Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Jan Louw van Reitz skryf:
Kerkbode (22 Januarie) sê daar is wysheid nodig om die meningsverskil in die NG Kerk te hanteer en bring daarmee saam ook gehoorsaamheid en insig om reg te doen, te berde.
Ons lees in 1 Konings 13 hoe ’n man van God ’n belangrike boodskap op dramatiese wyse aan die koning oorgedra het. ’n Ou profeet vra die man toe om eers by hom te kom eet. Die man van God het geantwoord: “Nee, die woord van die Here aan my was uitdruklik: Ek mag in hierdie plek geen kos eet of water drink nie.”
Die profeet het egter vir die man gesê: “Ek is ook ’n profeet net soos jy en ’n engel het op bevel van die Here vir my gesê: Bring hom terug na jou huis toe en laat hy iets eet en sy dors les!”
Die man van God het hom laat mislei en hy het by die profeet gaan eet. Op pad huis toe het ’n leeu die man van God doodgemaak. Die leeu het saam met die man se donkie wag gestaan by die liggaam van die man van God. Dit was vir die mense van Bet-El ’n teken dat God stiptelike gehoorsaamheid van mense in sy diens verwag.
Die Eenjaarbybel se kommentaar oor die gedeelte is as volg: U moet altyd vertrou op wat die Skrif sê en nie op die dinge wat volgens die mense reg en waar is nie.
Paulus sê: Al sou ’n engel uit die hemel aan julle ’n evangelie verkondig wat in stryd is met die evangelie wat ons aan julle verkondig het – die vloek van God sal hom tref! (Gal 1:8).
Dit is die erns van die situasie waarmee die NG Kerk in hierdie dae moet rekening hou as ons praat van gehoorsaamheid om reg te doen.
Lesers kan briewe rig aan Die Redakteur, Kerkbode en dit na kerkbode@tydskrifte.co.za stuur. Korter briewe, verkieslik nie langer as 300 woorde nie, geniet voorkeur by plasing. Briewe sal redaksioneel versorg word en kan ook verkort word.
