Die sluitingsdatum vir hierdie vakature is verby en aansoeke word nie meer ingewag nie.
Vakature: Voltydse leraarspos
Durbanville-gemeente het in 1826 ontstaan as ’n gemeente waar reisigers, wat op pad was na die Kaapse mark, langs die fontein kon ontspan, rus en aanbid.
Amper 200 jaar later is die gemeente se visie om ’n oase te wees vir mense wat op ’n geloofsreis is en wat hier ’n ontmoeting met God en met medegelowiges het, wat hulle versterk en in staat stel om verder te reis en diensknegte van God se koninkryk in die wêreld te wees.
Daarom is die gemeente se visie:
Dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld.
Predikant se profiel:
Met Artikel 9 van die Kerkorde as basis, word die volgende fokusse verlang in hierdie pos:
- Dissipels van Jesus
Om gemeentelede te begelei en toe te rus deur prediking, bestudering van die Woord en inoefening van geestelike dissiplines, om dissipels van Jesus te wees.
Hetsy deur Bybelstudies, kursusse, retraites of ander kreatiewe benaderings, moet gemeentelede op ’n geloofsreis geneem word wat hulle dieper in die voetspore van Jesus laat loop.
- Saam
Daarop gerig is om onderlinge verhoudings in die gemeente te versterk, gemeentelede in kleiner en groter groepe bymekaar bring sodat hulle in naasteliefde en verbondenheid nader aan mekaar kan groei.
Deur saam om tafels bymekaar te kom, saam fees te vier by kerklike feeste, saam om die Woord te vergader en saam betrokke te raak in die gemeente, word ’n gevoel van behoort (“belonging”) en gemeenskap van gelowiges bevorder.
- In diens van God se nuwe wêreld
Deur lidmate te ondersteun en begelei om op klein en groot maniere diensbaar te wees in die gemeente, die gemeenskap en verder weg. Deur gemeentelede te bemagtig om hulle gawes en roeping te ontdek en uit te leef.
Deur deelname aan diensgeleenthede in die gemeente, betrokkenheid by vennote in die gemeenskap (bv Durbanville-kinderhuis) en uitreike na vennote verder weg (bv Zithulele VGK), word gemeentelede aktiewe dissipels van Jesus, saam in diens van God se nuwe wêreld.
Deur in samewerking met kollegas, kerkraad en bedieningsleiers werk om die gemeente se visie prakties te beliggaam.
Geskikte kandidaat
Die geskikte kandidaat sal oor die volgende eienskappe en vermoëns beskik:
- ’n Predikant wie se preke en geestelike begeleiding goeie teologiese begronding, kon tekstuele relevansie en geestelike diepte het, wat getuig van ’n deurleefde spiritualiteit.
- Bewese leierseienskappe en spanspeler om saam met kollegas die gemeente se visie te laat vergestalt. Ervaring van ±15 jaar of meer sal in ’n kandidaat se guns tel.
- Aanpasbare predikingstyle vir verskillende eredienskontekste:
- Die vermoë om klassieke en kontemporêre erediensstyle te hanteer en waar nodig te kombineer.
- Om families met kleiner kinders, tieners, jong volwassenes en senior lidmate in te sluit in die erediens en aan te spreek op relevante wyses.
- Die vermoë om verhoudings te bou en mense aan mekaar te verbind in netwerke van omgee en vriendskap. ’n Opregte belangstelling in en liefde vir mense, wat mense wat los staan van die kerk verwelkom, insluit en intrek.
- Die vermoë om lidmate te betrek in geleenthede vir diensbaarheid, om hulle gawes en passies raak te sien en te ontgin, en om sodoende lidmate te bemagtig om hulle eie roeping en die roeping van die gemeente uit te leef.
Indien jy jouself vereenselwig met hierdie visie en eienskappe en geroepe voel om saam met die gemeente aan verhoudingsbou en diensbaarheid gestalte te gee, nooi ons jou graag om aansoek te doen.
Vergoeding: Salaris volgens die sinodale skaal vir predikante. Daar word verwag dat die geskikte kandidaat binne die gemeentegrense woonagtig sal wees. Die gemeente beskik oor ’n pastorie.
Aansoeke:
Stuur ’n CV met drie verwysings, asook ’n motiveringsbrief waarom jy jouself in hierdie pos sien, vir Jackie Pretorius by jackie@dgkerk.co.za
Kandidate moet tot ’n onderhoud bereid wees asook op versoek ’n digitale kopie van ’n preek voorsien.
Sluitingsdatum vir aansoeke: 30 September 2026.
Diensaanvaarding: 1 Januarie 2027.
Navrae:
Dr Tinus van Zyl: tinus@dgkerk.co.za / 083 289 4985.
Johan Benade: johan.benade@icon.co.za / 082 464 7025.
