Die 80’s se Britse rockgroep Pink Floyd sing in een van hulle liedjies, “the child is grown. The dream is gone. I have become comfortably numb”.
Prof Stephan Joubert vertel hierdie liedjie se woorde was een van die “snellers” wat hom oor verwondering aan die dink gesit het. Hy sê dit is vir hom hartseer wanneer die kerk so besig raak met gevegte of besorgd is om gerieflik en gemaklik te wees dat dit faal as ’n plek wat mense verwonderd oor God laat.
“Dit sal darem wonderlik wees as die verhaal waarvan ek en jy deel is, die verhaal van Jesus, die masjien waarop die wêreld hardloop blokkeer,” het hy gesê.
Lees ook: ASM Februarie 2026: Leiers gee terugvoer van regoor die land – oor sinodesittings, roeping en bek-en-klouseer
Die bekende teoloog was Dinsdagmiddag die gasspreker by die eerste samekoms van die NG Kerk se Algemene Sinode Moderamen (ASM) vir 2026. Die vergadering se voorsitter, ds Jan Lubbe, het die vergadering geopen deur te sê vir die drie dae van saamwees val die fokus op die vraag “hoe gaan dit met ons dominees?” Hy het genoem dat Joubert genooi is om in aansluiting by hierdie tema drie kapeldienste te lei.
Die tema van die eerste was “verwondering”. “Ons gesprek vanmiddag is hoe kry ek verwondering terug in my spiritualiteit,” het Joubert gesê. Hy het verduidelik die eerste stap is om Jesus se almag raak te sien. Hy het na aanleiding van vyf tekste uit die Evangelie van Markus gewys op gebeure waar mense oor Jesus en wat Hy doen verwonderd was soos toe Hy die storm op see stil gemaak het, die gesondmaak van die vrou wat 12 jaar siek was en die opwek van Jaïrus se dogtertjie.
Die Nuwe Testamentikus het aan die hand van die oorspronklike Grieks verskillende vorme van verwondering geïllustreer. Met die storm op see het hy uitgewys die dissipels se reaksie is as verwonderde “fobos” beskryf met fobos die Griekse woord vir vrees of heilige verwondering. Hy het verduidelik dit is anders as die vrees wat van ons het vir kapings, misdaad, droogte, die toekoms. “Hierdie is vrees wat jou laat buig en trek jou nader,” het Joubert gesê.
Die ander temas waaroor hy vandeesweek praat is “verbeeldingryk” en “profeties”.

