Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Tien stellings oor Levitikus

Die wette van Levitikus kom dikwels ter sprake in die debat oor verbintenisse tussen mense van dieselfde geslag. Hier is twee perspektiewe op die verstaan daarvan. Reageer gerus in briewe na kerkbode@tydskrifte.co.za van 300 woorde of minder.

Lees ook Marius Terblanche se alternatiewe perspektief: Die tekste bly relevant


  • Die boek Levitikus beklemtoon ’n heilige lewe vir die kultiese (aanbiddingsvlak) en etiese dimensies van lewe omdat die Here ’n heilige God is. Vir die geloofsgemeenskap van Israel was ’n heilige lewe nie net ’n lewe wat kulties heilig was nie, maar ook eties heilig. Die eis van ’n heilige lewe op etiese vlak word dan ook heel konkreet gesien in wat geëet en nie geëet word nie; in die manier waarop daar met mense gehandel word en ook in seksuele verhoudings tussen mense.

[aesop_character img=”https://kerkbode.christians.co.za/wp-content/uploads/sites/2/2016/03/Prof-Fanie-Snyman.jpg” caption=”Prof Fanie Snyman is dekaan van die Fakulteit Teologie aan die Vrystaatse Universiteit.” align=”right” width=”270px”]

 

  • Levitikus 18:22 en 20:13 verteenwoordig onteenseglik uitsprake teen homoseksuele dade wat deur heteroseksuele mans gepleeg word.

 

  • Die konteks waarbinne die betrokke tekste staan beklemtoon die behoud van en respek vir familieverhoudings. Homoseksuele dade word veroordeel omdat en in soverre as wat dit die potensiaal het om familieverhoudings negatief te raak.

 

  • Die prohibisies van Levitikus 18:22 en 20:13 is sensitief vir die beskerming van die eer van die man in ’n gemeenskap waar eer en skaamte belangrike sosiale konstrukte was. Die ontering van ’n man deur ’n homoseksuele daad kom neer op ’n liefdelose handeling teenoor so ’n persoon (Lev 19:18).

 

  • Die prohibisies is veral gerig op insidentele seksuele verbintenisse wat potensieel plofbaar in ’n gemeenskap soos ’n uitgebreide familie is.

 

  • Indien die afleiding oor die insidentele aard van die prohibisies geldig is, is dit duidelik dat Levitikus 18 en 20 teen seksuele promiskuïteit waarsku.

 

  • Homoseksualiteit as seksuele oriëntasie was onbekend in Ou-Testamentiese tye. Poligame huwelike wat nie in die Ou Testament verbied word nie en in Levitikus 18:8 veronderstel word en die belangrikheid van die verwekking van kinders binne ’n huwelik is faktore wat homoseksuele verhoudings van liefde en trou tussen manlike persone binne die sosiale strukture van Israel onwaarskynlik maak.

 

  • In die breër verband van die Pentateug (Gen 1 en 2) en die res van die Ou Testament (Hooglied) is dit duidelik dat ’n heteroseksuele verhouding tussen mans en vroue die geldende patroon van geslagtelike verkeer is.

 

  • Hermeneuties gesien is dit ondenkbaar dat die tekste uit die Ou (of Nuwe) Testament lukraak en sonder sensitiwiteit vir die literêre of historiese konteks aangehaal word as vasstaande “bewyse” vir of teen homoseksualiteit in die 21ste eeu.

 

  • Beteken dit dat die stem van die Ou Testament nie gehoor hoef te word in die debat oor homoseksualiteit nie? Hoegenaamd nie. Daar is ander waardes en oortuigings in die Ou Testament wat ook ’n woord kan meespreek in die debat, waardes soos die hoë waarde wat op die huwelik gelê word, liefde, trou, geregtigheid, barmhartigheid, vrede, ’n sensitiwiteit vir die swakke en gemarginaliseerde in die gemeenskap is alles waardes en oortuigings wat kan help in die sensitiewe debat. Verder moet die enkele tekste teen ’n ruimer agtergrond van seksualiteit in die res van die Ou Testament en teen die agtergrond van die Ou Nabye Ooste beskou word.
No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top