Die sluitingsdatum vir hierdie vakature is verby en aansoeke word nie meer ingewag nie.
Vakature: Leraar
(Met fokus op jeug en geleentheid om te groei)
Roodekrans gemeente stel hiermee, in biddende afhanklikheid van die Here, ’n vakature bekend vir ’n voltydse leraar wat aanvanklik fokus op die jeug, met groeigeleenthede.
Sluitingsdatum: 28 Februarie 2026.
Gemeenteprofiel: Roodekrans-gemeente word gekenmerk deur ’n warm, vriendelike en ondersteunende atmosfeer. Ons glo aan ’n gelukkige, hegte geloofsgemeenskap waar lidmate saam groei en dien, met ’n gedeelde verantwoordelikheid om saam die gemeente op te bou. As ’n familiegerigte kerk, geleë in ’n uitstekende skoolgebied, bied ons ’n veilige ruimte vir gesinne om geestelik te groei.
God staan sentraal in alles wat ons doen, met ons vyf beginsels – Geloof, Groei, Gee Om, Geroep en Gestuur – as rigtingwysers vir ons roeping. Ons streef daarna om ’n gesonde balans te handhaaf tussen die behoud van tradisie en die verantwoordelike integrasie van moderne benaderings, sodat ons bediening relevant en toeganklik bly vir alle ouderdomsgroepe.
Leraarsprofiel: Aansoekers (finale jaar teologiestudente / proponente / leraars wat nog jonk van gees is) moet ’n lewende verhouding met die Here hê, lidmaat van die NG Kerk wees, ’n aanvoeling en liefde om met jeug te kan werk en ook bereid wees om te groei in die gemeente. Die kandidaat moet die vermoë hê om die Bybel relevant, verstaanbaar en kreatief oor te dra aan alle ouderdomme. Die kandidaat moet ook oor leierseienskappe binne spanverband beskik en gemaklik met gemeentelede, vrywilligers, die gemeenteraad en spanne kan werk. Daarmee saam moet die kandidaat ook beskik oor die vermoë om goed te beplan, te organiseer, te lei en verantwoordelikheid te neem vir die geestelike groei van die jeug sowel as lidmate van alle ouderdomme.
Vergoeding: Sal bespreek word gedurende die onderhoud en daarna onderhandel word.
Aansoek: Alle aansoeke moet vergesel word van ’n volledige CV en drie referente. Stuur aansoek aan Helene@ngkroodekrans.co.za Die geskikte kandidate sal genooi word vir ’n onderhoud en preekgeleenthede. Indien u nie van ons gehoor het binne 14 dae na sluiting van die aansoeke nie, kan u aanvaar dat u aansoek onsuksesvol was.
Navrae:
Helene de Jager (kerkkantoor) 011 768 1391.
Ds Roelof Minnaar 072 159 0402.
Die gemeenteraad behou die reg voor om nie ’n aanstelling uit die aansoeke te maak nie.
