Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Dr Nioma Venter (tweede van links) van die NG Kerk tel onder die nuutverkose leierspan van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK). Saam met haar, van links, is eerw Mzwandile Molo (algemene sekretaris), Lulama Ntuta (eerste vise-president) en biskop Sithembele Sipuka, nuutverkose president van die SARK. Venter is verkies tot tweede vise-president. Foto’s: Verskaf

‘Genadige voorreg’ – Twee NG vroueleraars verkies op SARK-leierskap


“In die lig van die geskiedenis, bly dit vir my heilige grond wanneer die NG Kerk met soveel oorgawe en opregtheid in die ekumene verwelkom word,” sê dr Nioma Venter ná sy en nog ’n NG vroueleraar vandeesweek verkies is tot die leierskap van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK).

Die SARK hou elke drie jaar ’n nasionale konferensie. ’n Nuwe uitvoerende leierskap is tydens die mees onlangse saamtrek (van 14-17 Oktober in Benoni) verkies. Venter, die NG Kerk se algemene sekretaris, is verkies as tweede vise-president van hierdie ekumeniese liggaam, met die Anglikaanse jeugleier Lulama Ntuta as die nuwe eerste vise-president.

Biskop Sithembele Sipuka van die Katolieke Kerk, ook president van die Suider-Afrikaanse Katolieke Biskoppekonferensie (SACBC), is die nuwe president en eerw Mzwandile Molo is verkies as nuwe algemene sekretaris van die SARK.

Ds Lerisa Meyer van Margate en assessor van die NG Kerk in KwaZulu-Natal is op die laaste dag van die konferensie gekies om deel te vorm van die SARK se nasionale uitvoerende komitee.

Ds Lerisa Meyer van Margate en assessor van die NG Kerk in KwaZulu-Natal is op die laaste dag van die konferensie gekies om deel te vorm van die SARK se nasionale uitvoerende komitee.

Oor die verkiesing van twee van sy medeleraars tot die nasionale leierskap van die SARK, het ds Jan Lubbe gesê dit is “’n genadige voorreg waaroor ons as NG Kerk in Suider-Afrika nederig en diep dankbaar is.” Dié Bloemfonteinse kerkleier is tans moderator van die Algemene Sinode van die NG Kerk en het ook die geleentheid in Benoni bygewoon.

Lees ook: Jan Lubbe | Uit my Kerkdagboek: ’n Kerk bewustelik op weg …

Hulle verkiesing en die warm verwelkoming wat die NG Kerk se afvaardiging ervaar het, staan vir Venter ook as “teken van God se trou en pad van genesing vir ons kerk”. Dit is vanjaar 20 jaar sedert die NG Kerk in 2004 weer volle lidmaatskap van die SARK ontvang het. Dit het gevolg op die waarnemerstatus wat in 1994 aan die NG Kerk toegeken is.

Hulle verkiesing en die warm verwelkoming wat die NG Kerk se afvaardiging ervaar het, staan vir Venter ook as “teken van God se trou en pad van genesing vir ons kerk”.

Venter se voorganger as algemene sekretaris, dr Gustav Claassen, was ook deel van die vorige uitvoerende komitee van die SARK.

Venter het by navraag in haar terugvoer ook verwys na die NG Kerk se rol binne die breër kerklike gemeenskap. Sy het gesê: “Ek is in my diepste wese oortuig dat die NG Kerk ons plek in die liggaam van Christus in Suid-Afrika moet inneem en die gawes waarmee God ons seën indra in die plekke waar ons optree.”

Sy het ook genoem dat sy onderneem om sensitief te wees vir haar rol as brugbouer in hierdie spasie wat sy inneem saam met en namens die groter kerk.


Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.