Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

’n Tweede moontlikheid

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Henk Gous van Quellerina skryf:

Chris Jones (Kerkbode, 19 Februarie) se metode om ruimte te maak vir gay-verbintenisse is om te redeneer dat daar geen Bybelse huwelik bestaan nie. Hy redeneer dat alle verwysings na ’n monogame huwelik tussen man en vrou kultureel bepaal en tydgebonde is. Hy beskou enige beklemtoning van heteroseksualiteit as heteroseksisme, diskriminasie en magsmisbruik.

Die redenasie en Bybelhantering is vir my verstommend en ontstellend!

Ek glo nie ’n mens maak ruimte vir gay-verbintenisse deur die ideaal van die huwelik te verkleineer en te verwoes nie. Ek staan dus sterk by die Algemene Sinode se herhaalde standpunte dat slegs die verbintenis tussen een man en een vrou as huwelik beskou kan word.

Ek glo dat die Bybel en die skepping saam (NGB Art 2) wys dat ’n monogame heteroseksuele huwelik deel van God se bedoeling is. As ons dus ’n kulturele vorm (bv openbare bevestiging met staats- en kerklike erkenning) daaraan gee, is dit ’n uitdrukking van die beste verstaan van die Bybel tans, en ’n verbetering op die modelle wat in die gebrokenheid van die Ou Testament voorkom.

Ek sien dit ook in Jesus se hantering van die vraag oor egskeiding waarin Hy Genesis 2 herbevestig (Matt 19:1-9; Chris se verswyging hiervan is ’n kritieke leemte): lewenslange getrouheid met amptelike bevestiging.

As ’n mens dus wel ruimte wil maak vir gay verbintenisse, lê dit eerder op soortgelyke vlak as egskeiding. In die gebroke werklikheid, is die ideaal soms nie haalbaar nie. Dan kom Jesus se herstellende tweede moontlikhede na vore: hertrou na owerspel of egskeiding, in plaas van lewenslange eensaamheid.

Net so glo ek, dat indien daar ’n fisiologiese beper­king is, Jesus dan tweede moontlikhede oopmaak, spe­si­fiek in Matteus 19:11-12. ’n Gay-verbintenis word so ’n tweede moontlikheid wanneer daar ’n totale, fisiologiese onvermoë tot heteroseksuele aangetrokkenheid is.

’n Burgerlike verbintenis is in ons gebrokenheid ’n beter alternatief as lewenslange eensaamheid, nes hertrou na egskeiding.

Maar dit verkleineer nie die ideale nie: huwelik tussen een man en een vrou.

Geborg

Lesers kan briewe rig aan Die Redakteur, Kerkbode en dit na kerkbode@tydskrifte.co.za stuur. Korter briewe, verkieslik nie langer as 300 woorde nie, geniet voorkeur by plasing. Briewe sal redaksioneel versorg word en kan ook verkort word.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Versprei God se Woord
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top