Die sluitingsdatum vir hierdie vakature is verby en aansoeke word nie meer ingewag nie.
Vakature: Voltyds-onbepaalde termynpos: Leraar/Diensleraar
’n Nuwe seisoen, ’n VARS bloeisel van genade-groei begin met hierdie pos wat NG Meerensee biddend bekendstel. Dalk is dit ook jou seisoen!
WAAR IS ONS? Weg van koue vaal winters en stadsverkeer, aan die Noordkus van Zoeloeland. Ons geniet die tropiese natuur tussen see, meer en bos. Wens jy vir meer mooi dae per jaar in die buitelug? Avontuurlustigheid heers hier en die buitelewe is baie toeganklik vir dié wat wil. Pragtige strande en immergroen natuur bied die voorreg om jou kreatiewe denke te laat vloei of net te wees.
WIE IS ONS? Hier is ’n bediening so VARS en lewendig soos ons mense en omgewing. NG Meerensee het ’n vriendelike warm karakter, ingestel om mense welkom en veilig te laat voel.
Ons is opgewonde om te beleef hoe die Here ons wil vorm rondom 2025 se gemeentetema:
“VARS GENADE vir almal”:
- In die voetspore van Christus glo ons in die skep van ’n geestelike tuiste waar almal omhels word. Jóú vermoë om met mense van alle ouderdomme en agtergronde te skakel is van onskatbare waarde.
- Ons koester geestelike groei en aktiewe gemeentebetrokkenheid by ons verskeie bedienings.
- Die styl van ons eredienste getuig van die rustigheid en gemak van ons omgewing.
LERAARSPROFIEL: Saam met jou en jou gawes wil ons gemeente in ’n span werk en kreatief dink oor die bediening.
- Jy moet voldoen aan al die vereistes van Art 6 (NG KO 2023).
- Pligte soos vervat in Art 9 (NG KO 2023).
- Minstens vyf jaar bedieningservaring.
- Saam met ons raak jy opgewonde oor nuwe moontlikhede vir die navolging van Christus. Waar nodig gee jy dapper leiding, maar is ook bereid om leiding te aanvaar.
- Iemand wat eg vanuit innerlike oortuigings na buite leef en saam met ons die lewe kan geniet, maar ook broosheid kan wys in stukkende tye.
- Help ons voortdurend uitkyk na nuwe, VARS kreatiewe uitdrukkings van God se genade wat ons lei tot aanbidding, lofprysing en diensbaarheid.
SLUITINGSDATUM: 8 November 2024.
VERGOEDING: Onderhandelbaar volgens sinodale skaal met voordele. Geen pastorieverblyf beskikbaar nie, maar behuisingstoelaag en ’n kantoor by die kerk word aangebied.
DIENSAANVAARDING: Verkieslik 1 Februarie 2025 (onderhandelbaar).
ENIGE NAVRAE: Ds George Matthee // 073 356 8360 // gehmatthee@gmail.com
Dawie Augustyn // 083 228 3630 // info@artyard.co.za
Stuur jou CV (drie bladsye of minder), die voltooide vraelys (beskikbaar by die kerkkantoor), en kontakbesonderhede vir drie referente aan ngmeerensee@absamail.co.za.
Die kerkraad behou die reg voor om nie te beroep nie.