Dit is soos ’n tuiskoms vir beide. So sê die algemene sekretaris van die NG Kerk, dr Nioma Venter, oor haar kantoor se onlangse besluit om vanaf 1 Maart die administratiewe ondersteuning (soos in 2001) te hervat vir die nasionale forum wat bekend staan as die Kerklike Maatskaplike Diensteraad (KMDR).
Dié forum verteenwoordig 12 maatskaplike diensorganisasies (dink aan name soos CMR, Badisa, ENGO, Caritas Community Focus en Tutela) wat almal vanuit die NG Kerk ontstaan het en steeds so kerklik-geaffilieerd is.
Na die KMDR in 2001 as NPO gestig is, was die organisasie se administrasie hanteer vanuit die kantoor van die Algemene Sinode, maar die reëling het intussen verander.
Luidens ’n onlangse berig op die NG Kerk se webblad, het die KMDR onlangs versoek of die kerk weer administratiewe ondersteuningsdienste sal oorweeg. ’n Versoek wat positief ontvang is.
Venter sê sy verwelkom die hervat van hierdie diens aan die KMDR vanuit die kantoor van die Algemene Sinode. Soos sy dit stel, “die DNS van die KMDR-lidorganisasies lê onlosmaaklik in die NG Kerk”. Sy het dit as ’n ‘tuiskoms vir beide” op die Facebookblad van die Algemene Sinode beskryf.