Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
AC Meyer van Flamwood skryf:
Wat ek mis in al die besprekings teen gays is die afwesigheid van liefde. Sonder liefde is selfs die geloof wat berge kan versit, nutteloos (1 Kor 13:1).
Tweedens mis ek enige kennis of begrip van die vordering van medisyne op die gebied van seksuele anatomiese en histologiese afwykings, bv dat beide ovariale en spermatogeniese weefsel in een mens se liggaam kan voorkom. Ook dat estrogeen en testosteroon (vroulike en manlike hormoon) deur elke man en vrou se liggaam vervaardig word. Die balans tussen die twee (en baie ander hormone) bepaal die funksionering van die menslike liggaam en die psige.
Derdens word die sonde van gays uitgesonder as die grootste van alle sondes. Volgens 1 Timoteus 1:8-10 en 1 Korintiërs 6:9 en verder word homoseksualiteit veroordeel saam met onder meer egbreuk, diefstal, bedrog en kwaadpratery.
Romeine 2:1: Daarom is daar geen verontskuldiging nie, vir jou mens wat ’n ander veroordeel nie, wie jy ook al is.
Romeine 7:4: Deur julle verbondenheid met die liggaam van Christus het julle gesterwe en staan julle nie meer onder die wet nie.
Ons wat die spoedgrens oorskry, wat oor die stoptekenstreep ry sonder om te stop, oortree die landswette en kan ’n kriminele rekord kry. Dan praat ons nie eens oor so baie mense wat God se tempel, jou eie liggaam skade aandoen nie.
Laastens, as ’n mens kyk na die pleidooi teen gay-verbintenisse (Kerkbode, 19 Februarie 2016) se eise vir getroude pare, dan kan gays bykans net so aan dieselfde eise voldoen.
Nou bly geloof, hoop en liefde, en die grootste hiervan is die liefde.
