Dié advertensie verteenwoordig die standpunte van die adverteerder en nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
Vakature: Voltydse leraarspos
Durbanville Gemeente het in 1826 ontstaan as ’n gemeente waar reisigers, wat op pad was na die Kaapse mark, langs die fontein kon ontspan, rus en aanbid.
Amper 200 jaar later is die gemeente se visie om ’n oase te wees vir mense wat op ’n geloofsreis is en wat hier ’n ontmoeting met God en met medegelowiges het, wat hulle versterk en in staat stel om verder te reis en diensknegte van God se koninkryk in die wêreld te wees.
Daarom is die gemeente se roeping:
Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld.
Predikant se profiel:
’n Predikant wie se preke en geestelike begeleiding goeie teologiese begronding, kontekstuele relevansie en geestelike diepte het, wat getuig van ’n deurleefde spiritualiteit.
Met Artikel 9 van die Kerkorde as basis, word die volgende fokusse verlang in hierdie pos:
- 1. Verhoudings
’n Predikant wat daarop gerig is om onderlinge verhoudings in die gemeente te versterk. Die predikant sal daarop fokus om gemeentelede in kleiner en groter groepe bymekaar te bring, sodat gemeentelede kan groei in hulle naasteliefde en verbondenheid aan mekaar.
Deur saam om tafels bymekaar te kom, saam fees te vier by kerklike feeste, saam om die Woord te vergader en saam betrokke te raak in die gemeente, word ’n gevoel van samehorigheid (“belonging”) en gemeenskap van gelowiges bevorder.
- Diensbaarheid
’n Predikant wat lidmate ondersteun en begelei om op klein en groot maniere betrokke te raak en diensbaar te wees in die gemeente, die gemeenskap en verder weg. Die predikant moet gemeentelede bemagtig om hulle gawes en roeping te ontdek en uit te leef.
Deur deelname in diensgeleenthede in die gemeente, betrokkenheid by vennote in die gemeenskap (bv Durbanville-Kinderhuis, Mould Empower Serve, Fisantekraal Centre for Development) en uitreike na en ondersteuning van vennote verder weg (bv Zithulele VGK, sendelinge in Asië), word gemeentelede aktiewe medewerkers van God se nuwe wêreld.
Geskikte kandidaat:
Eienskappe waaroor die geskikte kandidaat moet beskik:
- Aanpasbare predikingstyle vir:
- ’n meer formele erediens met ’n klassieke karakter.
- ’n familiediens met kleiner kinders, ouers en grootouers.
- ’n informele aanddiens met tieners, jong volwassenes en ouers.
- Die vermoë om verhoudings te bou en mense aan mekaar te verbind in netwerke van omgee en vriendskap. ’n Opregte belangstelling in en liefde vir mense, wat mense wat los staan van die kerk verwelkom, insluit en intrek.
- Die aanleg om aan lidmate blootstelling te gee en hulle te betrek by geleenthede vir diensbaarheid, getuienis en uitreike. Iemand wat netwerke kan bou en instandhou met ander kerke, vennote en rolspelers in diens- en getuieniswerk.
Die geskikte kandidaat moet genoegsame bedieningservaring in hierdie terreine hê en dit kan uitoefen binne ’n kollegaspan wat met ’n filosofie van spanleierskap werk.
Vergoeding: Salaris volgens die sinodale skaal vir predikante. ’n Pastorie is beskikbaar.
Aanvangsdatum: 1 April 2025 indien moontlik.
Aansoeke:
Stuur ’n CV met drie verwysings, asook ’n motiveringsbrief waarom jy jouself in hierdie pos sien, vir Jackie Pretorius by jackie@dgkerk.co.za
Kandidate moet tot ’n onderhoud bereid wees, indien so versoek word. Kandidate moet op versoek ’n digitale kopie van ’n preek wat in ’n erediens opgeneem is, kan aanstuur.
Sluitingsdatum vir aansoeke: 12 Januarie 2025.
Navrae:
Dr Tinus van Zyl: tinus@dgkerk.co.za / 083 289 4985.
Ds Wynand Breytenbach: wynand@dgkerk.co.za / 071 640 9797.