Eenheid binne die NG Kerk het verdeeldheid getroef toe Vrystaatse sinodegangers gekies het vir “geduld en fyn onderskeiding”, berig Chris de Vries uit Bloemfontein. Maar, die prys was kompromie.
“As enige iemand (of groep) huis toe gaan, en gaan vertel ‘Ons het gewen’, dan het die kerk verloor,” het een van die afgevaardigdes by die afgelope sitting van die tweede buitengewone sinode van die NG Kerk in Vrystaat in ’n stadium laat hoor.
Die Vrystaatse vergadering het op 3 Oktober by Kopano Nokeng buite Bloemfontein plaasgevind. Die openingsteks fokus op Jakobus 1 en 3 (Skenk ons dié wysheid van bo, Here).
Daar is tussen drie opsies rondom die verband met die Algemene Sinode gekies. Voorstel 1 was, in wese, om bande met die Algemene Sinode (AS) te verbreek. Voorstel 2: Om twee sinodale streke in die Vrystaat te word sodat gemeentes kan kies of hulle by die Vrystaat Sinode (VS) geaffilieerd met die AS wil bly, of wil deel word van die VS Sinode wat nie meer in verhouding met die AS staan nie. Voorstel 3: ’n Keuse vir eenheid deur die duidelike stel van standpunte oor sleutelkwessies en herdefiniëring van die verhouding met AS in die lig van hierdie standpunte.
Die voorstelle, asook voorgestelde veranderinge aan die drie opsies, is redelik duidelik en effektief afgehandel, met uitsondering van enkele haakplekke.
“As jy iets op die hart het, moet jy nóú praat”, het ds Jan Lubbe, voorsitter van die vergadering, wat ook voorsitter van die Algemene Sinode is, in ’n stadium gesê. Daar is ruim tyd en voorsiening vir gesprek gemaak. ’n Mens hoor harte. ’n Mens hoor motiewe. ’n Mens hoor binnekamergesprekke oor wat persone by God hoor. ’n Mens sien hier en daar trane – want hierdie gaan ten diepste oor God se mense, na aan ons, en God se kerk, waarvan ons deel is. Namate die motiverings vir die verskeie standpunte inkom, word ’n gematigde middelstem weer en weer gehoor. Dit voel of die vergadering begin beweeg in ’n rigting, maar ook nie … Uiteindelik, ná 16:00, die beplande afsluitingstyd, word die vergadering ’n oomblik van stil gebed gegun voor die stemproses.
Die stemuitslae lyk as volg:
Voorstel een: 127 vir uittrede uit AS.
182 teen uittrede met AS.
Voorstel 2: 102 stemme vir twee sinodale streke in die VS.
206 stemme sê nee vir twee sinodes.
Voorstel 3: 181 stemme vir eenheid, duidelikheid en herdefiniëring.
129 teen.
Die besluit se gewig lê by die keuse vir eenheid. Maar, om eenheid te behou, is daar ’n kompromie. “Die NG Kerk Vrystaat erken dat daar onder ons verskillende sieninge oor selfdegeslagverbintenisse as ’n alternatiewe vorm van ’n permanente verbintenis tussen twee persone bestaan, en ons versoek daarom ter wille van die eenheid van die NG Kerk in die Vrystaat, leraars om nie self hierdie verbintenisse te bevestig nie,” luidens die besluit.
Die implikasie vir leraars wat wel bevestigingswerk vir paartjies van dieselfde geslag behartig, is dié versoek: Moenie. Die keuse bly egter die kerkraad en leraar s’n.
Koppe en gebede word vir oulaas saam gesit: Wat nou? Wat van die gemeentes wat voel dat hulle nie saam met hierdie besluit kan gaan nie?
Daar is opsies: Die moderamen het aan vier moontlike “welwillende weë” gedink, en die aanvoorwerk daarvoor is gedoen. Gemeentes moet op die ou end vry kan wees in hulle oortuiging en posisionering, en daarmee sal die VS moderamen en sinode help.
Ter wille van eenheid
Die volgende dag praat Lubbe op die radio. “Ter wille van die eenheid van die NG Kerk in die Vrystaat, en dat daar tussen ons ordelike reëlings hieroor is, het die vergadering uiteindelik versoek dat predikante (wat amptelike bevoegdheid het om selfdegeslagverbintenisse te bevestig) dit nie sal doen nie,” het Lubbe Vrydagoggend (4 Oktober) in ’n onderhoud op RSG verduidelik. “Die besluit het gelui, dat hulle nie self selfdegeslagverbintenisse sal bevestig nie. Dit is ’n versoek, niemand word gedwing nie, maar hier is ’n versoek ter wille van ons eenheid.”
Lubbe het in dié onderhoud die sinodesitting beskryf as ’n “oop vergadering, alle standpunte is gestel, daar is heeltyd gevra: Kan ek begrip vir die ander persoon hê?”
Hy het bygevoeg: “Ons het gesê daar is ’n verskeidenheid van sieninge oor selfdegeslagverbintenisse en dat ons om daardie rede ook met mekaar hier in die Vrystaat omsigtig wil omgaan.”
In aanloop tot die eendagsaamtrek het dr Leon Foot die vergadering as ’n waterskeidingsmoment beskryf. “Vir die afgelope ses dekades, sedert 1962 – toe die destydse vier NG kerke verenig het in ’n Algemene Sinode – was die NG Kerk één. Die besluite van hierdie buitengewone sinodesitting sal bepalend wees vir daardie eenheid oor die volgende dekades,” het Foot, die skriba van die streeksinode, in die voorwoord tot die agenda geskryf.
Daardie eenheid het bly staan, maar nie sonder toegewings nie. Die NG Kerk Vrystaat “bevestig (dat) ons daarom geroep is om geduldig en met fyn onderskeiding van waarop dit werklik aankom, saam met mekaar (sal) soek na die lig van die Skrif en die boodskap van God daarin aan ons, sy kerk …” luidens ’n deel van die beskrywingspunt wat uiteindelik deur afgevaardigdes aanvaar is.
- Lees die volledige besluit hieronder en hou Kerkbode dop vir meer beriggewing oor dié sinode.
- Ds Chris de Vries is tentmaker by die NG Gemeente Heuwelsig en deelnemer aan vanjaar se Slypskool vir Skrywers
Dis ñ fake humanistiese eenheid. Bybelse eenheid is eenheid in Bybelse waarheid. Die “kompromie” is on-Bybels. Oor sake wat God duidelik aanspreek in die Bybel, onderhandel of beding Christene nie kompromieë nie.
Henrietta, stem 100% met jou saam. Dat teoloë in die openbaar so teen Bybelse waarhede kan saamtrek is absoluut skokkend! Hierdie is “eenheid” in misleiding. Hoop maar net ons gemeente doleer.
Wanneer die Sinode nie eens onder mekaar kan ooreenstem watter standpunt ingeneem moet word wat volgens die Bybel reg is nie en hul laat lei deur die wêreld asook emosies dan voorspel ek nog heelwat probleme en twis vir ons kerk.
Wat ons nou nodig het is ‘n besliste sterk standpunt teen dieselfde geslag verhoudings, van die ontstaan van die mens in Genesis het God nie bedoel dat dit so moet wees en ‘n besliste NEE is die enigste uitkoms. God is ‘n God van liefde, dus ons as Christene mag nie hierdie mense veroordeel nie, maar soos enige ander sonde moet ons net die sonde veroordeel, m.a.w. hulle mag nie die kerk geweier word nie en hulle moet oorreed word om van hulle sondige weg afstand te doen net soos enige iemand ander wat ook sondig.
Hoe baie ookal met my gaan verskil, God het nie die mens so gemaak dat hy “anders” is, in aanhalings tekens nie, dis ‘n keuse wat die mens self gemaak het om so te wees en of huislike omstandige asook gebroke verhoudings wat hom/haar die weg laat inslaan het.
Ek dink Die Kerkorde sal hersien moet word oor die mag en pligte van die Algemene Sinode. Daar is ‘n teenstrydigheid. As die Algemene Sinode ‘n besluit wil neem wat tot groot verdeeldheid lei hoef hy nie ‘n enkele gemeente te raadpleeg nie. As ‘n gemeente agv die besluit afstigting oorweeg moet elke lidmaat geraadpleeg word en het elke enkele lidmaat vetoreg teen die besluit.
Onseker oor twee Bybel Hoofstukke:
Die Taakspan van die A S verklaar in sy inligtingstuk van 48 bladsye as volg: “Na aanleiding van Romeine 14 en Handelinge 15, kan ons die Kerk gerusstel dat die 2019 besluit ‘n Bybelse manier van besluit is. Die besluit is gebalanseerd saamgestel en is daar seker gemaak dat niemand aanstoot kan neem nie en is daar seker gemaak dat voorstanders sowel as teenstanders veilig kan voel op die gesamentlike reis voorentoe. Ek sal dit waardeer as iemand vir my SGV’e uit gemelde twee Hoofstukke kan regverdig. In Livitikus en Romeine spreek is die Bybel baie duidelik oor SGV’E die Bybel se nee, die AS se ja, wie is reg, vir my is daar net een antwoord.