Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

In 1 Korintiërs 6:9-11 en 1 Timoteus 1:9-10 lys Paulus ’n waarheidspieël van dinge wat ’n gelowige nie mag doen nie. Die Korintiërs se lys van “’n mens wat onreg doen” is: onsedelikes of afgodsdienaars of egbrekers (pornoi) of mense wat homoseksualiteit beoefen (malakoi oute arsenokoitai) of diewe of geldgieriges of dronkaards of kwaadpraters of bedrieërs, skryf Hannes Schulz.

Gay-debat: Met dié lyste omskryf die Bybel die sonde duidelik – Hannes Schulz

Geborg

Hierdie is 'n rubriek. Die opinies van skrywer weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Die Bybel omskryf die sonde duidelik, sê Hannes Schulz in dié bydrae oor die lyste van sondes wat in 1 Korintiërs 6:9 en 1 Timoteus 1:9-10 genoem word. 

Lees ook Gert Steyn se bydrae vir ‘n ander perspektief: Dit was losbandigheid en afgodsdiens

In Jesus se voetspoor skryf ek geen homoseksuele persoon af nie, maar poog eerder om die Bybelse liefde na vore te bring (1 Kor en 1 Tim) omdat elke gelowige volgens die “Woord van God” leef soos iemand wat aan God behoort.

Nou word God se geskiedkundige ingryping in liggaam, siel en gees aan ’n lewenstyl gemeet wat alles net vir God doen, en sluit menswaardige omgaan met ander mense in. Dit gaan oor tydlose waarhede waarin die gelowige ’n keuse vir God se koninkryk maak en dit help aantoon.

Oorgang vanaf oriëntasie na gedrag

So getuig die Algemene Sinode (AS) se 2007- en 2013-besluite byvoorbeeld wel van ’n korrekte Bybelse pad wat met homoseksueel georiënteerde gelowiges gestap word, terwyl die AS van 2015 se besluite homoseksuele dade probeer regverdig en so ’n streep deur sonde en “alleen die Bybel” trek.

Hierdie oorgang vanaf oriëntasie na gedrag skep dié probleem en ontbloot die binnenshuise Christelike debat tussen die “Woord van God” en die “Woord oor God”. In die “Woord van God” beskik die Bybel oor vetoreg, terwyl die leser se eie siening van die waarheid tans in die “Woord oor God” die vetoreg definieer. Hierdie twee standpunte is botsend en staan teenoor mekaar sodat die Bybelse verslane gnostisisme as postmodernisme oprys.

Paulus beskryf in 1 Korintiërs 6 dié onderlinge stryd tussen gelowiges en meld dat opregtes se optrede twee tydlose waarhede verteenwoordig: Eerstens is elke gelowige “geestelik een met die Here” (vers 17) en tweedens: “Julle moet God dus in julle liggaam verheerlik” (vers 20).

Paulus en skeppingsteologie

Daarom gryp Paulus terug na die skeppingsteologie in Genesis met die aanhaling “Die twee (man en vrou) sal een word” (vers 16) en toon nou dat seksuele sonde met die liggaam vermy word deur jou liggaam ’n tempel van die Heilige Gees te maak en God juis in jou liggaam te verheerlik.

Met ander woorde: Gelowiges beskik nie meer oor ’n vriendskapspieël en ’n waarheidspieël nie. ’n Vriendskap­­spieël sê dinge wat vriende graag wil hoor, terwyl die waarheidspieël dinge verwoord soos dit werklik is. Gelo­wiges werk net met ’n waarheidspieël.

Die Bybel omskryf die sonde duidelik

In 1 Korintiërs 6:9-11 en 1 Timoteus 1:9-10 lys Paulus ’n waarheidspieël van dinge wat ’n gelowige nie mag doen nie. Die Korintiërs se lys van “’n mens wat onreg doen” is: onsedelikes of afgodsdienaars of egbrekers (pornoi) of mense wat homoseksualiteit beoefen (malakoi oute arsenokoitai) of diewe of geldgieriges of dronkaards of kwaadpraters of bedrieërs.

In Timoteus word daar gepraat van “mense wat hulle nie aan wet en orde steur nie, goddeloses en sondaars, mense sonder eerbied vir wat heilig en gewyd is” en dan volg die lys: dié wat hul vader of moeder doodmaak, moordenaars, ontugtiges (pornois), mense wat homoseksualiteit beoefen (arsenokoitais), ontvoerders, leuenaars, dié wat meineed pleeg of enigiets anders doen wat met die gesonde leer in stryd is.

Paulus se woordgebruik

Aangesien Paulus in beide boeke se konteks na die Ou Testament en die skeppingsteologie terugverwys, moet ons die betekenis vanuit die konteks bepaal. Die rede: Woorde het die potensiaal om iets te beteken, maar die realiteit van die konteks bepaal die ware betekenis. Kom ons neem die woord “bank”. Dit beskik oor die poten­siaal om ’n bank te wees waarop jy sit, of ’n bank van sand in ’n rivier, of ’n bank waar jy geld trek. In die konteks: Ek gaan haal kontant by die bank is dit duidelik wat die ware betekenis volgens die potensiaal is. Jy sal redelik baie moet verduidelik as jy geld by die sandbank in die rivier gaan haal.

Net so handel die Griekse woord malakoi oor manne wat die vroulike rol of die sagte rol vertolk, terwyl arsenokoitai(s) die seksuele verhouding aantoon. Paulus gebruik arsenokoitai(s), wat eintlik twee woor­de is. Dit is saamgestel uit: arsenos wat man/manlik be­teken en koiten wat bed/getroude verhouding/sperm/bevrug/seksueel onrein beteken. Beide woor­de vind gelowiges in die Septuagint (Lev 18:22 en 20:13 – letterlik: ’n man wat by ’n man lê soos ’n man by ’n vrou lê) en toon dat Paulus dit ’n woord maak wat net in die Joodse en Christelike tradisie gebruik word. Gevolglik is homoseksualiteit korrek as een woord in die 1983-vertaling vertaal en word die wêreldse “kernhomoseksualiteit” daardeur aangespreek.

Veto van Bybelsondes?

Aangesien die dade van sonde so duidelik in die waarheidspieël van die Bybel omskryf is, sal gelowiges dit baie moeilik kan regverdig (1 Kor 6:11: “En so was party van julle juis ook. Maar julle het julle sonde laat afwas, julle is geheilig, julle is vrygespreek in die Naam van die Here Jesus Christus en deur die Gees van ons God”).

Daarom kan die AS nie dit wat negatief is, nou positief probeer maak nie. Waarom het die AS van 2015 dit nie ook reeds met alkoholisme en kleptomanie gedoen nie, waar die genetiese gronde wel deeg­lik wetenskaplik bewys is?

Gevolglik is die AS van 2015 se besluit insake homoseksualiteit nou die NG Kerk se eie bekentenis dat die menslike vetoreg inderdaad net poog om sommige Bybelsondes te veto.


No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top