“Vriende – Dit is met groot hartseer dat ons u inlig dat ons geliefde suster Ds. Regina Nauses van oggend oorlede is. Dra asseblief vir haar man en familie en die Wildevy gemeente op aan die Here.”
So het Andries Gous van Degnos Bediening op 16 Junie in hulle Whatsapp-groep die hartseer nuus gebreek dat een van die NG Kerk in Namibië (NGKN) se pionierleraars vanuit die San-gemeenskap gesterf het.
Regina Nauses was in 2016 bevestig as die NGKN se eerste plaaslik opgeleide vrouestandplaasleraar. Sy het saam met haar man op ’n plaas naby Grootfontein in die verre noorde gewoon. Hier het sy ’n skooltjie vir plaaskinders begin en die San-mense van die NG Gemeente Wildevy bedien.
Lees meer: NG Kerk in Namibië se San-bediening: ‘Ons leer om saam te stap’
Die teologiese opleidingkollege op Windhoek, Academia, se dr De Wet Strauss was ook betrokke was by haar opleiding en legitimasie. Hy het in die Junie-uitgawe van die Feldmuis (sinodale nuusbrief) ondermeer geskryf:
“ … ds Regina Nauses was van die eerste kandidate wat deur die NGKN Kuratorium gelegitimeer en georden is.
Regina was uiters geliefd en gerespekteer as leraar van Wildevy Gemeente wat veral plaasarbeiders en hulle families bedien het. En ook later die kinders en ander persone op die dorpe van Grootfontein, Otavi, Tsumeb en omgewing. Haar leierskap was dié van ’n dienskneg-leraar: haar roeping was die skape en lammers van die Here se kudde. Fyn in onderskeiding en versigtig met haar woordkeuse, het sy haar bydraes gemaak in talle vergaderings waar gestoei is met allerhande uitdagings.”
Lees meer in die nuusbrief onder.
Feldmuis Junie 2026 (2)_compressed
