Die sluitingsdatum vir hierdie vakature is verby en aansoeke word nie meer ingewag nie.
Vakature: Jeugwerker
Sluitingsdatum: 23 November 2025.
NG Kerk Gansbaai is geleë in die Overberg langs die beeldskone Walkerbaai-kuslyn. Die kerkgebou is geleë in die middel van die dorp. Die kerk is alreeds vir meer as 80 jaar ’n hawe van God se genade vir lidmate, besoekers, vreemdelinge en noodlydendes. Tans het die kerk 2 200 belydende lidmate en 250 dooplidmate.
Die gemeente is verdeel in die volgende ses streke: De Kelders, Gansbaai, Kleinbaai, Franskraal, Pearly Beach en Baardskeerdersbos. Die NGK en die VGK Blompark is alreeds vir ’n geruime tyd in ’n geseënde samewerkingsverhouding.
Daar is verskeie laerskole op die dorp en slegs een hoërskool. Die meerderheid van ons bestaande hoërskoollidmate is deur die week by skole wat nie op die dorp is nie en gevolglik is daar tans min tyd vir kontak met ons tieners. Die fokus van ons jeugbediening is dus oorwegend op ons laerskoollidmate.
Die gemeente se verstaan van God, medemens en skepping word saamgevat in die woorde: Hawe van God se genade.
God Drie-enig is ’n God van gasvryheid. Elke mens is spesiaal. Die gemeente streef daarna om elke lidmaat, jonk tot oud asook elke vreemdeling te bedien met die evangelie van gasvryheid.
Ons glo God is ’n God van menslikheid. Ons glo om elke mens te ag deur mekaar te behandel met vriendelikheid, respek en Christelike ordentlikheid. Ons kies nie die weg van veroordeling, verwerping, minagting en hoogmoed nie.
Ons glo in ’n God van verlossing. Ons wil ’n gemeente wees wat in elke erediens, in elke Bybelstudie en in ons daaglikse handelinge draers te wees van die verlossende genade van God wat ons in Christus ontvang het.
Ons glo in God wat gekom het om te dien. Ons glo God het elke gelowige geroep om daar waar ons werk en lewe ’n verskil te maak met jou eie unieke persoon en gawes.
In ons groeiende gemeente en gemeenskap is ons bekommerd dat ons gesinne en jeug nie die nodige bediening en aandag geniet wat ons glo ons as gemeente voor geroep is nie.
Ons wil hê ons jeugwerker moet:
- Ruimtes skep waar ons gesinne en kinders welkom voel.
- Bereid wees om deurgaans verder toegerus te word.
- Dapper, kreatief, vernuwend en toekomsgerig dink.
- Deel word van ’n span wat mekaar ondersteun asook ruimte gee om jou gawes binne die kerk uit te leef.
Ons nooi enige persoon (jeugwerker, diensleraar of passievolle lidmaat) wat geroepe voel tot die bediening in ons gemeente om aansoek te doen vir hierdie pos. In die aanstellingsproses sal daar oorweging gegee word aan kwalifikasies en ervaring.
Stuur ’n volledige CV aan: ngkgansbaai1@gmail.com
Vergoeding is onderhandelbaar met inagneming van kwalifikasies met sinodale riglyne vir jeugwerkers/diensleraars as riglyn.
Navrae: Ds Hanri Joubert – 061 058 1030.
