“Ons fokus hierdie vergadering veral op hoe dit met ons dominees gaan,” het ds Jan Lubbe op 24 Februarie, die eerste dag van vandeesweek se vergadering van die Algemene Sinode Moderamen (ASM), in Benoni gesê.

LEES OOK: Reuse-predikantesaamtrek vir Augustus 2026 beplan
“Ons is bevoorreg om drie dae hier in mekaar se geselskap te wees. Mag jy stil word en iets van jou eie roeping herontdek,” was Lubbe se woorde aan die afgevaardigdes van al die NG Kerk se nege samestellende streeksinodes.
Die vergadering vind in ’n splinternuwe lokaal op ’n bekende terrein naby OR Tambo-lughawe plaas.

Oor die agenda het Lubbe gesê daar is nie moeilike sake wat wag nie. Soos sy gewoonte vanuit die voorsitterstoel is, het Lubbe sinodale leiers elkeen die geleentheid gegee om kortliks iets met die vergadering te deel vanuit die streke en gemeentes wat hulle verteenwoordig voor die gasspreker, prof Stephan Joubert, aan die beurt sou kom.

Noord-Kaapland (by monde van ds Marais Kluge):
- “Ons is dankbaar dat dit goed gereën het. Bek-en-klouseer … Mag ek op hierdie stadium vra: Koop tog vleis. Al is dit ’n bietjie duurder, want ons boere kry swaar.”
- “Ons het ook sinode(sitting) in Oktober, so party van ons gaan klaarmaak dat ons weer by ons gemeentes kan uitkom.”
- “Ds Christo Jonck, tans predikant in sinodale diens, het ’n beroep aanvaar om weer gemeentedominee te word.”
- “Sewe predikante by ons is die afgelope paar jaar met kanker gediagnoseer.”
- Gedagtig aan Boesmanlanders wat spog dat hulle spasie, stilte en sterre het, het Kluge met verwysing na die indrukwekkende en ruim nuwe lokaal gesê: “Nou hier is spasie! Dis heerlik om hier by u te wees.”

Vrystaat (by monde van dr Dawie Botes):
- “Ons het intense visioenering gehad en ons sinodesitting is vanjaar in Junie op Bothaville.”
- “Ons het so 35 studente wat begin by die Seminarium.”
- “Ons het goeie reën gehad (in die streek). Ons sal môre meer sê oor die bek-en-klouseer.”

Hoëveld Sinode (by monde van dr Tom Smith):
- “Ons is ook besig met sinodebeplanning (vir Oktober).”
- “Ons maak reg vir die aanstelling van ’n nuwe kantoorbestuurder.”

Noordelike Sinode (by monde van ds Lizl-Louise Schoeman):
- “Ons beplan in Oktober om ons sinodesitting te hê.”
- Ds Paul Grobler maak klaar in Oktober. “So ons is in ’n proses om die pos van direkteur te vul.”
- “Spesifiek oor die kantoor, ons het uiteindelik ’n nuwe sinodehuis, ons trek in April soontoe. Dit is by NG Gemeente Lynnwood,” aldus Schoeman.

Oostelike Sinode (by monde van dr Tertius Erasmus):
- “Ons het in Oktober ons sinode waar nuwe leierskap verkies sal word.”
- “As jy dink aan ons (sinodegrense), hardloop ons van doer bo by Tzaneen wat omtrent weggespoel het tot Gauteng waar mense soms sukkel om water te hê, so jy het die ekstreme ook binne die sinode, maar andersins gaan dit goed. Ons het ’n lekker mooi span. Ons het nie probleme nie, ons het uitdagings.”

KwaZulu-Natal (by monde van dr Barry Tolmay):
- “Ons het twee weke gelede as visioenêre leierspan bymekaar gekom in die Drakensberge en die voorreg gehad om saam te kon wees en saam te kon bid en ook die geleentheid gehad om te evalueer hoe dit gaan na ons verlede jaar van ons ringe gekonsolideer het … Dit gaan goed in KZN hoewel kapasiteit wel ’n uitdaging is.”
Goudland Sinode (by monde van dr Grant du Plessis):
- “Dit gaan goed in Goudland. Ons het verlede jaar in Oktober sinode gehad, so ons het nuwe leierskap.”
- “Ons is bekommerd oor ringe wat onder verskillende faktore van druk is.”

Dr Grant du Plessis
Wes-Kaapland (by monde van ds Marinus Theron):
- “Ons het ’n roepingskonferensie in ons streek gehad en is daarvoor baie dankbaar.”
- “Ons sinodalesentrum se adres is nou amptelik op Stellenbosch. Die gebou in Bellville is in die mark. Ons het ’n nuwe kantoor, met ’n satellietkantoor waar ons ondersteuningsdiens gaan wees by NG gemeente Brackenfell.”
- “Ds André Agenbag, Predikant in Sinodale Diens: Gemeentebegeleiding, het ’n beroep aanvaar na Stellastraat.”
- “Wat leed betref, ds Frikkie van Niekerk van die Strand is einde verlede jaar aan kanker oorlede. Ons dink aan sy familie en die gemeente daar wat in ’n proses is om ’n predikant te beroep.”
- Wes-Kaapland se sinodesitting sal in 2027 plaasvind.


Oos-Kaapland (by monde van dr Dewald Davel):
“Dit gaan goed oral as ek luister wat almal sê, maar ek dink die Oos-Kaap is die naaste aan die hemel,” het Davel geskerts.
Die vergadering duur voort.
