Dié advertensie verteenwoordig die standpunte van die adverteerder en nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
Vakature: Medeleraarspos
George-Suid en Heroldsbaai-gemeente wil graag die aangename geur van Christus grensloos versprei (2 Kor 2:14). Ons nooi daarom, in groot afhanklikheid van die Here, jong gelegitimeerde predikante en proponente uit om aansoek te doen om as voltydse medeleraar saam met ons gemeente hierdie strewe te kom leef. Die pos het ’n sterk fokus op familiebediening en ons wil graag sien hoe die suksesvolle kandidaat ons kan help om ook God se droom met gesinne, kinders en jongmense te leer leef – ín ons gemeente en déúr ons gemeente.
Ons gemeente het twee bedieningspunte – George (grotendeels die George-Suid-area) en Heroldsbaai wat Oubaai, The Brink/Breakwater Bay, Monate en Dutton’s Cove insluit. Tussen George en Heroldsbaai is daar ’n landbougemeenskap wat ook binne ons gemeente se bedieningsarea val. Daar is ook ’n jeugoord te Heroldsbaai wat deur die jaar onder andere vir kampe en stranddienste gebruik word. Ons gemeente staan ook met die een voet in die middedorp met al die geleenthede wat middestadbediening bied. Daar is ’n groot laerskool wat reg langs ons kerkkompleks op George geleë is en die gemeente het ’n baie goeie verhouding met die skool en bestuur. Die afgelope klompie jare maak die skool ook toenemend meer gebruik van ons fasiliteite vir onder andere nasorg. Hier is dus groot potensiaal vir ’n bediening wat onder andere ook kan fokus op die laerskoolkinders en hulle families. Twee hoërskole, sowel as ’n skool vir kinders met spesiale behoeftes, val ook binne ons gemeente se grense.
Ons het die onderstaande in gedagte aangaande die verantwoordelikhede en profiel van die medeleraar.
HOOFTAKE EN VERANTWOORDELIKHEDE:
- Hy of sy is in die eerste plek, primêr verantwoordelik vir sy/haar eie geloofslewe en lewe voor God en die verdieping in sy/haar verhouding met die Here.
- Bevordering van die geloofslewe van families in die gemeente.
- Oorhoofs in beheer van en verantwoordelik vir die geloofsgroepe/kategese in die gemeente.
- Ontwikkeling, aanskaf en implementering van materiaal vir die geloofsvorming van kinders en jongmense en gesinne.
- Ontwikkeling, aanskaf en implementering van ouerondersteuningsprogramme en -kursusse.
- Werwing, toerusting en koördinering van vrywilligers vir die familiebediening.
- ’n Sterk fokus op familiebediening, maar ook saam met ons ander predikant verantwoordelik vir die wyer gemeentebediening soos in Artikel 9 van die Kerkorde beskryf.
PERSOONLIKE EIENSKAPPE:
- ’n Leerbare gees – bereidheid om te leer en nie bang om foute te maak nie.
- Empatie, integriteit, buigsaamheid en veerkragtigheid.
- Emosioneel en geestelik volwasse.
- ’n Spanspeler wat met energie en toewyding sy/haar roeping tussen ons én saam met ons kom leef.
- Goeie kommunikeerder.
- Diensbare leier.
- Vaardig in die handhawing van goeie menseverhoudings.
- Verkieslik jonger as 35 jaar.
VERGOEDINGSPAKKET:
Volgens sinodale skaal (Kerf 1) met ’n jaarlikse verhoging in skaal/kerf.
Indien jy belangstel om aansoek te doen vir die pos vra ons dat jy asseblief vir ons ’n kort bekendstellingsvideo sal stuur. In die video moet jy onder andere ook vir ons vertel hoekom jy wil aansoek doen vir die pos. Stuur ook vir ons ’n opgedateerde CV van nie langer as drie bladsye nie, sowel as die kontakbesonderhede van drie onlangse referente.
Die sluitingsdatum vir aansoeke is Vrydag 17 Januarie 2025 om 12h00. Aansoeke kan gestuur word na die volgende e-posadres: aansoeke@nggeorgesuid.co.za
Ons sal van ons kant af elke aansoek deeglik en met die grootste vertroulikheid oorweeg. Ons beplan om nie later nie as 29 Januarie 2025 met jou kontak te maak en dalk ook te nooi vir ’n onderhoud. Die finale vergoedingspakket en datum vir diensaanvaarding sal met die geskikte kandidaat onderhandel word.
Indien jy meer inligting oor die pos en oor die gemeente verlang is jy welkom om vir ons leierouderling, George Kuyler (082 459 6891) of ds Johann Winterbach (082 4699 087) te kontak.