Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Sinode van Wes-Kaapland: Meer konteks oor taakspan wat LGBTQI+ gelowiges wil betrek

’n Nuwe LGBTQI+ Taakspan het onlangs vanuit die Diensgroep Toerusting en Navorsing (DGTN) binne die Sinode van Wes-Kaapland ontstaan. Ds Heerden van Niekerk (HvN) is die voorsitter: Diensgroep Toerusting en Navorsing, Sinode van Wes-Kaapland. Ná ’n onderhoud met die skriba van die betrokke groep, wou Kerkbode verder by Van Niekerk weet …

Kerkbode (KB): ⁠Wat is vanuit jou perspektief belangrik vir lesers om te verstaan rondom die ontstaansproses en aard van hierdie groep?

HvN: Daar het bepaalde behoeftes by sommige gemeentes na vore gekom ten opsigte van ondersteuning met die bediening aan LGBTQI+ gelowiges. Die groep is in die lewe geroep om gemeentes te ondersteun wat inklusiewe ruimtes wil ontwikkel. ’n Belangrike behoefte is die ontwikkeling van pastorale hulpbronne – dit is ’n baie belangrike fokus van die groep. Verder word die oproepe om hulp deur gemeentes en LGBTQI+ gelowiges ondervang deur die beskikbaarstelling van gespreksgidse oor seksualiteit en gender, navorsing, die bevordering van versoening en insluiting, die bou van ’n brug tussen LGBTQI+ gelowiges en die breër kerk, asook advies aan gemeentes, ringe en sinodale strukture.

KB: ⁠Wat is die verskil tussen ’n taakspan van ’n diensgroep en ’n taakspan van die streeksinode?

HvN: ’n Taakspan van ‘n diensgroep word deur die diensgroep in die lewe geroep om ’n bepaalde faset van die diensgroep se werk te behartig. Dit hoef nie noodwendig ’n permanente karakter te hê nie. Die taakspan se befondsing geskied deur die begroting van die diensgroep en die taakspan doen verslag aan die diensgroep. Die diensgroep kan weer die taakspan termineer. ’n Sinodale taakspan word deur die sinode aangewys en is ’n permanente taakspan.

KB: ⁠Is die benaming en mandaat van die groep iets waaroor daar debat is binne die diensgroep of is julle dit eens rondom die aard van die groep en die doel van hulle werksaamhede?

HvN: Die diensgroepbestuur het by verskeie vergaderings hieroor besin. Ons is dit eens oor die aard van die groep en die doel van die groep se werksaamhede.

KB: ⁠Het hierdie groep ’n opdrag om aan die diensgroep of aan die Sinode van Wes-Kaapland verslag te doen?

Die opdrag is om aan die diensgroep verslag te doen en die diensgroep doen verslag aan die moderamen/sinode.


Lees meer oor die DGTN se 11 taakspanne by https://dgtn.org.za/.- Red

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Versprei God se Woord
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top