Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Jan Lubbe | Uit my Kerkdagboek: ’n Kerk bewustelik op weg …


Dit was ’n Woensdag, dertig jaar gelede. Die 9de Algemene Sinode van die NG Kerk het in Pretoria vergader en die gebruiklike broederlike onderhoud is deur die vorige voorsitter gelei. Sy tema: “Uitdagings van die nuwe Suid-Afrika vir die Ned Geref Kerk”. Een van sy heel eerste publikasies as teoloog, het die titel: “Die Kerk”. Locus de ecclesiae. ’n Lewenstema vir hom. Die tema was besonder aktueel, ses maande ná die eerste demokratiese verkiesing in ons land.

Historiese momente

Daar is vanjaar – 2024 – verskeie sulke historiese momente om by stil te staan en te vra na die weg waarlangs ons aangekom het. Ons gló immers – in die woorde van die spreker daardie Woensdagaand – dat die kerk “vervul met, in die greep van en daarom gehoorsaam aan die Heilige Gees” op weg is.

Vyf-en-twintig jaar gelede het ’n boek verskyn wat wye invloed in ons kerkbegrip en kerkwees sou hê: Coenie Burger se Gemeentes in die kragveld van die Gees (1999). Dan was 1994 nie net algemene sinode- en verkiesingsjaar nie, dit was óók die jaar waarin die voormalige NG Sendingkerk en NG Kerk in Afrika ten dele in die Verenigende Gereformeerde Kerk byeengekom het.

’n Weg wat óók nog nie klaar is; hulle naam én kerkseël getuig daarvan en roep na ons. Ironies genoeg was dít twintig jaar ná 1974 se Algemene Sinode, waar die dokument Ras, volk en nasie in die lig van die Skrif aanvaar is.

Kuyper se besoek

Die teologiese regverdiging van apartheid wat wasdom bereik het of alreeds ook eerste frases van ’n koersverandering daarin te lese? Nóg ’n gedenkwaardigheid: die eerste Afrikaanse Psalm- en Gesangboek van 1934; ons moedertaal, aanbiddingstaal, ’n eie styl.

Hoe klink ons negentig jaar later? Van kerksang gepraat: In 1924 besoek prof Herman Kuyper van die Vrije Universiteit ons land op uitnodiging van die Gereformeerde Kerke; hy ontmoet óók die sinodale kommissies van die NG Kerk in Bloemfontein en die Kaap. Sou daar ’n “verbroedering” kon kom? Want nóg ’n eeu tevore – in November 1824 – het ons veertien “Hervormde” gemeentes hier aan die suidpunt van Afrika in één “algemene kerkvergadering” saamgekom, waaruit ons onsself later NG, Gereformeerd, Zendingkerk en AGS sou gaan noem.

In die volgende drie weke “her-denk” ons hierdie dinge en ons weg deur twee eeue …

Terug na daardie Woensdagaand, 12 Oktober 1994. Die 9e Algemene Sinode ontmoet “in die jaar waarin Suid-Afrika met sy grootste en ingrypendste veranderinge nog ooit begin het”, het die spreker gesê. ’n Begin – hy was realisties. “Verandering” was vir hom die eerste woord om dié nuwe konteks te beskryf. Die “apartheidspolitiek” van ’n “eksklusiewe blanke regering” sou verdwyn, al wás dit vir sommige in die NG Kerk met teësin – hy was eerlik.

Drie dekades van demokrasie

Die sosiale stratifikasie van “wit en swart, base en knegte, ryk en arm, onderdrukkers en onderdruktes” sou verander en “blanke Afrikaner lidmate het nie duidelikheid oor hulle identiteit as Christene in dié nuwe situasie nie” – hy was pynlik eerlik. En, daar was ’n “verontrustende verskuiwing in waardes” aan ’t kom: sekularisasie en ánder oortuigings in die bekende publieke ruimtes en raadsale. ’n Tweede woord waarmee die uittredende moderator die nuwe Suid-Afrika beskryf het, was “geweld”. Alle vorme van geweld, “gestruktureerd” én “revolusionêr”; ’n “geweldpsigose” wat onder ons posgevat het – hy was diep besorgd. Sy derde woord: “armoede”, en werkloosheid onder jongmense. Die syfers wat hy aangehaal het, lyk nou – ná “drie dekades van demokrasie” – klein, byna, asof ons dit sóu kon omkeer!

“Die kerk mag die nuwe Suid-Afrika nie ontvlug nie,” het hy voortgegaan. Sewe dinge moes ons as NG Kerk nou doen. Eerstens, “trou bly aan die Woord” om sodoende die “gelaatstrekke” van Christus te vertoon. Jesus was die “gestalte van Gods liefde” én Hy was God se “Protes” teen sonde en duisternis – die kerk sou daarom krities-solidêr in dié land moes leef. Tweedens, ’n “Lewende, Geesvervulde Kerk” sou met fyn onderskeiding haar konteks moes bly evalueer, soos wat dit almeer verander. Verandering is nie noodwendig verkeerd nie – hy’t gemaan teen “konserwatisme”. Verandering is nie noodwendig reg nie – hy’t gewaarsku teen “neo-Marxisme”. Veranderinge moes uit die Skrif en ons belydenis beoordeel word. Bly glo dat “God regeer tot in die uithoeke van ons individuele en sosiale lewe”; dáár moet ons Hom gehoorsaam.

Versoening as taak

Die derde taak: “getuienis” in leer en lewe. In leer, ten opsigte van die Bybel tussen ander “sogenaamd heilige boeke”; Christus tussen ander godsdienste; godsdiensbeoefening en gebed tussen ander lewenstyle. Ten opsigte van die lewe: eerbied vir “die goddelike oorsprong van alle lewe” en “die waardigheid van alle mense as beeld van God”.

’n Vierde taak: versoening. “As daar één teks is waaroor nooit genoeg in ons situasie gepreek kan word nie, is dit Efesiërs 2:14 – ‘Christus is ons vrede, Hy wat Jode en nie-Jode een gemaak het.’ Christus, die vrede vir alle mense, die boodskap van die kerk.” Die vyfde taak: “Koninkryksdiens” in huwelik en gesin, arbeid en politiek, wetenskap en tegnologie. ’n “Erediens op Sondag is nie ’n ontvlugting nie, maar ’n voorbereiding” om die wêreld in te gaan. Ses: die “totale heil” aan die “totale mens” – barmhartigheid – was Jesus se slotboodskap in Matteus 25. Ons moet dit dóén. En laastens, dít: één én sáám. “Die NG Kerk sal meer as ooit sy ekumeniese roeping ernstig moet opneem”; dit sal ons geloofwaardigheid laat groei as ’n kerk “wat steeds vorder op die weg van sy heiliging”…

Daar is, benewens wysheid in die uittredende moderator se rede daardie Woensdagaand, ook ’n ysingwekkende sin. Toe hy oor geweld in ons samelewing gesê het dat 605 mense ouer as 50 in ’n vorige agt maande “in hulle eie wonings aangeval” is. Drie naweke later, op Saterdagaand, 5 November 1994, is prof Johan Heyns in sy huis doodgeskiet. Dit is dertig jaar gelede. Is daar niemand in Suid-Afrika wat weet wie dit gedoen het nie? Het ons as kerkfamilie dié skokkende ontnugtering en verlies verwerk? Is dit juis daarom tyd om sy laaste woorde aan die NG Kerk te herbedink?

  • Ds Jan Lubbe is voorsitter van die Algemene Sinode Moderamen en predikant van die NG Gemeente Berg-en-Dal.

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.