Dié advertensie verteenwoordig die standpunte van die adverteerder en nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
Vakature: Voltydse leraar
Sluitingsdatum vir aansoeke: 31 Januarie 2026.
NG Kerk Drieankerbaai is ’n stadsgemeente wat tans ’n bestendige groei toon waarop ons graag wil voortbou sodat ons as Afrikaanse geloofsgemeenskap al meer ons getuienis van geloof, hoop en liefde in Kaapstad kan uitleef.
Ons visie, ’n Tuiste vir Almal, sê dat ons ’n geloofsgemeenskap wil wees waarin almal wat saam met ons wil leef as volgelinge van Jesus Christus kan tuiskom. ’n Gemeenskap wat gebou word rondom die kern van ons gereformeerde belydenis van verlossing deur geloof alleen, genade alleen, Christus alleen, op grond van die Skrif alleen. ’n Gemeenskap wat juis daarom mense sonder vooroordeel of veroordeling verwelkom. Die hart van ons bediening is ons eredienste waarin ons geloof vier met ’n klassieke liturgie en dinamiese, relevante Skrifgetroue verkondiging.
Die gemeente beskik tans oor die diens van ’n voltydse leraar (in ’n vastetermynpos wat op 31 Oktober 2026 ten einde loop) en ’n deeltydse jeugleraar (wat in diens van ons gemeente en van Groote Kerk staan en die jeugbediening van hierdie twee gemeentes as een bediening hanteer). Ons soek na ’n voltydse leraar wat op 1 November 2026 diens by die gemeente kan aanvaar.
Die geskikte leraar moet:
- Teologies deeglik begrond wees in die gereformeerde tradisie, met ’n deurleefde geloof, ondersoekende denke en ’n openheid vir vrae en verskille.
- ’n Skrifgetroue, kreatiewe prediker wees met ’n begrip vir mense se lewensvrae.
- Bybelstudies en ander vorme van geloofstoerusting op ’n relevante wyse kan aanbied.
- ’n Klassieke, skeppende en deelnemende liturgie nastreef waarbinne mense werklik kan tuiskom.
- Sterk verhoudings bou deur mense te ontmoet waar hulle hulleself bevind, na hulle te luister en hulle eerlik in geloof te begelei.
- Verskille kan hanteer met openheid en integriteit.
- Begrip hê vir die unieke omstandighede van die stedelike konteks en ’n diverse gemeente.
- Respek hê vir die geloofsverhaal van ’n ou gemeente, met die begeerte om saam met die gemeente te bly bou aan ’n verantwoorde toekomsvisie.
- Selfstandig kan werk binne ’n kleiner gemeente met ’n beperkte begroting en eenvoudige struktuur, maar ook in spanverband kan saamwerk met die jeugleraar asook die leraars van Groote Kerk.
- 10 jaar of langer ervaring in voltydse gemeentebediening sal as ’n sterk aanbeveling dien.
Vergoeding is volgens sinodale skaal, met inwoning in die pastorie op die kerkterrein.
Navrae kan gerig word aan die kerkraadsvoorsitter, Roelf van der Merwe, by roelf@vrincorporated.co.za
Aansoeke, vergesel van ’n kort CV, kan gestuur word na die skriba, Rosemarie Marais, by ngkdab@polka.co.za
