Die NG Kerk gaan nie ophou bestaan nie. Dít was die boodskap van die historiese terugskoue op die tweede dag van die Noordelike Sinode se sitting by Weesgerus, Modimolle – en die vertrekpunt vir die gesprek oor die kerk se toekoms op dag drie. Foto’s: Morné Jacobs.
Die toekoms van die kerk word op die trou van God gebou. Soos Israel se ballingskap nuwe perspektiewe op identiteit, vreemdelingskap en die toekoms gebring het, kyk sinodegangers egter eerlik na die uitdagings van binne en buite die kerk wat haar toekomstige gestalte sal beïnvloed.

LEES OOK: Noordelike Sinode | Dag 2: Om te onthou, sodat ons kan verbeel en leef
Taakspan Toekoms se verslag was op dag 3 aan die beurt. Die breë perspektief waaruit die taakspan sy opdrag benader het, was opvallend. ’n Span kundige lidmate, onder wie ’n statistikus en ’n antropoloog, het die sinodegangers geneem op ’n verkenning van die demografiese tendense, beskikbare statistiek en data, die kerk se hulpbronne, infrastruktuur en leierskap op alle vlakke van kerkwees, asook die politieke en maatskaplike omgewing waarbinne die kerk in die komende jare sal moet funksioneer.
Die grondslag vir die gesprek oor die kerk se toekoms is vroegoggend gelê toe dr Yolande Steenkamp die vergadering aan die hand van Esegiël 47:1-13 en 22-23 begelei het. Herstel en genesing is nodig om ’n nuwe toekoms te kan verbeel. “Wat ons glo van die toekoms, bepaal hoe ons die toekoms tegemoetgaan,” het sy verduidelik. Ons geestelike verbeelding (teologiese begrip), verklap ook wat vir ons belangrik is en watter waardes ons rig. Sonder nadenke hieroor loop ons die gevaar om blindelings deur omstandighede meegevoer te word. Só is dag 3 se tema, Verbeel môre, op die tafel geplaas: Waarheen nooi God sy kerk? Kan ons dit sien?
LEES OOK | Sinodesitting 18-22 Oktober: Noordelike Sinode ‘wil ou verbintenisse hernu en nuwes smee’
Steenkamp het die vergadering bekendgestel aan die Kousale Laagontleding-metode. Dit is ’n tegniek wat gebruik word om selfverstaan te verdiep. Dit help met die ontwikkeling van toekomsperspektiewe deur die verkenning van onderliggende sisteme en denkraamwerke.

“Ja, die kerk sal bly voortbestaan, maar sy sal anders lyk, want die konteks gaan teen 2050 dramaties verander,” het Coetzee Bester, antropoloog en een van die aanbieders van die taakspanverslag, gesê. Die uitdaging is om tendense raak te sien en te interpreteer na die praktyk van kerkwees. Daar sal nuut gedink moet word oor die kerk se roeping, leierskap, hulpbronne en bedieningsmodelle. Die taakspan het gepleit vir ’n verskuiwing van ’n selfgerigte oorlewingsingesteldheid na ’n visie op kerkwees wat die evangelie trou bly verkondig en ’n betekenisvolle verskil in plaaslike gemeenskappe maak. Dit vra onder meer ’n nuwe waardering vir kleiner gemeentes en ’n herbesinning oor die gebruik van kerkgeboue in belang van gemeenskappe.
Drie tendense wat uitgelig word in die verslag van die taakspan, is:
- Demografiese verandering: Statistiek dui op ’n afname in die wit bevolking van Suid-Afrika, wat na ’n raming van ongeveer 4,5 miljoen in 2025 tot 3,5 miljoen teen 2045 kan krimp. In die Noordelike Sinode se geografiese gebied het die wit bevolking tussen 2011 en 2022 met 9,1% afgeneem. Hierdie tendense plaas die tradisionele voedingsbasis en die bestaande gemeentemodelle van die NG Kerk onder druk.
- Veranderende kerkstrukture: Die afname in voltydse gemeentepredikantsposte en die groei in die getal kleiner gemeentes vra dat daar nuut oor leierskap en bedieningsmodelle gedink word.
- Die breër gemeenskap as deel van die antwoord: Die taakspan beklemtoon dat gemeentes hulle roeping sterker kan uitleef deur gemeenskapsbetrokkenheid, vennootskappe en die strategiese benutting van hulle bates.
Die verslag waarsku egter teen ’n eenvormige siening van die kerk se toekoms. Die demografiese en ekonomiese werklikhede verskil aansienlik van streek tot streek: stedelike gebiede soos Pretoria lok byvoorbeeld jonger mense uit ander dele van die land, terwyl die werklikheid vir sommige kleiner dorpe en plattelandse gebiede veroudering en bevolkingsafname is. Dit vra dat gemeentes en ringe hulle eie konteks noukeurig lees en nie op ’n enkele model vir die hele sinode staatmaak nie.
Die taakspan het daarop gewys dat tekens van finansiële en organisatoriese agteruitgang soms reeds tien tot twaalf jaar voor ’n gemeente se sluiting sigbaar is. Beter data kan help om hierdie waarskuwingstekens vroeër raak te sien en gemeentes betyds met ondersteuning en begeleiding te help.
Die voorsitter van die Taakspan Toekoms, prof Cobus van Wyngaard, het beklemtoon dat die gesprek oor die toekoms belangrik is omdat dit bepaal wat die kerk vandag doen.
Kleiner gemeentes, KI en studentebediening
In die middag het sinodegangers in kleiner groepe oor verskillende bedieningsvraagstukke besin. In die terugvoersessie, terug in die groot vergaderlokaal, het kleiner gemeentes (wat sowat 8% van die sinode uitmaak, maar ongeveer 80% van die gebied bedien) die sinode bedank vir die moeite wat daar gemaak word met ondersteuning vir die unieke behoeftes van hierdie gemeentes. ‘Ons word raakgesien’, het die spreker gesê wat terugvoer gee.
Dr Pieter Visser, wat uit die gespreksgroep oor kunsmatige intelligensie (KI) terugvoer gegee het, het gewaarsku dat gemeentes moet onderskei watter take aan tegnologie toevertrou kan word en watter verantwoordelikhede menslik onvervreembaar bly. Die groep het beklemtoon dat die verhouding tussen mense onvervreembaar sentraal staan in die diepgang van die bediening.
Ds Christiaan Oberholzer, ds Anuschka Smit en ’n groep studente het die vergadering vertel van die groot aanpassing wat eerstejaars moet maak wanneer hulle deel word van ’n onbekende en diverse universiteitsgemeenskap. Dit het dikwels ’n groot invloed op die geestesgesondheid van hierdie jongmense. Die oorgang kan studente kwesbaar laat, maar bied terselfdertyd aan gemeentes soos Universiteitsoord die geleentheid om ’n geestelike tuiste te skep. Studente het getuig van die voorreg om nie net in ’n gemeente tuis te kom nie, maar ook om daar diensbaar te wees. Die verantwoordelikhede wat hulle ontvang, vorm hulle op maniere wat veel verder strek as hulle akademiese opleiding.
Die studenteleraars het kollegas in gemeentes genooi om hulle te laat weet wanneer jongmense uit hulle gemeentes universiteit toe kom. “Julle studente is ons studente,” sê Oberholzer.
Dr Nioma Venter is ’n afgevaardigde en algemene sekretaris van die NG Kerk.
