Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Die tekste bly relevant

Die wette van Levitikus kom dikwels ter sprake in die debat oor verbintenisse tussen mense van dieselfde geslag. Hier is twee perspektiewe op die verstaan daarvan. Reageer gerus in briewe na kerkbode@tydskrifte.co.za van 300 woorde of minder.

Lees ook Fanie Snyman se alternatiewe perspektief: Tien stellings oor Levitikus


Die uitsprake in Levitikus 18:22 en 20:13 is in kon­krete situasies en omstandighede gegee wat ooglopend ver van ons eie verwyderd is. Moet die sterk afkeer in dié tekste aan seksuele verkeer tussen mans toege­skryf word aan die assosiasie van die tipe seksuele verkeer met heidense kultusse?

In Levitikus 18:3 en 4 word Israel gewaarsku om nie die gebruike van die Egiptenaars en die Kanaäniete na te volg nie. Al die dade wat in Levitikus 18:6-23 verbied word, hou egter ooglopend nie met praktyke in heidense kultusse verband nie.

[aesop_character img=”https://kerkbode.christians.co.za/wp-content/uploads/sites/2/2016/03/Marius-Terblanche.jpg” caption=”Dr Marius Terblanche is predikant van die gemeente Onze Rust in Bloemfontein.” align=”right” width=”270px”]

Levitikus 18:22 word voorafgegaan deur die verbod om ’n kind aan Molek te wy. Moet uit die naasmekaarplasing van die twee wette afgelei word dat beide praktyke wat by die heidense kultusse bedryf is, verbied word?

Levitikus 20:1-5 gee uitvoerig aandag aan die praktyk om ’n kind aan Molek te wy. Die verbod op seksuele omgang tussen mans volg veel later (vers 13), tussen wette wat bloedskande verbied.

Die naasmekaarplasing van die twee wette in Levitikus 18:21-22 sou dus bloot toevallig kon wees.

Levitikus 18:26, 27, 29 en 30 tipeer al die praktyke wat in 18:6-23 verbied word, as tôcēvōt, “gruwelike sondes”. Uit die feit dat beide 18:22 en 20:13 seksuele verkeer tussen twee mans met dieselfde term beskryf, kan dus nie goedsmoeds afgelei word dat dié twee tekste op heidense kultiese praktyke sinspeel nie.

In Levitikus 20 is tôcēvâ een van ’n reeks terme wat tot die woordveld “onrein” behoort.

Op grond van die voorkoms van die term qādēsh in Deuteronomium 23:18 (Masoretiese teks), 1 Konings 14:24 en 15:12 is gepoog om die bestaan van heilige prostitusie in Israel te bewys.

Die voorstelling vind egter nie steun in sowel die leksikografie as kulturele vergelykings nie. Die toonaangewende Dictionary of Classical Hebrew verklaar qādēsh bloot as ’n lid van die kultiese personeel.

Die gebruik van die algemene term “man” in Levitikus 18:22 vir die passiewe persoon tydens seksuele omgang, toon dat enige vorm van seksuele verkeer tussen mans verbied word.

Uit die veroordeling in Levitikus 20:13 van beide persone wat by die seksuele daad betrokke is, blyk dit dat die verbod nie homoseksuele verkragting in die oog het nie.

Bevat Levitikus 18:22 en 20:13 nie seremoniële wette wat geïgnoreer kan word nie?

In Levitikus 19 kom seremoniële, burgerlike en morele wette vermeng voor. Dié wette is bedoel om Israel te help om heilig te wees (19:2).

Die oproep tot ’n heilige lewe word in 20:7, 26 herhaal. Die seksuele verhoudinge wat in hoofstukke 18 en 20 verbied word, bring die heiligheid van Israel in die gedrang.

Vir Nuwe-Testamentiese gelowiges bly die verbod op partydigheid in die regspraak in 19:15 relevant. So ook die wette in Levitikus 18 en 20, wat poog om seksuele gedrag te kontroleer deur die regte grense daarvoor te bepaal. Seksuele verkeer tussen mans oorskry volgens 18:22 en 20:13 dié grense.

Al het die skrywer van Levitikus 18:22 en 20:13 waarskynlik nie homoseksualiteit verstaan soos dit vandag verstaan word nie, bly sy uitsprake uiters relevant vir die besinning oor selfdegeslagsverbintenisse.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top