Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
André Louwrens skryf:
Chris van Wyk (Kerkbode, 5 Februarie) vereenvoudig nie regtig die debat as hy sê ons liefde vir God vra gehoorsaamheid aan die Skrif se riglyne vir verhoudinge nie. As hy presies weet wat is hierdie riglyne, hoekom het hy ons nie lankal gesê nie?
Tweedens is die dinamika wat verhoudinge destyds gereguleer het, ligjare verwyder van die dinamika wat dit tans reguleer. ’n Hedendaagse, eksklusiewe, homoseksuele verhouding tussen twee Christene is vir die Bybel ’n anachronisme.
Derdens: Werk ons slegs met eksegetiese konsensus oor moeilike kwessies, word min oorgelaat aan ons etiese verbeelding wat tog dinamies omgaan met die era waarin ons lewe. Dan word geloofsonderskeiding gereduseer tot teksuitleg.
En dan is ons in ’n hoek as ons geloofwaardig wil oorkom oor slawerny en watter model ons ondersteun: Salomo se vroue of Paulus se selibaat, of selfs sterk leiding oor aborsie en genadedood wil gee.
Ek is nie so seker soos Chris dat ons verskil oor die breë lyne soos liefde en barmhartigheid en inklusiwiteit nie. Inteendeel, as ons in ’n tydmasjien kon klim om die opwindende ontdekking van nuwe breë lyne (bv ekoteologie) nou reeds te fantaseer, sal ons dalk gemakliker wees met ons onsekerhede.
As ons dan fouteer, laat dit eerder soos Jesus se “foute” wees as Hy gelyke loon uitdeel vir die korter en langer skofwerkers en op die Sabbat koring laat pluk.
Die Evangelies illustreer met ’n eenvoudige gelykenis dat die koninkryk soos ’n oes op die land is waarin onkruid saam met koring groei (Matt 13:24-43). Soms is dit moeilik om te probeer om die onkruid uit te trek, want ’n mens pluk die koring saam uit. Die beste is, volgens die gelykenis, om te wag tot die oestyd. Dan kan ’n mens die koring herken en van die onkruid skei.
Die boodskap is dus: nie te gou oordeel nie. Kyk en weeg versigtig. Moenie dat vooroordele ’n mens blind maak vir die wins van dit wat vir jou anders lyk nie.
Dit is Gamaliëlswysheid: wat van God is, wat geloofsbene sterk laat staan, sal wel mettertyd duidelik word (Hand 5:33-39). Wat nou na ’n bedreiging vir die status quo kan lyk, blyk môre God se werk te wees.
Lesers kan briewe rig aan Die Redakteur, Kerkbode en dit na kerkbode@tydskrifte.co.za stuur. Korter briewe, verkieslik nie langer as 300 woorde nie, geniet voorkeur by plasing. Briewe sal redaksioneel versorg word en kan ook verkort word.
