Toe Sutherland en Stellenberg onlangs saam basaar hou, ontdek Heléne Meissenheimer ’n wen-wen manier van handevat tussen gemeentes.
Op Vrydag 28 Augustus het lidmate van die NG Gemeente Sutherland met bakkievragte Karoo-skaapvleis, emmers vol koekies en ander produkte in Bellville kom basaar hou.
Nog voor ds Adri Vlok se amen die verrigtinge om vieruur amptelik met ’n gebed geopen het, was die ruim geriewe by die NG Gemeente Stellenberg al ’n woelige bedrywigheid. Binne het mense gekuier om tafels met kinders wat kreatief raak by speletjiestafels en buite was ’n geduldige ry wat kaartjies vir produkte wou koop met skaaptjops hoog op die meeste mense se prioriteitslysie.
By die bedrywige vleistafel was Adri, Sutherland se boervrou-dominee, druk besig. Vanjaar was daar 600 kg in rou en gebraaide skaapvleis om van te kies … en steeds was dit te min. Sy vertel die skenk van hierdie vleis bied wel ’n uitdaging, veral na ’n droogte, maar vir hulle gemeente van sowat 300 lidmate maak hierdie voorstedelike basaargeleentheid ’n groot verskil.
‘Ons kan nie daarsonder nie’
Dié oud-Springbokatleet is die eerste vroueleraar van die Karoodorp met die mooi sterrehemel se 175 jarige gemeente. Sutherland is een van die streke waar boere swaar verliese gely het tydens ’n onlangse droogte wat agt jaar lank geduur het. Adri sê dié herstel neem tyd want kuddes moet weer van voor af opgebou word en boere is ook bekommerd oor weerverskynsels soos El Niño. Hulle hou ook steeds ’n eie Dankfeesbasaar in Oktober waarvoor boere ook skaapvleis skenk. Nogtans bied die reëling met Stellenberg vir hulle ’n vleishonger Kaapse mark met voete wat hulle nie op hulle eie dorp het nie. “Ons is so dankbaar om vanjaar weer saam met Stellenberg te wees, ons kan nie daarsonder nie,” sê sy.



Adri en haar man Awie ken Christine Ferreira van Stellenberg-gemeente al jare. Christine is voorsitter van Stellenberg se Getuienisaksie. Uitreike soos hierdie gesamentlike basaar is deel van haar portefeulje. Christine verduidelik hulle gemeente se leuse is “mos darem oor grense heen”. Sy vertel hulle gemeente het vir 18 jaar op hierdie manier eers ’n ander Karoo-gemeente ondersteun. Toe dié tydens die Covid-pandemie onttrek, het hulle na ander uitgereik. Die gevolg was hierdie samewerking met Sutherland se gemeente. Vir drie jaar is dit haar werk om saam met gewillige helpers hierdie basaar aan die einde van Augustus te organiseer. Sy geniet dit. “Hierdie Karookuier is ’n gewilde geleentheid op Stellenberg se kalender. Elke jaar sien ons meer mense wat dit bywoon,” sê Christine.
Vele Stellenberglidmate soos haar bure, Ricus en Diana Henrico, het vanjaar kom help om vleis te braai terwyl ander soos Dirmu Gouws jaffels kom maak het. In die kombuis het die vlabokse opgestapel terwyl vele hande bakkies vol basaarpoedings ingeskep het. Daar was ook ’n opblaasplanetarium vir die kinders sowel as ’n bokdrolspoegkompetisie (met ’n keuse tussen ’n rosyntjie in soetwyn gedoop of die ware Jakob!) wat vir oud en jonk lekker pret was.

Ds René Potgieter, van hierdie Kaapse makrogemeente se predikantespan, het saamgekuier. Uitreike soos hierdie is deel van haar posbeskrywing. Sy bevestig vir hulle as gemeente is om oor grense uit te reik deel van wie hulle is. “Dit is baie spesiaal om Sutherland se mense hier te ontvang en op so ’n manier ’n verskil in God se koninkryk te maak,” voeg sy by.
Die naweek het Sondag afgesluit met saam nagmaal hou.
- Nog voorbeelde van Karoo-gemeentes in samewerkingsooreenkomste met Kaapse gemeentes is Strooidakkerk in die Paarl saam met Williston NG Gemeente asook Laingsburggemeente en die NG Gemeente Sonstraal in Durbanville. Laat weet gerus van sulke handevat-inisiatiewe ook elders – e-pos gerus julle storie na kerkbode@tydskrifte.co.za
