Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Die Noordelike Sinode van die NG Kerk vergader vanjaar van 18 tot 22 Oktober by Weesgerus, die bekende vakansieoord net buite Modimolle, voorheen bekend as Nylstroom. Foto's: Morné Jacobs

Sinodesitting 18-22 Oktober: Noordelike Sinode ‘wil ou verbintenisse hernu en nuwes smee’

“Dit is nie vanselfsprekend dat mense vyf dae van hulle tyd gee om so saam te wees nie,” het ds Lizl-Louise Schoeman op die eerste dag van dié sinodale streek se vergadering gesê. “Ons is hier om ou verbintenisse te hernu en nuwes te smee,” het Schoeman verduidelik. Nioma Venter vertel meer uit Modimolle.

LEES OOK: Nuwe leiers verkies by Oostelike Sinodesitting

Die Noordelike Sinode van die NG Kerk vergader vanjaar van 18 tot 22 Oktober by Weesgerus, die bekende vakansieoord net buite Modimolle, voorheen bekend as Nylstroom. Die oord word dikwels vir kerkvergaderings gebruik vanweë sy goed toegeruste konferensiefasiliteite en die gasvryheid waarvoor dit bekend is. Dit is die 23ste sitting van die Noordelike Sinode.

Die werksagenda se voorwoord bied ’n oorsig van die geskiedenis van die NG Kerk in Transvaal. In 1954 besluit die kerk om in twee streke te verdeel, naamlik ’n noordelike en ’n suidelike deel, elk met sy eie kerklike leierskap. In 1957 het die twee streke formeel as die Sinodes van Noord-Transvaal en Suid-Transvaal tot stand gekom. Die Oos-Transvaalse Sinode het in 1979 afgestig. In 1994 het die Noord-Transvaalse Sinode sy naam amptelik na die Noordelike Sinode verander.

Die voorsitter van die Noordelike Sinode, ds Lizl-Louise Schoeman, het die 237 afgevaardigdes van honderd gemeentes, sestien ringe, drie provinsies en drie lande verwelkom. Die sinode sluit ook gemeentes in Zimbabwe, Zambië en die SA Gemeente in die Verenigde Koninkryk, in. Die laasgenoemde gemeente kon vanjaar nie ’n afvaardiging stuur nie.

Ds Lizl-Louise Schoeman

“Dit is nie vanselfsprekend dat mense vyf dae van hulle tyd gee om so saam te wees nie,” het Schoeman gesê.

Sy het verduidelik dat die Noordelike Sinode reeds tien jaar gelede, tydens sy 21ste sinodesitting in 2016, besluit het om sulke geleenthede hoofsaaklik te gebruik om doelbewus saam te onderskei, eerder as om die fokus net op verslae en debatte te laat val.

“Verhoudings is in ons DNS,” het Schoeman gesê. “Ons is hier om ou verbintenisse te hernu en nuwes te smee. Ons is hier om met teologiese integriteit te besin oor ons rol as kerk in ’n uiters onseker wêreld, maar veral ook om te onthou aan Wie ons behoort en Wie ons stuur.”

Die week se verrigtinge het Sondagaand afgeskop met ’n tweeuurlange erediens in die NG Gemeente Waterberg. Die kerkgebou is self ’n betekenisvolle plek van ontmoeting vir die sinode. Die gemeente is in 1860 gestig en is een van die oudste gemeentes in die destydse Transvaal.

Die kremetartboom is die simbool van die Noordelike Sinode.
Dr Diederick Basson en Me Johanna Roos open die sinode tydens ‘n erediens met ‘n orrel- en viooluitvoering in die NG Gemeente Waterberg. Foto: Verskaf

Die erediens is met ’n orrel- en viooluitvoering ingelui. Dr Diederick Basson, argiefbestuurder by die Universiteit Stellenbosch, was die orrelis en me Johanna Roos die violis. Die besondere orrel, met 1 999 pype, is een van die grootstes noord van Pretoria. Die gemeentesang tydens die erediens was ’n besondere belewenis.

Die sinode se tema, Droomdraers, het duidelik na vore gekom in Schoeman se oordenking oor die Skriflesing uit Genesis 25:7-11.

“’n Kerk wat net met haarself besig is, droom te klein,” het sy gesê. Sy het verduidelik dat dit nie hier gaan oor lugkastele of ’n wenslys nie, maar oor die droom wat aan God behoort: God se droom vir sy skepping. Soos Abraham is ons bloot draers van God se droom.

Tydens die nagmaalsviering het dr Fanie Cronje die sinodegangers herinner aan God se verbond met Abraham en hoe hierdie verbond deur die geslagte heen voortgeduur het – tot nou, tot hier, en ook met ons as kerk.

Die sinodesitting duur tot Donderdag 22 Oktober. Nuus uit die vergadering sal deur die loop van die week gedeel word.


Dr Nioma Venter is ’n afgevaardigde en die algemene sekretaris van die NG Kerk.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Gesels saam

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Scroll to Top