Die Bybel kies ’n heteroseksuele antropologie

In die kerklike gesprek oor gay-verbintenisse word die Bybelse siening oor die huwelik dikwels geopper. Hier is twee verskillende perspektiewe op die saak as deel van Kerkbode se gay-debat.

Lees ook wat Chris Jones hieroor skryf: Daar is nie ’n ‘Bybelse huwelik’ nie


Die huwelik verkeer onder geweldige druk en word van alle kante onder die vergrootglas geplaas. Dit word dikwels ’n nou tregter waardeur al die frustrasies van twee mense in ’n huwelik geforseer word.

Die hedendaagse huwelik werk soos ’n seismograaf waarop die skokke en spanning van die sosiale milieu geregistreer word. Daar word geweldige hoë eise aan die huwelik gestel en op die ou end moet huwelike ’n magdom buiteprobleme absorbeer.

Die Bybelse siening van die huwelik is selfs in kerklike kringe onder die soeklig en word uit verskeie oorde bevraagteken. Daarom die vraag: Wat sê die Bybel oor die huwelik?

Die huwelik is ’n verbond en permanente lewensgemeenskap.

Die geloofsvolwasse huwelik hou altyd rekening met die volgende feit: die huwelik is ’n instelling van God.

Thielicke (The ethics of sex: 1964:104-105) beklemtoon dat die huwelik ’n skeppingsordening is wat in verband met God staan. Die huwelik is deel van hierdie geskape orde. Dit beteken nie dat die huwelik ’n sakrament is nie; dit is dus nie ’n medium waardeur ons direk met God se genade in aanraking kom nie. Die huwelik is ook nie iets wat met die buitetydelike aspekte van ons bestaan saamhang nie. In die hiernamaals geld die huweliksverbinding nie (Matt 22:30).

Die huwelik as instelling is ’n gawe van God midde-in hierdie gebroke en verganklike skepping. Die huwelik is nie ’n noodmaatreël teen sonde en vleeslike verderf nie (Calvyn), maar ’n genadegawe met die oog op medemenslike samesyn, afronding en aanvulling van mekaar.

Die eenheid tussen God en huweliksvennote is ten diep­ste ’n aanduiding dat die huwelik ’n verbond is. “There can be no doubt from this evidence that Jesus regarded marriage as a permanent covenant between husband and wife” (Atkinson 1979:70). Die huwelik is dus ’n ooreenkoms tussen God, man en vrou.

As verbond is die huwelik eksklusief. Naas God, die man en die vrou is daar geen plek vir ’n ander persoon nie. Dit impliseer ’n monogame verbintenis wat heteroseksueel gestruktureer is. God het die mens as man en vrou geskape.

Dit is ook as man en vrou dat Hy hulle na mekaar gebring het en tot die twee-eenheid van een vlees saamgevoeg het. Omdat die huwelik ’n verbondsverbintenis is, kan die huweliksluiting en keuse tot ’n huwelik nooit buite die verbondsgemeenskap van God geskied nie (Mal 2:14). Die huweliksgemeenskap word ’n mini-gemeente binne die liggaamsgemeenskap (Ef 5:22, 25, 32).

Die huwelik is ook ’n weerspieëling van God se beeld.

God het twee heeltemal verskillende mense (man en vrou) gemaak, sodat hulle saam sy beeld sou weerspieël (Gen 1:26-27 – mirror his image).

Die Hebreeuse woord vir “weerspieël” is om God te reflekteer, Hom groot te maak, na Hom deur ’n vergrootglas te kyk. Die huwelik tussen man en vrou moet die beeld van God reflekteer na ’n wêreld wat nodig het om te weet wie God is.

Die mens is die enigste skepsel wat in verhouding met God kan tree. As mens het ons persoonlikhede en die kapasiteit tot kreatiwiteit, waarheid, wysheid, liefde, heiligheid en regverdigheid wat die beeld van God weerspieël.

Daarom verwys die “beeld van God” nie na die fisiese “lyk” soos God nie, maar na die nie-fisiese deel van menswees. Die ewebeeld/verteenwoordiging is geestelik (denkwyse), moreel en sosiaal.

Ons lei hieruit af dat God kies om Homself te “teken” deur manwees en vrouwees. ’n Man met al sy kwaliteite en vermoëns weerspieël iets van God en sy karakter. ­’n Vrou met al haar kwaliteite en vermoëns, weerspieël iets anders van God en sy karakter. Die Bybel kies dus vir ’n heteroseksuele antropologie.

Die huwelik is ’n wedersydse aanvulling van mekaar.

Verder het die Here God gesê: “Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom iemand maak wat hom kan help, sy gelyke” (Gen 2:18).

“Tog het die Here bepaal dat die vrou nie sonder die man sal bestaan nie, en die man nie sonder die vrou nie, …” (1 Kor 11:11).

“Sy sal mannin genoem word, want sy is uit die man geneem” (Gen 2:23).

God het man en vrou geskep as gelyke en om mekaar aan te vul. In Genesis 1:26-31 identifiseer ons aspekte van gelyke waarde van die man en vrou:

– Beide is deur God geskep, na sy beeld, vir God se glorie (vers 26-27);

– Beide is deur God geseën (vers 28);

– Beide word beveel om vrugbaar te wees en te vermeerder (vers 28); en

– Beide het ’n verhouding met God en is verantwoordbaar teenoor Hom (vers 28).

Om as man en vrou mekaar wedersyds aan te vul, beteken om saam iets te skep wat nie apart bestaan nie. Hierdie kameraadskap bring mee dat man en vrou saam ’n span word.

Die huwelikseenheid veronderstel twee verskillende pole wat as manlik en vroulik van mekaar onderskei moet word. Dat man en vrou ’n afsonderlike geslagsidentiteit het, word duidelik in Genesis 1:27 onderstreep: “manlik en vroulik” het God hulle geskape (Anthropologie des alten Testaments. Wolff 1974: 251-252).

Die huwelik kan soos volg omskryf word: Die huwelik is as instelling van God ’n permanente binding en heteroseksuele eenheid. Die huwelik benodig dus die deernisvolle ontferming van God, die versoenende liefde van Christus en die ondersteunende troos van die Heilige Gees.


Kerkbode nooi sy lesers om deel te neem aan die debat deur briewe van hoogstens 300 woorde te skryf aan kerkbode@tydskrifte.co.za. Hou die briewe asseblief saaklik, sodat die debat bo die vlak van persoonlike aanvalle kan bly.