Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

God is liefde én heilig


’n Mens se Godsbegrip speel ’n belangrike, waarskynlik ’n bepalende, rol in hoe ons dink oor verhoudinge tussen mense van dieselfde geslag. Hierby is daar twee perspektiewe as deel van Kerkbode se voortgaande gay-debat.

Lees ook André van Niekerk se bydrae.


Wat my aandag die meeste getrek het op een van hul foto’s van die Boere-krygsgevangenes wat tydens die Anglo-Boereoorlog daarheen verban is, was die opsomming wat die kurator gegee het rondom die Boere se godsdiens: “Many Boer POW’s belonged to the Dutch Reformist Church, which has its base in Calvinism, a protestant Christian system of doctrine named after John Calvin. At the centre of Calvinism is a total dependence on God. Calvinists believe people are saved by an omnipotent God, not through their own merits. Their belief produces an attitude of absolute faith in divine control over all aspects of life.”

Dit is veral die laaste sin wat my opnuut laat besef het watter bepalende rol iemand se Godsbegrip in sy of haar, óf in ’n kerklike denominasie se geloofslewe speel … ook wanneer dit by etiese kwessies kom. So is dit nie anders gestel rondom die huidige selfdegeslag-verhoudinge-debat nie.

Hoewel geen gelowige of kerklike denominasie voor die wederkoms aanspraak sal kan maak op ’n volledige Godsbegrip nie, is daar twee aspekte van God wat myns insiens in die Bybel baie sterk beklemtoon word: God is liefde én God is heilig.

Balans

Voorts is dit uiters belangrik dat hierdie twee aspekte ook in balans sal wees as deel van jou Godsbegrip … so nie kry mens allerhande skeeftrekkinge. Die kerkgeskiedenis is vol voorbeelde waar óf die heiligheid van God oorbeklemtoon is ten koste van die liefde óf waar God se liefde oorbeklemtoon is ten koste van sy heiligheid.

Na my beskeie mening is die Algemene Sinode 2015-besluit oor selfdegeslagverhoudinge ’n voorbeeld van laasgenoemde. Ek het geen twyfel nie dat diegene wat daarvoor gestem het, dit gedoen het vanuit ’n houding van liefde en deernis vir gay-persone wat nie gevra het om gay te wees nie en wat swaar kry op verskeie terreine. Ek self het in my bediening saam met verskeie gay-lidmate en hulle ouers hierdie pynlike pad geloop.

Ons as gemeente behandel gays met baie begrip en liefde. Tydens dieselfde kerkraadsvergadering waar ons ons ontevredenheid met die 2015-besluit emfaties uitgespreek het, het ons ook ’n lidmaatsaansoek van iemand wat in ’n selfdegeslagverhouding staan, gehanteer.

Sy wou juis ’n lidmaat van die NG Kerk word omdat ons gemeente dié gemeente in die dorp is wat haar en haar lewensmaat die welkomste laat voel het. Die kerkraad het haar aansoek eenparig, en met groot liefde, goedgekeur.

Maar God se liefde hang ook saam met sy heiligheid … en dít mag ons as kerk nie vergeet nie. God se heiligheid is ook nie bedoel om sy liefde te demp nie; juis om sy liefde te bestendig.

Daarom begin Eksodus 20 nie met die tien gebooie nie, maar met ’n herinnering dat hierdie God wat sy reëls nou gaan uitstippel, dieselfde God is wat sy volk verlos het … en hulle dus wil help om nooit weer slawe te wees nie … ook nie slawe van die sonde nie.

Humanisme

Miskien het ons liefdesbegrip ook langs die pad skeefgetrek geraak … die humanisme en die post-modernisme het hierin ’n beduidende rol gespeel. Wanneer liefde nie in balans is met God se heilige wil nie, kan dit baie dramatiese uitwasse hê … en slaan dit baie maklik om in liefdeloosheid.

Kom ons noem ’n praktiese en realistiese voorbeeld van hoedat die liefde, wat agter die 2015-besluit lê, baie maklik erge liefdeloosheid tot gevolg kan hê omdat die heilige wil van God nie ernstig genoeg in ag geneem is nie. ’n Jong moeder van oulike kleutertjies besef toe­nemend dat sy homoseksueel is. Ná jare van erge worsteling, en selfs ’n poging om met behulp van ’n hete­roseksuele huwelik van oriëntasie te verander, besluit sy uiteindelik om haar gesin te los en om by haar selfdegeslag-maat in te trek.

Die gesin se predikant begelei alle partye met begrip en deernis deur die egskeidingsproses. Uiteindelik word hy deur die selfdegeslag-paartjie genader met ’n versoek om hulle in dieselfde gemeente in ’n amptelike verbintenis te bevestig! Die kanse dat haar voormalige eggenoot en haar kinders dít as liefde sal beleef, is feitlik nul!

Die geweldige negatiewe reaksie wat die 2015-besluit dwarsdeur die NG Kerk ontketen het, mag nie geïgnoreer word nie … veral nie deur die voorstanders van genoemde besluit nie. ’n sinodebesluit wat ’n klein groepie voornemende gay-predikante en hul geliefdes laat jubel, maar wat honderdduisende lidmate onthuts laat, slaag nie die lakmoestoets van die liefde nie!

Ai, kon ons nie maar by die ruim 2007-besluit gebly het nie! Hoewel nie volmaak nie; daaragter was ’n gebalanseerde Godsbegrip, waarin liefde en heiligheid mekaar vasgehou het … soos Jesus Christus se optrede toe Hy gekonfronteer is met die ingewikkelde situasie rondom die owerspelige vrou (Joh 8:11)!

 

Vriende van Kerkbode

Ondersteun Kerkbode, die amptelike blad van die NG Kerk – én die oudste bestaande Afrikaanse blad in Suid-Afrika – ter wille van betroubare nuus in die kerkgemeenskap…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Kopiereg © Kerkbode 2025

Scroll to Top