Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Vier stellings oor Levitikus

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Chris van Wyk van Somerstrand skryf:

Levitikus 18:22 en 20:13 verteenwoordig nie: “onteenseglik uitsprake teen homoseksuele dade wat deur heteroseksuele mans gepleeg word nie” (Kerkbode, 4 Maart). Dit is ’n interpretasie wat nie op eksegese berus nie.

Levitikus 18:22 sê as absolute apodiktiese verbod: “By ’n man (zagar) mag jy nie slaap soos jy by ’n vrou slaap nie.” Die algemene Hebreeuse term vir ’n manlike persoon word gebruik. Die seksuele daad tussen mans word afgekeur. Hul oriëntasie is van geen belang nie. Die hoeveelheid kere is van geen belang nie. Daarby word die Hebreeuse terme vir manlike prostitute nie gebruik nie: kadesh en kelev (hond), hoewel geleerdes oor die betekenis verskil (Deut 23:18-19 – BDB).

Levitikus 20:13 sê op soortgelyke wyse, as kasuïstiese gevallestudieverbod: “As daar iemand (ish) is wat by ’n manlike persoon (zagar) slaap soos by ’n vrou, het hulle albei iets afstootliks gedoen.” Enige man wat by enige ander man slaap soos by ’n vrou, word hiermee aangespreek, onafhanklik van hul oriëntasie.

’n Mens kan veral nie sê dat Levitikus van homoseksuele dade tussen heteroseksuele mans praat, en terselfdertyd beweer dat “homoseksualiteit as seksuele oriëntasie” onbekend was in Ou-Testamentiese tye nie. Dit is ’n logiese inkonsekwente inlees in die teks. Behalwe as die gevalle van selfdegeslagverhoudings by die Egiptenare (farao’s) en Assiriërs (konings) van dié tyd in berekening gebring word. Maar dan word selfdegeslagverhoudings eintlik nog sterker afgewys.

Levitikus 18 en 20 waarsku ook nie na bewering: “teen seksuele promiskuïteit” nie, maar soos tereg gesê word, na selfdegeslagseks binne “familieverhoudings”. Albei kan nie tegelykertyd waar wees nie. Om dit boonop op die insidentele aard van die seks te begrond, maak die stelling net nog meer onvanpas.

Selfdegeslagseks word in Levitikus op dieselfde wyse afgewys as enige ander seks buite die huwelik.


Lesers kan briewe rig aan Die Redakteur, Kerkbode en dit na kerkbode@tydskrifte.co.za stuur. Korter briewe, verkieslik nie langer as 300 woorde nie, geniet voorkeur by plasing. Briewe sal redaksioneel versorg word en kan ook verkort word.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top