Afgevaardigdes by die onlangse sitting (25–28 Oktober) van Hoëveld Sinode buitekant Modimolle het vrywillig bygedra tot die reiskoste van Effata se bediening aan dowes in die Vaaldriehoek en Potchefstroom. Ná die vergadering het ds Jaco van Wyk kortliks aan Kerkbode sy eie storie vertel asook meer gedeel oor die bediening aan dowes in Suid-Afrika.
“Ons Facebook (Effata vir Dowes) en Whatsapp Broadcast-groep se “luisteraars/kykers” word meer (210 Afrikaanse dowes en 90 Engelse dowes),” het ds Van Wyk ondermeer in sy verslag aan sinodegangers geskryf.
“Sommige mense vra my soms laat op ʼn Sondag of die boodskap nog op pad is. Dit wys vir my dat hulle belangstel om na die dienste te kyk of luister. Ons beskik ook oor TikTok (Persoonlike blad). Met die video-bediening stuur ek kort, 3-minute geestelike boodskappe uit op Dinsdae en Donderdae. Boodskappe word afsonderlik in Afrikaans en in Engels (SASL) opgeneem.”
Daar is nie gemeentes vir dowes in die Vrystaat, Limpopo, Noord-Wes, Mpumalanga, Noord- Kaap of Oos-Kaap nie, volgens Van Wyk. In die Wes-Kaap is 2 gemeentes, in Bellville en Worcester.
