Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Sari for Change
Rayana Edwards-Cassim is die stigter en HUB van die klerereeks en opheffingsprojek Sari for Change. Fay van Eeden vertel meer. Foto: Verskaf

Eko-rubriek: Klere met ’n storie kan as keerwal teen kitsmode dien

Geborg

Hierdie is 'n rubriek. Die opinies van skrywer weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

“Dis darem wonderlik dat iets wat vir een persoon onbruikbaar geword het, vir ’n ander hoop kan bring,” sê ek vir my skoonma terwyl ons deur die vertoonkamer se rakke met kledingstukke loop. So tussendeur baadjies aanpas drink ons koffie saam met Rayana Edwards-Cassim. Sy is die stigter en HUB van die klerereeks en opheffingsprojek Sari for Change.

Sari for Change is gebore uit twee sake wat Rayana na aan die hart lê – die verligting van armoede en werkskepping veral onder enkelma’s, en die bewaring van die planeet. Hulle gee aan werklose vroue in agtergeblewe gemeenskappe ’n geleentheid om hulleself en hulle gesinne finansieel te ondersteun. Hulle besigheidsmodel maak my opgewonde!

Dit werk met drie vlakke. Eerstens word vroue geleer om met ’n naaldwerkmasjien te werk. Hulle begin deur eenvoudige lapsakkies te stik wat die besigheid dan by hulle terugkoop. Hierdie sakkies word van afvallap gemaak en dien as die besigheid se verpakkingsmateriaal. Op die tweede vlak leer vroue basiese besigheidsbeginsels en ontvang hulle eie naaldwerkmasjien wanneer hulle die vlak voltooi. Party vroue begin dan hulle eie besighede terwyl ander aanbly by Sari for Change om die pragtige klere, waarna ons die hele oggend gekyk het, te maak.

Lees ook: Eko-taakspan wil kerk help dink oor plastiek en water

Met ’n pienk lapsakkie op my motor se agterste sitplek ry ons terug Pretoria toe. By die huis maak ek die sakkie versigtig oop en haal die pragtige groen kimono uit. Terwyl ek die kimono aantrek wonder ek watter stories sou hierdie lap kon “vertel”. Én watter spesiale geleenthede en seremonies het die lap nie al “gesien” nie? Want al Sari for Change se kledingstukke word uit tweedehandse saris gemaak. Ek hoor weer Ryana se woorde: “Knowing that saris are often kept aside in every Indian woman’s home, waiting to be passed down to the next generation, we wondered why we weren’t using them differently. As designers, we love working with silks and chiffons, so it made perfect sense for us to start experimenting with these precious saris.”

Op enige gegewe oomblik, het Rayana vir ons vertel, het hulle 15 000 saris in hulle stoorkamer. Die saris kom van heinde en verre en word almal geskenk. Sari for Change het reeds 8 000 saris in moderne kledingstukke omskep, wat beteken dat daar 8 000 minder stukke lap iewers op vullishope lê.

My oog vang my refleksie in die spieël en ek kan nie help om te glimlag nie. Hoe wonderlik is dit om in ’n tyd van kitsmode ’n nuwe-ou kledingstuk te kan dra? Én om in ’n tyd waar klere gemaak word om slegs ’n seisoen te hou, klere te koop wat ’n storie het.

Ds Fay van Eeden is predikant van NG Kerk Stellastraat en ’n eko-blogger.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top