Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Lees die Bybel met ’n trinitariese kompas


’n Mens se Godsbegrip speel ’n belangrike, waarskynlik ’n bepalende, rol in hoe ons dink oor verhoudinge tussen mense van dieselfde geslag. Hierby is daar twee perspektiewe as deel van Kerkbode se voortgaande gay-debat.

Lees ook Hancke van Blerk se bydrae.


Ek gesels onlangs met twee lidmate oor selfdegeslagverhoudinge. Soos dikwels gebeur, leer ek meer by hulle as hulle by my. Hulle help my om in te sien hoe ’n deurslaggewende rol ons Godsbeskouing in ons Bybelverstaan het.

My eerste gespreksgenoot se vertrekpunt is dat God die skepper van net manlike en vroulike mense is. Om selfdegeslagverhoudinge goed te wil praat, gaan lynreg teen God se natuurorde in. Wanneer ons sou wys na gay-mense wat so gebore is en geen keuse het nie, pak ons die skuld op God wat nie “sulke foute” as volmaakte Skepper maak nie.

My tweede gespreksgenoot was die ene vrae: “Sê nou maar ons is oor iets verkeerd – of dit nou oor vroue in leiersrolle of oor selfdegeslagverhoudinge is, hoe help God ons reg?”, wil sy weet. “Indien God – met Christus aan sy regterhand – die gebede van mense se swaarkry hoor, hoe reageer Hy? Hoe kry God ons om sy wil te onderskei?”

Ek leer by my gespreksgenote dat ons versigtig moet wees oor die verband tussen God, die Bybel en die natuur. Ons moenie die Bybel met God identifiseer en aanbid nie. Ons aanbid egter die lewende, handelende en sprekende God waarvan die Bybel getuig. Daarom mag ons ook nie God van die Bybel losmaak nie. Op die onderskeidingspad help dit as ons die Bybel met ’n trinitariese kompas benader.

Die Bybel behoort uit ’n Skepper-perspektief gelees te word.

God (en sy skepping) is meer as sy openbaring in die Bybel maar nie anders nie. Indien ons God met ’n sirkel voorstel, is die Bybelboodskap oor God nie ’n willekeurige stuk uit die sirkel nie maar ’n segment wat tot in die middelpunt, die hart van God, reik (H Berkhof). Die doel van God se openbaringswoord aan die Bybelgetuies is dat ons in ’n verhouding met God kan leef.

Daarom durf ons nie die Bybel lees asof alle kennis – oor die natuur, die huwelik en seksualiteit – vroeg in die “paradys” alreeds geopenbaar is nie. Trouens, ons lees dat God se wil algaande in die Bybel duideliker word. In Job en Rut – om maar twee boeke te noem – hoor ons van die groeiende openbaring dat lyding nie met God se straf vereenselwig mag word nie en dat God se heil selfs ’n Moabitiese vrou kan insluit.

In ons tyd sien ons die wonder van God in sy skepping weer goed raak. Dit beteken egter nie ons moet die natuur romantiseer deur nie die wreedhede en eien-aardighede raak te sien nie. Trouens, ’n natuurlike godskennis waarin God se wil vereenselwig met die natuur­orde of ons beperkte verstaan daarvan, moet ons teenstaan. Elke keer wanneer ons die Bybel so lees, onteer ons God want dan lei ons af dat rasmeerderwaardigheid, geslagsongelykwaardigheid of ons eie verstaan van manlik en vroulik God se wil sou wees.

God is nie ’n onveranderlike beweger of identies aan die natuur nie. God is die Skepper wat teenwoordig in sy skepping bly, die lewende God wat op mense en gebeure reageer en aan sy beelddraers verantwoordelikheid gee om die skepping te ondersoek, te versorg en lyding te bestry.

Die Bybel behoort uit ’n Christus-perspektief gelees te word.

George Bernard Shaw het opgemerk dat God mense na sy beeld gemaak het en toe herhaal mense sy guns deur God na hulle beeld te maak. Hiervoor is Christene lugtig. Daarom bely ons dat Jesus Christus vir God die duidelikste kom toon het (bv Joh 1:18; 14:9; Kol 1:15; 2:9). Christus deurbreek elke menslik-ontwerpte Godsidee hoe teologies suiwer dit mag klink (JJF Durand). Christus herstel die beeld van God en sluit aan by die profete en genoemde boeke soos Job en Rut om dit wat die geloofsgemeenskap verkeerdelik geglo het, reg te stel.

Omdat Christus die duidelikste prentjie oor God openbaar behoort Christene die hele Bybel “vanuit die eind­punt van die besondere openbaring van God in Christus Jesus” (WD Jonker) te interpreteer. Alles in die Bybel geld nie op dieselfde vlak van normatiwiteit nie. Die “onduideliker” teksgedeeltes moet in die lig van hulle historiese konteks en die duideliker dele oor Christus verstaan word. Uit ’n boek soos Galasiërs en uit die kerkhervorming sien ons die diepe geneigdheid na wettisisme. Ook die wegverklaring van die verrassende ondeurgrondelike genade van God deur byvoorbeeld God se liefde teenoor sy heiligheid te stel. Dit maak dat ons Christus, wat die wet vervul, weer na ons eie beeld vervorm.

Die Bybel behoort uit ’n Heilige Gees-perspektief gelees te word.

Die Heilige Gees skenk ons geloof, herinner aan Christus, maak lewend, bevry van wettiesheid, laat ons God se wil onderskei en oortuig ons van sonde. Die sonde van promiskuïteit, liefdeloosheid, eie­geregtigheid, selfsug, ongeloof en apatie.

Ons behoort die Bybel saam met ander gelowiges wat die gawe van die Gees ontvang het, te lees. Ook gelowiges wat as minderwaardig beskou word en vir wie God daarom ’n besondere sagte plek het. In ons luister na ander moet ons die Gees nie ‘bedroef’, ‘weerstaan’ en ‘uitblus’ deur stemme gering te skat, nie behoorlik na mekaar te luister en profete soos vroeër te misken nie. God se eer is immers weer in die gedrang!

Vriende van Kerkbode

Ons benodig jou ondersteuning om ons digitale reikwydte te vergroot deur woord, video en die Kerkbode-podsending…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Kopiereg © Kerkbode 2025

Scroll to Top