Daar is nie ’n ‘Bybelse huwelik’ nie

In die kerklike gesprek oor gay-verbintenisse word die Bybelse siening oor die huwelik dikwels geopper. Hier is twee verskillende perspektiewe op die saak as deel van Kerkbode se gay-debat.

Lees ook wat Willem Badenhorst hieroor skryf: Die Bybel kies ’n heteroseksuele antropologie


Só lank reeds word Genesis 2 beskou as ’n verklaring dat die huwelik ’n goddelike instelling is. Maar is dit werklik so? Waarskynlik nét as jy Genesis 2 as ’n histories-letterlike berig aanvaar. Daar is egter al hoe meer Bybellesers én Bybelverklaarders vir wie Genesis 1–11 verhale is wat iets verwoord van mense se soeke na wie hulle was en wat hulle rol in die wêreld behoort te wees. Die skeppingsverhaal (Gen 1) en tuinverhaal (Gen 2 – 3) is na alle waarskynlikheid eers tydens die Babiloniese ballingskap (of selfs daarna) geskryf.

Vir my is daar nie ’n sogenaamde “Bybelse huwelik” nie. Die huwelik as instelling is ’n sosiale konstruk wat kultureel en tradisioneel bepaal word. Hierom kan “alternatiewe” huwelike vir Christene as geldig aanvaar word.

Kultureel gesproke twyfel ek of die mense van die Ou Testament (ooit), soos ons vandag, die huwelik as ’n juridiese verbintenis beskou het. Dit is nie die indruk wat ’n mens kry uit byvoorbeeld die aartsvaderverhale waarin ’n vrou – soms by ’n put – gaan haal word om die vrou van ’n aartsvader te word nie. 

Die kulturele omgewing van die Ou Testament het nie die “monogame” huwelik geken soos ons dit in ons Westerse kulturele omgewing ken nie. As ons dus die Ou Testament letterlik wil toepas, sal ons moet teruggaan na byvoorbeeld poligamie, harems en die swaers-huwelik. Daarom moet ons die uitleg van die Skrif sensitief benader.

Die Bybelse boeke en literatuur is grootliks menslike pogings om die mense van daardie tyd, hoe hulle die wêreld om hulle verstaan het en wat dit met hulle geloof in God te make gehad het, te beskryf. Toe mense byvoorbeeld agterkom dat hulle tot mekaar aangetrokke voel, ook seksueel, het hulle hierdie “onverklaarbare” werklikheid in ’n teologiese raamwerk probeer verstaan. Hulle het beskryf hoe God, na húlle mening, by hierdie fasette betrokke kon wees.

Ons kry dus nie in Genesis 2 ’n “oorsprongverhaal” nie. Dit is veel eerder ’n “teologiese waarnemings- of interpretasieverhaal”.

Die doel van Genesis 2 (en Gen 1) is daarom nie om al die “variasies op die tema” uiteen te sit nie. Hier word byvoorbeeld niks gesê oor hoeveel keer ’n man hom aan ’n vrou mag verbind nie. Dié gedeelte sê ook nie vir ons hoe die seremonie of ritueel waardeur hierdie verbintenis bevestig word, moet lyk nie. Hierdie Bybelgedeeltes laat ons nie toe om ’n spesifiek geformuleerde teologie oor die huwelik uit te werk nie.

As ons Genesis 2 só lees en verstaan, is dit redelik duidelik dat daar nie sprake van ’n amptelike verbintenis was nie. Wat wel ter sprake was, is wederkerigheid, verhoudingsgerigtheid en aangewesenheid op mekaar as man en vrou. Dít was die hooffokus.

Omdat hierdie Bybelgedeelte na my mening uit menslike waarneming en teologiese interpretasie van destyds spruit, is hier ook nie sprake van ander vorms van verhoudings soos ons dit vandag ken nie, soos byvoorbeeld homoseksuele verhoudings/verbintenisse nie.

Genesis 2 is geskryf vanuit ’n meerderheidsperspek­tief (met ander woorde ’n heteroseksuele én patriargale perspektief). Dit probeer nie nadink oor al die verskillende soorte verhoudings of verbintenisse wat bestaan nie. Juis daarom kan ons met redelike sekerheid sê: Dieselfde waardes wat in Genesis 2 aangedui word as dié waardes wat die verhouding tussen man en vrou moet kenmerk, moet ook die vertrekpunt wees vir waardes wat andersoortige verhoudings behoort te kenmerk.

Wat in hierdie opsig ook belangrik is, is dat kerke tradisioneel heteroseksuele instansies is – dit aanvaar dat heteroseksualiteit die normatiewe vorm van menslike seksualiteit is. Alle ander vorms van seksuele oriëntasie is gevolglik afwykend. Daarom kan dit nie aan die ideale uitdrukking van ’n individu se menswees voldoen nie.

Hetero-seksisme is presies soos seksisme en rassisme. Dit bevoorreg ’n bepaalde sosiale groep en diskrimineer teen die groep wat hulle “die ander” noem. Dit is dikwels ’n kwessie van mag.

’n Teologie van hetero-seksisme (sien Gen 1:27-28 en 2:18-25) is oortuig dat, wat God in die begin sou geskep het, universeel normatief vir die menslike samelewing moet wees. Op dié aanname volg dat slegs hete­ro­seksuele “partners” mekaar werklik kan aanvul.

Dít verabsoluteer die heteroseksuele huwelik. Die feit dat daar slegs één moontlikheid gelaat word vir die uitdrukking van menslike seksualiteit, is ongeldig en onaanvaarbaar.

In die Bybel lees ons van verskillende vorme van huwelike. Oor die eeue asook oor die wêreld heen was die huwelik dinamies, vloeiend en veranderend. Daar is nie net één, normale, natuurlike vorm en/of model van die huwelik nie. Wanneer menslike instellings as goddelik en onveranderlik voorgehou word, soos ons met die huwelik doen, mislei ons mense. 

Net soos die Ou Testament bevat die Nuwe Testament nie werklik ’n bespreking van die huwelik nie. Eintlik beveel die Nuwe Testament aan dat mense selibaat bly en net trou as hulle hulle nie kan “beheer” nie.

Daar is nie ’n enkele woord in die Bybel wat die toegewyde verbondsliefde van selfdegeslag-paartjies wat begeer om ’n familie te word, eksplisiet verbied nie. Om jouself in liefde vir iemand te gee, is Godgegewe. En dít moet gerespekteer word deur súlke mense toe te laat om hulleself in die huwelik (of verbintenis) te ver­enig, waarbinne hulle kinders kan groot maak én laat doop. As ons gays nie hierdie lewensmoontlikheid gun nie, wat gun ons hulle dan?


Kerkbode nooi sy lesers om deel te neem aan die debat deur briewe van hoogstens 300 woorde te skryf aan kerkbode@tydskrifte.co.za. Hou die briewe asseblief saaklik, sodat die debat bo die vlak van persoonlike aanvalle kan bly.