so wonderlik anders gemaak, daarom weet ons dat mense kan en gaan verskil. Wat vir my duidelik is, is dat ons geloof vir ons besonders is en dat ons daarvoor sal baklei, al is dit selfs teen mekaar (want elkeen is ewe lief vir die Here). Die Here bly steeds die groot Regeerder oor ons lewe. Hy lei ons deur sy Gees na wat reg is.
Tys Bruwer: Dit is duidelik dat die groepe verby mekaar redeneer. Elkeen het maar sy eie agenda. Daar is ’n wrok by party mense teenoor die Algemene Sinode. Dit is vir my duidelik dat die kwessie eintlik by selfdegeslagverbintenisse en seksualiteit lê.
Louisa Jansen van Vuuren: Die Vrystaatse Moderamen wil regtig ’n pad van welwillendheid, vrede en liefde met AL die gemeentes en leraars stap. Na my mening word daar beslis voorsiening gemaak vir gemeentes wat hulle na vandag verwyderd van die besluit voel en ander opsies wil oorweeg.
Daar is deernis en respek vir mekaar se sienings en mense is bereid om na mekaar te luister – almal soek opreg na die beste pad vir ons kerk – al verskil dit soms baie.
LEES OOK: Buitengewone sinode: Vrystaters stem vir eenheid ten koste van bevestiging van verbintenisse
Kerkbode: Waaroor wonder jy nou verder?
Stephan Swart: Ek wonder watter impak die sitting op ons toekomstige gesprekke gaan hê. Ek wonder ook of ons hopelik nou sal kan aanbeweeg na ander belangrike temas.
Lunette Basson: Sal ons bymekaar kan staan en ons besluite van 3 Oktober 2024 kan deurvoer, selfs al stem ons nie met mekaar saam nie? Dit, nie eerstens vir onsself en ‘ons’ gemeentes nie, want die gemeentes waaraan ons verbind is, behoort altyd eerste aan die Here. Sal ons by die wysheid van Bo hou, ter wille van die koninkryk van God?
Tys Bruwer: Ek wonder of daar werklik vrede gaan wees. Die besluit is geneem, maar ek is nie oortuig dat almal tevrede is nie. Ons Vrystaters is hardkoppig!
Louisa Jansen van Vuuren: Ek wonder of daar na vandag se besluit nie tog lidmate, gemeentes en leraars gaan wees wat uit verband met die NG Kerk wil tree nie. Alhoewel ek dit sal verstaan en die besluit sal respekteer, sal dit volgens my ’n groot verlies vir die NG Kerk as geloofsgemeenskap wees. Ek bid egter dat ons nog steeds as ’n eenheid ’n verskil kan maak en dissipels van Jesus kan wees.
Ds Chris de Vries is tentmaker by die NG Gemeente Heuwelsig. Lees sy sinodeverslag hier: Buitengewone sinode: Vrystaters stem vir eenheid ten koste van bevestiging van verbintenisse