Die sluitingsdatum vir hierdie vakature is verby en aansoeke word nie meer ingewag nie.
Die gemeenteraad van NG Grimbeekpark wag in afhanklikheid aansoeke in vir die onderstaande pos.
Vakature: Voltydse leraarspos (onbepaalde termyn)
Sluitingsdatum: 31 Oktober 2025 om 15:00.
Gemeenteprofiel:
NG Grimbeekpark, Potchefstroom, is geleë aan die walle van die Mooirivier – ’n gemeente vol lewe, groei en genade. Met 1 111 belydende en 372 dooplidmate is ons ’n dinamiese geloofsgemeenskap wat oor die lengte en breedte van Potchefstroom en omgewing versprei is.
Ons is ’n jong en energieke gemeente met ’n besonder sterk kinder- en jeugbediening, en ’n diep passie vir kinderevangelisasie – plaaslik én wêreldwyd. Ons het ook ’n sterk passie vir ons seniors met ’n aktiewe senior versorgingskomponent. Die gemeenskap van Grimbeekpark bestaan uit mense van uiteenlopende agtergronde – van entrepreneurs tot personeel en studente van die NWU – wat saamgestel is in ’n warm, deelnemende geloofsfamilie.
Ons eredienste, met hulle sterk gemeentesang en lofprysing, vorm die hart van ons aanbidding. Rondom hierdie spilpunt funksioneer aktiewe bedieninge wat daarop fokus om elke lidmaat – van kleuter tot senior – te bedien en betrokke te maak in die breër missie van God se koninkryk.
LERAARSPROFIEL:
Aansluitend tot Artikel 9 van die Kerkorde, sal daar na die volgende gekyk word:
- Het allereers ’n diep, Geesvervulde verhouding met die Here.
- Lewer Skrifgetroue boeiende prediking wat die Bybel lewendig en begryplik vir almal maak.
- Kan ’n erediens lei met deurleefde, kontekstuele prediking, kreatiewe liturgie en teologiese suiwerheid.
- Is innoverend met die bou van interpersoonlike verhoudings sowel as konflikflikhantering.
- Beskik oor ’n meelewende, dinamiese persoonlikheid wat veral ook in spanverband kan werk.
- Help mense met empatie en begrip om geestelik te groei.
- Is aanpasbaar en bereid om mense te ontmoet waar hulle is.
- Goeie kreatiewe energie.
- Bekwaamheid in administrasie.
VERGOEDING EN VOORDELE:
Vergoeding volgens sindodale riglyne sal met die geskikte kandidaat onderhandel word.
AANSOEKPROSES:
Gelegitimeerde predikante van die NG Kerkfamilie is van harte welkom om aansoek te doen. Stuur asseblief ’n CV van nie meer as vier A4 bladsye nie, met kontakbesonderhede van drie referente. Daar sal ook van u verwag word om ’n verpligte vraelys, as deel van die aansoekproses, te voltooi. U aansoek moet voorts vergesel word van ’n skakel na ’n onlangse video-opname van ’n preek indien moontlik. Kandidate wie se name op die kortlys verskyn moet beskikbaar wees vir ’n persoonlike onderhoud en mag versoek word om ’n psigometriese toets te ondergaan.
Stuur aansoeke aan: nardo@nggrimbeek.com
Navrae: Nardo Conradie (skriba): 082 821 9554.
Louis du Plessis (voorsitter van gemeenteraad): 083 628 6172.
Neem asseblief kennis dat die gemeente die reg behou om nie ’n aanstelling te maak nie.
