Kerke vind mekaar oor regverdigingsleer

Delft (Nederland). – Ná 500 jaar het gereformeerdes en Rooms-Katolieke eindelik die strydbyl oor die regverdigingsleer begrawe.

Dit het gebeur tydens ’n indrukwekkende, hoogs simboliese erediens op Woensdagoggend 5 Julie in die stadskerk in Wittenberg, dieselfde stad waar die vader van die Hervorming, Martin Luther, sy 95 stellings op 31 Oktober 1517 teen die deur vasgespyker het.

Reeds in 1999 het die Vatikaan en die Lutherse kerke ’n verklaring onderteken waarin die geskil oor die regverdigingsleer uit die weg geruim word. Sedertdien het die Metodiste bygekom en nou het die WGGK hom nou hierby aangesluit.

Die diens in die Wittenbergse Kerk was die hoogtepunt van die WGGK se sewejaarlikse Algemene Vergadering wat vanjaar in Leipzig gehou word. Die WGGK verteenwoordig 225 kerkgenootskappe en sowat 80 miljoen Christene wêreldwyd.

Die Algemene Vergadering is ook toegespreek deur die Duitse seremoniële president, Frank-Walter Steinmeier, lidmaat van ’n konserwatiewe Duitse gereformeerde kerkgenootskap.

Die regverdigingsleer was die sentrale punt waarop Luther destyds van die Katolieke weggebreek het. Sy oortuiging was dat ’n mens slegs deur geloof en Christus se genade gered word, pleks van deur aflate te koop en goeie werke te doen, soos die Katolieke geglo het.

Gesprekke tussen Katolieke en Protestantse teoloë vind al sedert die vroeë jare sewentig plaas.

In die gesamentlike Lutherse en Katolieke verklaring wat die grootste Gereformeerde liggaam nou ook onderteken het, word gewag gemaak van ’n “welkome mate van samestroming oor die regverdigingsleer”, en dat die “historiese leerverskille … ons nie langer skei nie”. Albei verbind hulle tot ’n “konsensus oor die grondwaarhede van die regverdigingsleer”.

In die verklaring staan uitdruklik: “Die geregverdigde leef vanuit die geloof wat uit die Woord van God kom en in die liefde werk wat die vrug van die Gees is.” En: “Gemeenskaplik bely ons: Alleen uit genade in die geloof aan die heilsdaad van Christus, nie op grond van ons verdienste nie, word ons deur God aangeneem en ontvang ons die Heilige Gees, wat ons hart vernuwe en ons tot goeie werke oproep.”

In sy eie verklaring herbevestig die WGGK dat die mens slegs deur geloof geregverdig kan word. Die WGGK stem saam met die Lutherane en Katolieke dat die regverdigingsleer ’n “sentrale plek in die essensiële leerstellings van die Christelike geloof het”.

Hiermee is ’n wesenlike teologiese verskil tussen Protestante en Rooms-Katolieke uit die weg geruim deurdat laasgenoemdes in wese die Protestantse oortuiging oor die regverdigingsleer aanvaar het.