Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Ds Tienie Swanepoel is verkies as nuwe voorsitter van die sinodale kommissie van Noord-Kaapland, hierdie streek se oorsigliggaam tussen sinodevergaderings wat tweejaarliks gehou word. Foto: Heléne Meissenheimer

In gesprek met Tienie Swanepoel (Noord-Kaapland): Lesse geleer oor debat en diakonaat

Die NG Kerk in Noord-Kaapland se sinodevergadering is gehou van 12-15 Oktober in Kimberley. Heléne Meissenheimer (HM) vra ds Tienie Swanepoel (TS), hulle nuutverkose voorsitter, oor die lesse geleer en die sinode se prioriteite vir die volgende paar jaar.

 

HM: Ek is verras met die sinode se besluit om geldelike ondersteuning na Caritas Gemeenskapfokus af te skaal. Uit hierdie gesprek oor vennootskappe tussen die kerk en haar hulporganisasies – watter lesse het jy geleer?

TS: Jy vra wat het ek wyser geword uit die gesprek op die sinodevloer? Dat Babelse verwarring en ’n opeenstapeling van misverstande en verwyte nog steeds kenmerkend van die mens is. Na beide kante toe. Dit was hartseer om aan te hoor.

Lees ook: NG Kerk Noord-Kaapland | Dag 3: Sinode slaan nuwe koers in met samewerking tussen gemeentes en Caritas

Gelukkig is daar twee dokumente in ons agenda wat die inhoud van hierdie verwarring vir ons mooi uitstryk en toelig. Op beredeneerde en deurdagte wyse, sorgvuldig deur verteenwoordigers van die twee kante geformuleer, kry ons begrip van die twee uitgangspunte.

Die een dokument is die beskrywingspunt van die Ring van Warrenton wat vra dat die Sinode Noord-Kaap die diens van barmhartigheid weer op gemeentevlak vestig en laat herlewe; die ander is die voorgestelde vennootskapsooreenkoms tussen die sinode en Caritas Gemeenskapsfokus waar die sinode op agt terreine Caritas sal befonds en waarin Caritas hulle gebied van operasie duidelik en onomwonde omlyn.

Beskrywingspunt: In die afgelope jaar is bevind dat die begrip ‘diens van barmhartigheid’ bykans – darem nog nie heeltemal nie – uitgesterf het in gemeentes in Noord-Kaapland. En dit mág nie. Die liggaam van Christus IS diens van barmhartigheid, die uitreik ná en versorging van noodlydendes. Die Ring van Warrenton vra dat ons ’n interne maatskaplike ondersteuningsdiens instel wat elke enkele gemeente kan begelei, bemagtig, ondersteun en aanmoedig om weer die liggaam van Christus uit te leef. Dáárin is lewe. Die lewe in Christus.

Caritas: Volgens inligting uit alle oorde is Caritas Gemeenskapsfokus ’n maatskaplike organisasie by uitnemendheid. Volgens ander maatskaplike organisasies in die Noord-Kaap is Caritas die maatstaf (die benchmark) waaraan ander welsynsorganisasies hulleself meet (en bevind dat hulle nog by Caritas moet leer). Ongelukkig is Caritas ook ’n slagoffer van ’n nepotistiese en korrupte regering, wat Caritas se hoofbron van inkomste is. Die befondsing wat die Noord-Kaapse sinode tans voorsien, help om kritieke en noodsaaklike gate toe te stop.

’n Oënskynlik klein, maar bepalende kwalifikasie in die voorgestelde vennootskapsooreenkoms tussen die kerk en Caritas is egter die volgende: “die Kerk neem kennis van statutêre maatskaplike dienste volgens die riglyne van die Kinderwet 38/2005, wat in die landdrosdistrikte van Kimberley en Vryburg deur Caritas se maatskaplike werk kantore gelewer sal word” (p84) en “die werksaamhede van Caritas sal nie die gemeentediakonaat van die Kerk vervang nie …” (p85). Binne hierdie konteks word ‘diakonaat’ hier as sinoniem met maatskaplike diens en/of diens van barmhartigheid beskou – en dat Caritas dus nie op gemeentevlak by hierdie diens betrokke gaan raak nie.

’n Sinode wat nie op gemeentevlak diens van barmhartigheid verrig nie, sterf in haar Christelike aard en wese. Ons verstaan dit so dat Caritas tans nie aanbied om ons hierin by te staan nie.

Ons staan nie onsimpatiek teenoor die finansiële nood van Caritas nie. Trouens, die hele Suid-Afrikaanse samelewing ly tans onder die korrupsie en wanbestuur binne die staat. Ons het dus inderwaarheid empatie met Caritas se finansiële situasie. Ons sal nog wil bly help, maar nie ten koste van die hervestiging en die herlewing van die diens van barmhartigheid in ons gemeentes nie. Dáár, in die diens van barmhartigheid, is herlewing. Die herlewing in Christus. Die Noord-Kaaplandse sinode het dit nou dringend nodig.

Ons het 18 maande om tot ’n vergelyk te kom.

Op die laaste dag van die sinodesitting is ’n nuwe groep bedienaars van die Woord gelegitimeer. Foto: Dr Nioma Venter

HM: ’n Derde van gemeentes in julle streek is sonder vaste predikant. Wat bied hulle hoop?

TS: Die sinode van Noord-Kaapland is nou in ’n baie soortgelyke posisie as waar die gemeente van Tessalonisense hulle in circa 50-51 nC bevind het. By daardie gemeente is hulle leraar na slegs drie preke deur oproeriges uit die stad verjaag, om nooit weer terug te keer nie. ’n Jaar of drie later skryf daardie einste leraar, Paulus, lofliedere oor hierdie gemeente. Ouderlinge, diakens, gelowiges in Christus en in die Heilige Gees het ’n effektiewe bediening aan twee provinsies met ’n gesamentlike bevolking van ± 4 350 000 mense gelewer. Die gemeente het gedy. Sonder ’n leraar.

Dit kan.

Op ons sinode het twee gassprekers, dr Jaco Botha van Hugenote Kollege en prof Marius Nel van die Teologiese Fakulteit op Stellenbosch, aan ons kom verduidelik dat:

(1) Noord-Kaap sinode aan die voorpunt van die ontwikkeling van die bedienaarsamp staan. Botha het selfs van die “internasionale” voorpunt gepraat. Groot woorde.

(2) Nel het verduidelik daar is 16 ampte in die kerk van Christus in die Nuwe Testament.

Oor ’n hele paar jare nou al is die grondslag in die Noord-Kaap vir ’n nuwe bediening onder nuwe – eintlik klassieke Bybelse – omstandighede gelê. Dit geskied deur die teologiese opleiding van lidmate as bedienaars van die Woord en diensleraars. Hierdie ampte help ons sinode waar sowat ’n derde van gemeentes sonder voltydse leraars is.

Die voorbereiding en al die gepaste woorde tot dusver, moet nou net voete kry.

  • Ds Tienie Swanepoel is verkies as nuwe voorsitter van die sinodale kommissie van Noord-Kaapland, hierdie streek se oorsigliggaam tussen sinodevergaderings wat tweejaarliks gehou word.

 

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Gesels saam

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Scroll to Top