’n Nuutgestigte taakspan binne die Sinode van Wes-Kaapland wil “verwelkomende ruimtes vir LGBTQI+ lidmate, predikante en kerkraadslede skep … waarin geloof en identiteit nie teenoor mekaar geplaas word nie, maar in gesprek kan tree.” Ds Zandré Marais (ZM) is die skriba van hierdie taakspan. Kerkbode wou by hom hoor …
Kerkbode (KB): Gee lesers asseblief ’n idee van hoe dié taakpan tot stand gekom het, in terme van proses maar ook in terme van die doelwit.
ZM: Baie lesers van Kerkbode sal weet dat die NG Kerk vir baie jare besig is met geloofsonderskeiding oor selfdegeslagverhoudings en homoseksualiteit. Hierdie besinning het dikwels gebeur namens gay mense, of selfs mét hulle, maar het selde ruimte gemaak vir lidmate van diverse seksuele oriëntasies om sélf aan die woord te wees. Die LGBTQI+ Taakspan het ontstaan uit ’n groeiende bewussyn binne die Sinode van Wes-Kaapland dat LGBTQI+ gelowiges dikwels op die kantlyn van die kerk staan, nie vanweë ’n gebrek aan geloof nie, maar weens ’n gebrek aan ruimte. Vanuit die Diensgroep Toerusting en Navorsing is daar ’n roepstem gehoor om hierdie werklikheid aan te spreek. Die taakspan is dus gestig met ’n duidelike doelwit: om gemeentes te help om veilige, verwelkomende ruimtes vir LGBTQI+ lidmate, predikante en kerkraadslede te skep – ruimtes waarin geloof en identiteit nie teenoor mekaar geplaas word nie, maar in gesprek kan tree. Die stigtingsproses het gekom uit samewerking met ander taakspanne en die inbring van ervaringskennis van binne én buite die kerk, veral van LGBTQI+ predikante en lidmate.
KB: Hoeveel lede het die taakspan en verduidelik die werkswyse in terme van aantal ontmoetings, beplande uitsette van dié groep vir diegene wat nie blootstelling het aan die funksionering van kerklike taakspanne nie.
ZM: Die taakspan bestaan uit sowat 12 tot 15 lede, waarvan baie self LGBTQI+ is – predikante, proponente, gemeentelede, en ook bondgenote met kundigheid in teologie en pastorale werk. Ons werk volgens ’n vergaderingsritme van minstens ses keer per jaar, met aanvullende werksessies waar nodig. Die span ontwikkel praktykgerigte hulpmiddels soos gespreksgidse, liturgieë en VBO-programme vir predikante en gemeenteleiers. ’n Retreat vir LGBTQI+ lidmate vind in Oktober plaas. Die skep van ’n netwerk van huweliksbevestigers is ook op die tafel. Die taakspan is nie ’n beleidsinstansie nie, maar ’n ruimte van begeleiding en ondersteuning – vir gemeentes wat graag wil groei in inklusiwiteit.
KB: Teologiese nadenke oor seksualiteit is ’n verdelende onderwerp in die NG Kerk. Waar lê die bydraepunte van hierdie taakspan in die lig daarvan?
ZM: Ons is diep bewus van die spanning in die NG Kerk rondom hierdie temas. Maar ons glo die taakspan bring ’n ander manier van deelneem aan die gesprek: eerder as om debat te voer oor wie “reg” is, skep ons ruimtes vir luister, erkenning van pyn, en gesamentlike onderskeiding. Ons bydrae is pastoraal én teologies: om te wys dat daar binne ons eie geloofstradisie ruimte is vir insluiting, versoening en geregtigheid. Ons wil nie vervang wat daar is nie – ons wil uitbrei wat moontlik is.
KB: Is daar nuwe vertrekpunte of kerninsigte wat julle hoop om na die gesprek binne die kerk te bring ten einde die sogenaamde “vasgelooptheid” vars te benader?
ZM: Ja. ’n Kerninsig is dat geloof en seksualiteit nie twee aparte wêrelde is nie. LGBTQI+ mense het diep spirituele lewens en word geroep tot diens, maar die kerk se boodskap aan hulle was dikwels: “Jy moet kies.” Ons wil help om daardie vals tweedeling af te breek. Nog ’n belangrike vertrekpunt is dat insluiting nie net oor beleid gaan nie, maar oor praktyke: hoe mense ervaar dat hulle wérklik welkom is. Daarom wil ons praktiese hulpmiddels en stories van hoop en heling na die gesprek bring.
KB: Hoekom glo jy die tydsberekening van die stigting van hierdie taakspan is belangrik?
ZM: Die kerk het ’n roeping tot liefde en geregtigheid. Daar is ’n groeiende groep predikante, gemeentes en lidmate wat vra: “Hoe kan ons beter wees vir álle mense?” Die taakspan het ontstaan in antwoord op daardie vraag. Ons glo dit is ’n tyd waarin die Gees ons nooi om ou grense te heroorweeg en nuwe weë van saamwees te ontdek. Dit is ’n uitnodiging aan die kerk om nie vrees as vertrekpunt te neem nie, maar geloof, hoop, en liefde.
KB: Hoe dink julle taakspan oor kommunikasie en media: Is daar ’n strategie om lidmate of ander belangstellendes te bereik en vertel ’n bietjie meer daarvan.
ZM: Ons sien kommunikasie nie as bysaak nie, maar as bediening. Ons beoog ’n toegewyde aanlyn tuisblad onder die Diensgroep Toerusting en Navorsing se platform waar ons materiaal en stories deel. Daar is ook planne vir ’n potgooi en artikels in platforms soos Kerkbode – nie net om ons werk bekend te stel nie, maar om ’n nuwe verbeelding aan te wakker van wat kerkwees kan wees. Ons wil met integriteit en sensitiwiteit vertel: van lewens, roepings en die Gees se werk in mense wat lank stil was.
KB: Hoe kan lesers of lidmate in gesprek tree met die taakspan?
ZM: Ons nooi gemeentes, predikante en individue wat met ons wil gesels of ondersteuning soek, om ons te kontak lgbtqi.taakspan@gmail.com. Daar is ook geleenthede vir gemeentes om ons te nooi vir gesprekke, werksessies of konsultasie. Hierdie taakspan bestaan nie vir ’n enkele stem nie – maar om te dien, te luister, en saam te leer. As jy vrae het, of wil deel word van die reis na groter insluiting, is ons hier om saam te stap.


Ek en Marius is vanaf 1970 by mekaar en lidmaat van die Geref kerk.Van dag een af baie betrokke i die ons onderskeie gemeentes,ouderlinge ek onderrig belydenis klasse ens.Ons word toe ouer en in 2013 het die Kerk ons uitgevang.Kommisie op kommissie en later tug en het ons toe besluit om ons attestate aan te vra.Ek het baie siek geword van al die stress en my verlange na my gemeente en die woord was groot.Ons is getroud in 2016,beide het familie lede wat ons nie aanvaar nie en het uit ‘n regsoogpunt dit toe gedoen .’n Dopper ds het ons in sy voorhuis getrou.Ons is vandag terug in dieselfde gemeente,nie behoudend en hulle laat ons begaan met bv nagmaal.Ek moet bieg ek is elke So dag benoud wie of wat gaan ons aanvat.Jy. hoor voortdurend van die kansel af van naaste liefde,verdra mekaar ,gee om ens.Baie swaar las broeders wat ons dra en julle met elke vyf minute n nuwe gesprek/ kommissie maak dit vir ons net meer ondraaglik.Die Geref kerk het n besluit geneem oor die saak en ek het waardering daarvoor.Ek moet daarmee saamleef.Ek hoop tog julle sal met die Here se insig en wysheid n besluit neem volgens die skrif en die saak vir eens en vir altyd toe maak.