Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

’n Kontemporêre verstaan van homoseksualiteit kan nie teruggelees word in die konteks van 1 Korintiërs 6 nie. Daar gaan dit eerder oor afgodery deur perverse seksuele praktyke, skryf Gert Steyn.

Gay-debat: Dié lys met sondes beskryf losbandigheid en afgodsdiens – Gert Steyn

Geborg

Hierdie is 'n rubriek. Die opinies van skrywer weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Lyste soos dié 1 Korintiërs 6:9 behoort binne die konteks van die Grieks-Romeinse agtergrond van die eerste eeu n.C. gelees te word, skryf Gert Steyn.

Lees ook Hannes Schulz se bydrae vir ‘n ander perspektief: Die Bybel omskryf die sonde duidelik

Die homoseksualiteitsdebat is ten diepste ‘n debat wat die kompleksiteit van Skrifgesag en Skrifverstaan illustreer en hoofsaaklik deur persoonlike veronderstellings en voorkeure gelei word.

Dis vanuit die verstaanskader van wat homoseksuele gedrag vandag vir ’n individu beteken en watter voorkeure of afkeure hieraan verbind word, dat die meeste gelowi­ges soek na die sanksionering van hul eie standpunte in die normatiwiteit van die Skrif.

Lees die teks in konteks

Sedert die vroegste tye het verskillende uitlegbenaderings dieselfde boodskap in verskillende kleure geverf. Reglynige verbande tussen die antieke en die hedendaagse kontekste kan nie summier gelê word wat uiteindelik ontaard in ’n soort kontekslose, letterlike lees van die Skrif asof dit direk vir vandag se mense en omstandighede geskryf was nie.

Dis binne die konteks van die Grieks-Romeinse agtergrond van die eerste eeu n.C. dat teksgedeeltes in die homoseksualiteitsdebat gelees behoort te word. Ons fokus hier vlugtig slegs op 1 Korintiërs 6:9-11.

Tien soorte “onge­regtige” mense

1 Korintiërs 5–7 is die mees omvattende bespreking oor seksuele etiek in die Nuwe Testament. Hierbinne is 6:1-11 gefokus op hofsake onder die gelowiges. Paulus herinner Korintiese gelowiges dat diegene wat betrokke raak in ongeregtighede (adikia) moet besef dat ongeregtiges (adikoi) uitgesluit word uit die koninkryk van God, omdat hulle net soos die res van die ander ongeregtiges wat genoem word in vers 6-11 nie “gewas, geheilig en geregverdig” is nie.

Vers 9-10 is ’n soort sondelys met tien soorte “onge­regtige” mense wat nie die koninkryk van God sal beërwe nie: Hierdie tien is: onsedelikes (pornoi), afgodsdienaars (eidololatrai), egbrekers (moigoi), malakoi en arse nokoitai, diewe (kleptai), geldgieriges (pleonektai), dronkaards (methusoi), kwaadpraters (loidoroi) en bedrieërs (harpages).

Ooreenkomste met ander tekste

Joodse Wet: Daar is opvallende ooreenkomste tussen die inhoud van hierdie lys en minstens vyf van die tien gebooie waarteen Jode moes waak, naamlik afgodery, egbreuk, diefstal, gierigheid en bedrog. Ander gebooie soos laster, sabbatsonderhouding, eerbied vir ouers en moord ontbreek hier in Paulus se lys. Hierteenoor lys Paulus ander sake soos onsedelikheid, die malakoi en arsenokoitai, dronkaards en kwaadpraters – morele sake wat veral in Korinte aan die orde van die dag was.

Godediens in Korinte: Talle godetempels is in Korinte ontdek, waaronder vir Afrodite, Apollo, Atena, Asklepius, Demetrius, Persephone (of Kore), Palaemon en Sisypus. Paulus verwys dan ook direk na die afgodery in 1 Korintiërs 8:4-6 en 10:14, 19-30.

Vergelyk ’n mens hierdie Griekse gode en hul kwaliteite met die gedrag van die Korintiërs waarteen Paulus die Christene aldaar in sy briewe waarsku, sinspeel hierdie lys spesifiek op die etos van immoraliteit en afgodery onder Korinte se inwoners – die eerste twee sake in 1 Korintiërs 6:9.

Die egbrekers sou Afrodite, godin van liefde en skoonheid met die bekendste tempel in Korinte, deur prostitusie vereer. Wanneer Paulus die Korintiërs waarsku teen immoraliteit (1 Kor 6:15-16) is dit waarskynlik gerig teen die kultiese prostitusie van die Afroditiese kultus. Die liggame van die gelowiges daarenteen is tempels van die Heilige Gees (1 Kor 6:18-20).

Eros en Apollo

Eros was die naak, jong seunsgod van seksuele liefde uit die verhouding tussen Afrodite en haar liefdesmaat, Ares. Hy is dikwels in die Griekse klassieke periode be­skou as beskermer van homoseksuele liefde tussen mans en jeugdiges.

In 1 Korintiërs 6:9 dui malakoi op die passiewe seksuele genoot in ’n homoseksuele verhouding teenoor arsenokoites wat op die aktiewe genoot gedui het in dieselfde konteks. Teen die agtergrond van afgodery in Korinte was die malakoi waarskynlik jong manlike prostitute wat hulself vrywillig beskikbaar gestel het vir prostitusie met ander mans teen betaling (rent boys of call boys) en met Eros geïdentifiseer het.

Apollo, met die tweede bekendste tempel in Korinte, was ’n aantreklike god, lank en goed gebou, met vloeiende haarlokke, talle verhoudings en ’n swakheid vir aantreklike jeugdige seuns. Dit was geensins vreemd in die Griekse kultuur vir veral ongetroude mans om hulle te vergryp aan geslagsgemeenskap met prostitute, slawe en ander mans nie. Sommiges meen dat die betekenis van arsenokoites in 1 Korintiërs 6:9 (en selfs 1 Tim 1:10) ­spesifiek dui op “manlike prostitusie” (masculi concubitores in die Latynse Vulgaat), of binne ’n pederastiese of ’n homoseksuele pedofiele verhouding teen betaling.

Dubbele standaard gehandhaaf

Die Romeinse wet, die Lex Scantinia, het in Korinte ’n dubbele standaard gehandhaaf in die guns van die Romeinse elite. Seksuele penetrasie van nie-Romeinse burgers, soos slawe wat vir hierdie doel aangekoop is, is deur Romeinse burgers toegelaat. Die Romeinse kriminele reg het egter diegene wat Romeinse vryburgers seksueel gepenetreer het, gestraf. Paulus veroordeel beide aspekte van hierdie seksuele gedrag.

Diewe en geldgieriges sou hulle op Hermes beroep, die vlugtige dief en boodskapper van die gode wat saam met Apollo gode van profesie was – ’n motief waarby Paulus weer sterk aansluit in 1 Korintiërs 12–14. Die dronkaards sou die god Dionysius, god van wyn, dans en allerhande orgies deur hul dade dien. Die kwaadpraters (laste­raars of skindertonge) – ’n Griekse woord slegs hier in die Nuwe Testament – en die bedrieërs sou hulle gemaklik met die stigtergod van Korinte, Sisyphus, kon identifiseer.

Die sosio-historiese konteks van die eerste eeuse Korinte is dus grotendeels ’n konteks van seksuele losbandigheid en immoraliteit wat nou verbonde met afgode­diens gepaardgegaan het. ’n Kontemporêre verstaan van homoseksualiteit kan nie teruggelees word in die konteks van 1 Korintiërs 6 nie. Daar gaan dit eerder oor afgodery deur perverse seksuele praktyke.


  • Prof Gert Steyn is verbonde aan die Departement Nuwe Testament aan die Universiteit Pretoria
  • Vir ’n meer uitvoerige bespreking, sien GJ Steyn, “Riglyne vir ’n verantwoordelike Nuwe Testamentiese verstaan in die Homoseksualiteitsdebat”, pp. 172-204, in DJ Human & CJA Vos (eds), Liefde is die grootste. Oor erotiek en seksualiteit. Pretoria: Protea Boekwinkel, 2007.
  • Lees meer oor die NG Kerk
No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top