Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
Sedert die besluit van die Algemene Sinode oor selfdegeslagverhoudings worstel kerkleiers en lidmate met die Skrif om te verstaan wat God hieroor sê. Op hierdie wyse het daar nuwe besinning gekom oor seksualiteit en gevolglik ook oor die huwelik, skryf Dirkie van der Spuy.
Die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke het in sy studiestuk “The South Africa we shall pray for” ook bevind dat een van die grootste krisisse in ons land waarvoor die kerk nou moet bid en verantwoordelikheid neem, juis die verval van die huwelik is.
In 2014 was 62% van Suid-Afrikaanse families enkelouers en slegs 38% het bestaan uit bestendige huwelike tussen ’n man en ’n vrou. Vaders het ongemerk uit huisgesinne verdwyn met die gevolg dat kinders met afwesige vaders grootword met al die slegte gevolge wat daarmee saamgaan.
Wat sê die wêreld oor die huwelik?
Die Bybel waarsku ons in Romeine 12:2 dat ons versigtig moet wees dat ons denke nie deur die wêreld beïnvloed of mislei mag word nie.
Die wêreld beïnvloed byvoorbeeld die kerk in ons dag sodat sommige mense nie meer glo aan wonderwerke, Christus se maagdelike geboorte, sy opstanding, God se erns en oordeel oor sonde, ensovoorts nie. So het die wêreld ook in ons dag veral op die huwelik begin fokus sodat dit as uitgedien gesien word en dat seks buite die huwelik reg en aanvaarbaar is.
Die wêreld, die media en die TV breinspoel ons om die huwelik nie meer te ag nie en dat buite-egtelike verhoudings aanvaarbaar is. Egskeiding is die normale oplossing vir probleme.
Jongmense wil nie meer trou nie, omdat hulle ouers geskei is en hulle net ’n slegte voorbeeld van die huwelik ken. Daarom bly hulle liewers saam en vermy so duur hofsake en hou ’n agterdeur oop as dit lyk of dit nie gaan uitwerk nie.
Wat is God se bedoeling met die huwelik?
God self het die huwelik ontwerp, uitgedink en geskep. Hy het Adam en Eva saamgevoeg om in ’n permanente eenheid te leef en nooit van mekaar te skei nie en mekaar met opofferende en onselfsugtige liefde lief te hê soos Christus. Vergelyk Efesiërs 5:25 en Matteus 19:3-6.
God het ook seksualiteit ontwerp as iets mooi en goed en dit dwarsdeur die Skrif duidelik gemaak dat die seksuele slegs binne die huwelik hoort. Kinders moet verwek word en opgroei binne hierdie veilige permanente liefdesgrense.
Daarom was daar streng voorskrifte in die Ou Testament om die huwelik hoog en heilig te ag. Seksuele gemeenskap buite die huwelik word ten sterkste veroordeel en gestraf. (Lees byvoorbeeld Deut 22:20-21.)
Paulus skryf ook in 1 Korintiërs 7:9 aan die gelowiges dat as hulle brand van begeerte in hulle verhouding moet hulle liewers trou – met die implikasie dat hulle nie voor die huwelik oor die tou moet trap nie.
Die Bybel maak dit duidelik dat God ontrouheid en egskeiding haat. Daarom waarsku Hy ons om die huwelik mooi in stand te hou sodat ons kinders in liefde en sekuriteit kan opgroei (Mal 2:13-16).
Jesus self het gepraat oor seksuele reinheid en gewaarsku dat dit selfs in ons gedagtes moet begin. Vergelyk Matteus 5:28.
Herstel die huwelik tot eer van God.
Terwyl ons saam met alle Christelike kerke in ons land bid vir die herstel van huwelike, laat ons ook weer daaroor preek en vir ons kinders modelleer hoe wonderlik die huwelik is wat God bedoel het.
Die skrywer is voorsitter van die Oostelike Sinode se sinodale diensraad en ondervoorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen
