Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Piet Otto van Griekwastad skryf:
Ek reageer graag as volg op dr Albert Alberts se versoek om “hulp” asook sy vraag of Griekwastad gemeente “sagte oë het”. Hy is natuurlik heeltemal reg dat ’n mens “Skrifinterpretasie seker kan doen soos dit jou siening pas”. Dit is presies wat tans gebeur met die goedkeur van gay-verbintenisse ten spyte van die Skrif se duidelike afwys daarvan. Maar is dit reg?
Hierdie tipe Skrifhantering is alleen moontlik waar daar ’n lae siening van die Bybel bestaan of waar dit heeltemal as God se Woord ontken word. Tydens die reformasie het die hervormers weer die Bybel ontdek as die openbaring van die verborgenhede van God aan sy heilige apostels en profete (Ef 3:4-5). Die verkondiging van hierdie openbaring het dan ook bekend gestaan as “die leer van die apostels/die Here/God/Christus” (Sien oa Hand 2:42, 9:2, 18:26, 22:4). En as God praat het dit drie onontwykbare implikasies vir gelowiges:
- Die Woord is die hoogste en finale gesag oor alle sake.
- Ons moet seker maak dat ons die Woord na God se bedoeling reg verstaan.
- Ons moet daaraan gehoorsaam wees.
Die kerk het hierdie waarhede neergeskryf in die vorm van belydenisskrifte. Belydenisskrifte is die “maatstaf” wat help verseker dat gelowiges die Heilige Skrif reg kan uitlê en die tipe leerdwalings wat ons tans kry kan help voorkom. NGB Art 25 is so ’n belydenis “maatstaf” en daarom nie maar net ’n interpretasie van die Skrif nie maar die “regte” interpretasie. Die NG Kerk deel hierdie waarhede met die kerk van alle eeue. As lidmate van die NG Kerk onderskryf ons hierdie Skrifverstaan.
Sagte oë? Ja, dit word hier in Griekwastad-gemeente geleer. Ons wil in liefde by die waarheid bly (Ef 4:15-16). Vergewis jouself hiervan deur te luister na my boodskap oor gay-verbintenisse by www.griekwastad.co.za op 18 Oktober 2015.
Lesers kan briewe rig aan Die Redakteur, Kerkbode en dit na kerkbode@tydskrifte.co.za stuur. Korter briewe, verkieslik nie langer as 300 woorde nie, geniet voorkeur by plasing. Briewe sal redaksioneel versorg word en kan ook verkort word.
