Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Awie Viljoen van Dealesville skryf:
Ek aanvaar die heilige Skrif, wat die wil van God volkome bevat, en wat ek vir my saligheid moet glo (NGB Artikel 7).
Daarom glo ek, wanneer die Skrif vir my sê dat iets sonde is, dat dit wel so is en vermy ek dit onder God se genade, gedring deur sy liefde. Daarom glo ek dat homoseksualiteit sonde is soos Levitikus 18:22 en 20:13 dit duidelik stel.
Ek ondersteun ds Otto (Kerkbode, 22 Januarie 2016) se standpunt dat ’n huwelik tussen een man en een vrou deur God reeds met die skepping georden is en deur Homself bevestig word, nié die kerk nie. Ons weet dat alle vorme van seksuele omgang buite die huwelik ontoelaatbaar is.
Alle vorme van homoseksuele omgang is derhalwe ontoelaatbaar en word sonder uitsondering negatief beoordeel.
Die onnatuurlike seksuele omgang van twee mans of twee vroue is sonde, soos die Bybel dit onomwonde verklaar. Daar bestaan ook nie ’n regverdigbare verbintenis tussen twee persone van dieselfde geslag, om seksuele omgang te regverdig nie. Daarom is seksuele omgang tussen twee mense van dieselfde geslag steeds sonde, en sal sulke mense nie die koninkryk van God beërf nie (Gal 5:21; Ef 5:3-5; 1 Tess 4:3, 7).
God het ons geskape en geroep tot die ewige lewe en nie dié plek waar Hy nié is nie!
Ek verwerp dr Bartlett se standpunt. Daar is geen grond om die duidelikheid van die 1983-Bybelvertaling anders te lees nie.
Die vraag is, wat rig die gelowige se lewe? As gelowiges bely ons dat dit die Woord van God is wat ’n regte lewenswyse kweek. Die duidelike afwysing van homoseksualiteit in die Skrif kan nie weg verklaar word nie. Dit is nie wat die Woord sê nie. Dit vertel ook van hoe ons in Christus daarvan verlos word. Is die verlossing van Christus dan nie genoeg vir homoseksualiteit nie?
Lesers kan briewe rig aan Die Redakteur, Kerkbode en dit na kerkbode@tydskrifte.co.za stuur. Korter briewe, verkieslik nie langer as 300 woorde nie, geniet voorkeur by plasing. Briewe sal redaksioneel versorg word en kan ook verkort word.