Pous Leo XIV het op 9 Januarie aangekondig dat biskop Sithembele Anton Sipuka van die Rooms-Katolieke Kerk van Suider-Afrika die nuwe aartsbiskop van Kaapstad is. Die nuus is met vreugde ontvang, vertel dr Nioma Venter, wat sedert Oktober 2024 saam met Sipuka op die leierspan van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK) dien.
“Aartsbiskop Sipuka luister deeglik en reageer met fyn genuanseerde teologiese insette; hy neem gesprekke konsekwent terug na die Woord. Sy liefde vir God, sy volgehoue pleidooi vir versoening en genesing en sy oortuigende ekumeniese ingesteldheid maak van hom ’n gawe vir ’n tyd soos hierdie in die breër kerk in Suid-Afrika,” het die algemene sekretaris van die NG Kerk by navraag gesê.
Dié 67 jarige Sipuka van Mthatha in die Oos-Kaap se wye ervaring in leierskap sluit ondermeer in dat hy van Februarie 2019 tot Januarie 2025 president van die South African Catholic Bishops Conference (SACBC) was. Hy was ook verlede jaar onder die groep wat president Cyril Ramaphosa aangewys het om die nasionale dialoog te lei en versterk.
Bykomend tot sy nuwe pos by die St Mary’s-katedraal (formeel bekend as die Cathedral Church of Saint Mary of the Flight into Egypt) in Kaapstad, dien hy by die Vatikaan op ’n komitee wat dialoog tussen die Katolieke Kerk en ander geloofstradisies bevorder luidens ’n verklaring op die webblad van die SACBC.
- Berig aangepas na publikasie.
