Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Hier skei ons paaie

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Ds Gert Janse van Rensburg van Pretoria skryf:

Vooraf: Ek haat nie gay persone nie!

Die artikel deur Chris Jones in die gay-debat (Kerkbode, 19 Februarie) laat my sleg slaap. Hy vra dat ons “die uitleg van die Skrif sensitief benader.” Maar sy hantering van die Skrif is presies die punt waar ons paaie skei. Hy laat God buite rekening in sowel die geskiedenis as die ontstaan van die Bybel. Al het die verhale van Genesis 1 en 2 wanneer ook al plaasgevind en is dit wanneer ook al op skrif gestel, glo ek nog dat God die Outeur daarvan is. As Jones dit nie glo nie, is ’n sinvolle gesprek onmoontlik.

Hy, nes Bartlett in die vorige gespreksartikel, maak baie van die liefdesgebod. Maar dit vra tog nie dat ons almal in ’n huwelik of ander seksuele verbintenis tot mekaar moet staan nie.

Hy praat van gay paartjies wat “begeer om ’n familie te word” en wat toegelaat moet word “om hulself in die huwelik (of verbintenis) te verenig, waarbinne hulle kinders kan grootmaak en laat doop.” Wat my betref, kan hulle dit doen, maar hulle en Jones kan hul nie daarvoor op Genesis of enige ander Skrifwoord beroep nie.

God het die mens as man en vrou geskep, hulle geseën: wees vrugbaar. En wat Hy gemaak het was “baie goed”, wat impliseer dat hulle (man en vrou) presies aan sy doel beantwoord, onder meer om seksueel te verkeer en voort te plant. In Matteus 19 aanvaar Jesus (anders as Jones!) die Goddelike gesag van Genesis 2 en sê dat dit van die begin af so was – man en vrou word een. Kan twee mans/vroue in dié sin één wees? Geen wonder nie Paulus noem dit “teen-natuurlik” in Romeine 1.

Volgens Efesiërs en Openbaring is die kerk die bruid en Jesus die bruidegom. Hoe kan selfdegeslagverhoudings daardie verhouding tussen Christus en sy kerk uitbeeld?


Lesers kan briewe rig aan Die Redakteur, Kerkbode en dit na kerkbode@tydskrifte.co.za stuur. Korter briewe, verkieslik nie langer as 300 woorde nie, geniet voorkeur by plasing. Briewe sal redaksioneel versorg word en kan ook verkort word.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top